Sleutels tot gebede wat beantwoord word (4)

2022-06-08
Hebreërs 4:16 NLV

Vrymoedigheid. Vrymoedigheid is nie arrogansie, aanmatiging of vermetelheid nie. Dis selfvertroue, gebaseer op wie jy in Christus is. Paulus skryf: ‘Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God. Hy sal aan ons sy deernis en onverdiende goedheid bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word’ (vers 16 NLV).

Jy het as verloste kind van God die reg om Hom enige tyd te nader. Wanneer jy dit verstaan, stel dit jou in staat om Satan se pogings om jou onwaardig te laat voel, te weerstaan. Dit verwyder jou natuurlike neiging om te sê: ‘Ek weet dat God dit kan doen, maar dis moeilik om te glo dat Hy dit vir my sal doen.’ Jy dink op hierdie manier wanneer jy onwaardig voel. Die heerlike waarheid is egter dat Jesus jou waardig gemaak het! (sien Kolossense 1:12).

Genade is eenvoudig onverdiende goedheid. God sal dit wat jy nie verdien nie vir jou gee, wanneer jy die vrymoedigheid het om Hom daarvoor te vra. Jy vra dit mos ook in Jesus se naam, nie jou eie nie. Jy bied aan die Vader alles wat Jesus is, nie alles wat jy is nie.

Wanneer jy egter versteekte sonde in jou hart het, kan jy nie met vrymoedigheid bid nie. Onbelyde sonde sluit jou toe en sluit God uit (sien Psalm 66:18). Die goeie nuus is egter dat wanneer jy vir God vra om jou sonde te openbaar, Hy dit sal doen. Jy moet dit dan hanteer indien jy die kommunikasielyne oop wil hou. Wanneer God jou aan ‘n situasie herinner waar jy nie die regte ding gedoen het nie, moenie dit onder die mat probeer invee nie. Erken dit, ontvang sy vergifnis en gaan dan voort om met vrymoedigheid te bid.

Sielskos: Op 1-4; Matt 15:15-28; Ps 129; Spr 12:27-28

Vergewe en vergeet

2022-04-18
Kolossense 3:13 NLV

Indien jy ‘n suksesvolle verhouding wil bou, moet jy op die ander persoon se sterkpunte, in plaas van hulle swakpunte, fokus. Benjamin Franklin het gesê: ‘Hou jou oë voor die tyd wawyd oop en na die tyd halfmas oop.’ Dis ‘n fout om te vinnig ‘n lewenslange verhouding aan te knoop sonder om die tyd te neem om eers die ander persoon te leer ken. As jy nie voor die tyd omsigtigheid aan die dag lê nie, sal jy na die tyd probleme hê.

‘n Belangrike verhoudingsbeginsel lê egter daarin om te leer om te vergewe en te vergeet. Vergifnis kan baie moeilik wees wanneer die oortreding groot is. Klein oortredings kan gewoonlik maklik en vinnig vergewe word; groot oortredings verg ‘n proses van genesing. Totdat jy egter besluit om te vergewe en te vergeet, kan hierdie proses nie begin nie.

Paulus skryf: ‘Julle is die mense wat God uitgekies het… Daarom moet julle die volgende soos klere aantrek: deernis, vriendelikheid, nederigheid, sagmoedigheid, geduld. Verdra mekaar en… vergewe mekaar. Vergewe mekaar soos die Here julle vergewe het. Die heel belangrikste wat julle moet aantrek, is die liefde. Die liefde bind alles volmaak saam’ (verse 12-14 NLV).

Een skrywer stel dit so: ‘As jy nie van iets hou nie, verander dit. As jy dit nie kan verander nie, verander jou houding daar teenoor. Moenie kla nie.’ Met ander woorde, wanneer jy iets nie kan verander nie, bid vir genade en leer om daarmee saam te leef.

Hoekom is dit nodig dat ons vergewe en vergeet? Omdat God so sê! Jy is nie ontwerp om die fisiese en geestelike stres wat met wrokkigheid gepaard gaan, te dra nie. Buitendien: Jy mag dalk self vergifnis nodig hê voor die dag verby is (sien Galasiërs 6:1).

Sielskos: 1 Kor 1-3; Luk 24:13-24; Ps 56; Spr 10:8-9

Vergewe ander mense (2)

2022-02-26
Jeremia 31:18 NLV

Die Bybel sê vir ons: “[Isak] het die putte wat sy pa gegrawe het… weer oopgegrawe… Maar die plaaslike skaapwagters het die fontein vir hulleself toegeëien. ‘Dis ons water,’ het hulle gesê… Hy het weer verskuif en nog ‘n put gegrawe. Hierdie keer het die plaaslike mense hom met rus gelaat. Hy noem toe die put Rehobot, ‘want,’ het hy gesê, ‘uiteindelik het die Here vir ons ruimte gemaak. Hier sal ons nou voorspoedig wees'” (Genesis 26:18-22 NLV).

Wat ‘n wonderlike voorbeeld van vergifnis wat beoefen word. Gedurende ‘n droogte het Isak putte grawe, maar sy vyande het inbeweeg en die putte vir hulself toegeëien. Dit was nie regverdig nie, maar in plaas daarvan om te baklei, het Isak aanbeweeg en nuwe putte gegrawe – en God het hom ryklik geseën.

Die waarheid is dat God die leegheid in jou lewe sal vul wanneer jy diegene wat jou seergemaak het, vergewe. So lank as wat ons hierdie planeet met ander onvolmaakte mense deel, sal hulle ons seermaak. Ons kan dit nie vermy nie. Wanneer die wond diep sny, kan dit moeilik wees om te vergewe.

