Bid vir die begeerte om te vergewe

2023-08-28
Jeremia 31:18 AFR53

Wanneer iemand mens seermaak, is ons eerste instink om terug te slaan. Ons weet dis verkeerd, omdat die Bybel sê dat ons moet vergewe om sodoende vergewe te word (sien Markus 11:25). Ons weet ook dat bitterheid ons fisies en emosioneel skade kan doen. Soms kan ons onsself egter net nie sover kry om te vergewe nie, dus hou ons aan om daarmee in ons gedagtes te stoei.

Stop en dink wat in ‘n stoeigeveg gebeur. Jy fokus op jou opponent, klou aan hulle vas en probeer hulle beheer. Jou doel is om hulle op die mat neer te pen en hulle te onderwerp, wat al jou energie verg. Jy neem ook die risiko om self in die proses seer te kry. Die enigste ware mag wat jy oor iemand wat jou seermaak het, is die mag van vergifnis. Vergewe hulle dus ter wille van jouself en beweeg aan! Selfs al is jy nie lus om te vergewe nie, bid: ‘…Bekeer my, dan sal ek my bekeer, want U is die Here my God.’ Met ander woorde: ‘Here, maak my gewillig om te vergewe.’

Klein oortredings kan vinnig vergewe word, maar grotes benodig goddelike bystand. Jy kan dit ontvang: ‘Dis mos God wat julle gewillig maak om te doen waarvan Hy hou, en Hy gee julle ook die vermoë om dit te kán doen!’ (Filippense 2:13 NLV). Ja, jy wil dalk hê dat jou oortreder moet swaarkry, maar as jou grootste begeerte is om die Here te behaag, sal Hy jou die genade gee om te vergewe. Wanneer jy die seëninge wat God in die toekoms vir jou in gedagte het besef, sal jy weier om nog een oomblik in die verlede vasgevang te bly.

Sielskos: Gal 1-3; Mark 8:27-38; Ps 119:145-160; Spr 19:1-2

Jy het slegs twee opsies: vergifnis of bitterheid

2023-08-25
Matteus 18:21 NLV

Die Bybel sê: “Daarop kom vra Petrus Hom: ‘Hoeveel maal moet ek ‘n medegelowige vergewe wat iets verkeerds teen my gedoen het? Selfs tot sewe maal toe?’ ‘Nee,’ verseker Jesus hom, ‘nie tot sewe maal toe nie, maar tot sewentig maal sewe toe!'” (verse 21-22 NLV). Sewentig maal sewe is gelyk aan 490 keer. Dis jou medegelowige, iemand saam met wie jy moet lewe of werk, wat jy geroep is om te vergewe. In wese het Jesus gesê: ‘Vergewe en hou aan om te vergewe as jy ‘n verhouding met hierdie persoon wil hê.’

Kom ons erken dit, ons almal maak foute, omdat ons op verskillende maniere gebrekkig is. Volmaaktheid bestaan net in God. Onthou Jesus se woorde: ‘…Vader, vergewe hulle, want hulle besef nie wat hulle doen nie!’ (Lukas 23:34 NLV).

Terwyl dit heeltemal normaal is om woede te voel en dit ‘n natuurlike menslike reaksie is om mishandel te voel, is daar ‘n groot verskil tussen gesonde woede en die bytende emosie van bitterheid. Bitterheid is kanker vir ‘n verhouding. Soos dr Maya Angelou gesê het: ‘Bitterheid teer op die gasheer. Dit doen niks aan die onderwerp van die onvergenoegdheid nie.’

Jesus het gesê: ‘Doen aan ander wat jy wil hê hulle aan jou moet doen’ (Lukas 6:31 NLV). Deur die mate van vergifnis aan te bied wat jy wil ontvang, verseker jy dat jou verhouding gesond en vry van die siekte van bitterheid bly. Is dit soms moeilik om te doen? Ja, maar as jy bid, sal God jou die genade gee om dit te doen!

Sielskos: Rig 16:1-19:15; Mark 8:1-13; Ps 119:129-136; Spr 18:21

Stappe na vergifnis (2)

2023-03-25
Lukas 6:37 NLV

Hier is nog drie stappe na vergifnis: 1) Aanvaar mense soos hulle is en moet hulle nie probeer verander nie. Dit hou jou net aan hulle vasgeketting, terwyl jy jouself kwel oor wat hulle gedoen het en eis dat hulle op maniere wat jy goedkeur, moet optree. Niks maak mense minder gewillig om te verander as wanneer jy hulle probeer beheer en eis dat hulle aan jou vereistes moet voldoen nie. Om mense te verander is nie jou werk nie – dis God s’n! Jou werk is om te kies om te vergewe en die uitkoms in God se hande te los.

2) Sien jou oortreder as God se instrument vir jou groei. Dis makliker om iemand te vergewe wanneer jy ophou om hulle as Satan se agent wat gestuur is om jou te vernietig te sien en hulle as God se instrument om jou te ontwikkel, begin sien. Josef se lewe is ‘n sprekende bewys van hierdie beginsel. Die pad wat hom van die put tot die paleis geneem het, was met onreg, teleurstelling en verraad geteer. God het egter elke pynlike gebeurtenis gebruik om hom by sy lotsbestemming uit te bring. God kan dieselfde vir jou doen.

3) Probeer om met jou oortreder te versoen. Versoening is in God se aard. ‘Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is…’ (Romeine 5:10 AFR83). Wat God vir jou gedoen het, wil Hy hê moet jy aan die een wat teenoor jou oortree het, doen. Jesus het versoening ‘n hoofprioriteit gemaak deur te sê: ‘los jou offer net daar voor die altaar en gaan maak eers vrede… Kom dan terug en bring jou offer’ (Matteus 5:24 NLV). Ja, dit sal onbaatsugtigheid en nederigheid van jou kant af verg, maar die opbrengs is die belegging werd!

Sielskos: Job 24-28; Luk 21:1-11; Ps 38:1-12; Spr 8:22-23

Stappe na vergifnis (1)

2023-03-24
Kolossense 3:13 NLV

Die ellende om met onvergifnis in jou hart te lewe, duur altyd langer as die pyn van die oortreding. Altyd! Wanneer jy aan wrokkigheid vashou, maak jy die deur vir depressie en fisiese siektetoestande oop. Vergifnis genees jou wonde en herstel jou vreugde. Hier is twee stappe om jou te help om te vergewe:

1) Onthou dat jy onvoorwaardelik vergewe is. Onthou God se genade teenoor jou en die prys wat vir jou vergifnis betaal is. Wanneer jy