Beteken dit dat jy moet rondgaan en maak asof niks verkeerd is nie en jou gevoelens moet ontken? Nee, die eerste stap na genesing is om jou gevoelens te erken. Jesus het vir ons die tweede stap gegee: ‘…Bid vir hulle wat jou seermaak’ (Lukas 6:28 NLV). Wanneer jy dit doen, gebeur daar iets onverwags. Jou hart begin sag word en jy begin om die oortreder deur God se oë, in plaas van jou eie rou emosies, te sien. ‘Maar ek wil hulle nie vergewe nie!’ sê jy. Dan is daar stap drie. Erken jou onwilligheid om te vergewe en vra God om jou gewillig te maak. Bid: ‘…Bring ons terug en herstel ons…’

Sielskos: Eks 4-6; Luk 12:1-12; Ps 58; Spr 6:12-15

Jou hart moet besny wees

2021-12-29
Deuteronomium 30:6 NLV

Hebreeuse babaseuntjies is volgens kerkgebruik besny. Dit het aangedui dat hulle in ‘n verbondsverhouding met God is waarin Hy beloof om hulle te beskerm, te lei en te seën. In die Nuwe Testament, het Paulus hierdie kerkgebruik ‘vergeestelik.’ ‘…die ware besnydenis… is die besnydenis van jou hárt wat deur die Gees van God verrig word…’ (Romeine 2:29 NLV). Geestelik gesproke beteken besnydenis dat ons enigiets wat verkeerde impulse en optredes in ons bevorder, ‘afsny.’

Jesus het gesê: ‘Gelukkig is dié wie se harte volkome op God gerig is, want hulle sal vir God sien’ (Matteus 5:8 NLV). Wanneer jou hart rein is, sal jy God kan sien waar ander mense nie kan nie en Hom kan hoor wanneer ander mense nie kan nie. Die woord ‘rein’ kan ook as ‘sonder besoedeling’ verstaan word. Dis die verskil tussen ‘n helder stroom en ‘n besoedelde stroom. Dit beteken dat jy jou selfgesentreerde denke agterlaat en jou vleeslike natuur kruisig.

Die verskil tussen vergifnis en reiniging is soos die verskil om ‘n onkruid teen die grond af te sny, of dit met wortel en al uit te trek. Vergifnis hanteer die ‘resultaat’ van sonde – dis maklik om te identifiseer. Reiniging hanteer die ‘oorsaak’ van sonde – wat nie so maklik is om te identifiseer nie, omdat dit jou natuurlike eienskappe en karakterfoute insluit. Vergifnis word deur belydenis meegebring, terwyl jy in die lig moet wandel om gereinig te word. ‘As ons optrede egter van die lig getuig, leef ons soos Hy wat in die lig is… en die bloed van Jesus, sy Seun, maak ons skoon van alle sonde’ (1 Johannes 1:7 NLV).

Vra jy oor en oor vir God om dieselfde sondes te vergewe? Dis omdat jy ware reiniging moet ervaar. Jou hart moet besny word. Dis ‘n werk vir die Heilige Gees.

Sielskos: 1 Kor 12-14; Matt 2:16-23; Ps 139:13-24; Spr 31:28-29

Vier Kersfees! (1)

2021-12-25
Hosea 14:8 DB

Die woord ‘vier’ beteken om te verbly, te verlustig en te waardeer. Jack Hayford skryf: ‘Daar is so baie wat in die naam van Kersfees gedoen word wat Christus nie verbly of eer nie. Desondanks bevind ek myself waar ek teen godsdienstige mense wat glo dat amper elke Kerstradisie verkeerd is, stry. Hulle is teen versierings, kersbome, of sommer net pret, asof sulke deelname iets heiligs besoedel. Sulke harde sienings is egter onnodig. ‘n Kersboom is ‘n spesifieke stelling. Deur middel van hierdie boom sê ons dat ons in die viering van Kersfees glo. Ons dien ‘n God wat ‘…aan ons ryklik alles skenk wat ons nodig het om die lewe te geniet’ (1 Timoteus 6:17 NLV), en wat deurgaans in die geskiedenis deel van sy volk se feesvieringe is: ‘Hulle het in die Here se teenwoordigheid feesgevier en gedrink en was daardie dag vol vreugde…’ (1 Kronieke 29:22 NLV).

Alhoewel niemand kan sê dat die Bybel ons beveel om kersbome te hê nie, kom ons met vreugde rondom ons bome bymekaar. Ons sien sy lewendige takke as ‘n simbool van die ewige lewe wat Jesus se dood aan die kruis vir ons gegee het. Hy het vir ons vergifnis en ewige hoop gegee. Die kersliggies is ‘n getuienis van sy lig in die wêreld en van sy heerlikheid. Die ornamente reflekteer die dekoratiewe prag waarmee sy goedheid ons lewens versier. Die ster straal hoop uit en herinner ons dat die Here weer sal kom om ons te ontvang.’

Soos julle hierdie Kersfees om die boom bymekaarkom, moenie vergeet om die Een wat: ‘…Ek is die lig vir die mensdom. Wie My aanhou volg, sal nooit in die duisternis leef nie, maar sal die lig hê wat lewe gee’ (Johannes 8:12 NLV), gesê het, te vier nie.

Sielskos: Jes 9:1-7; Matt 1:18-25; Miga 5:2-5a; Jes 7:14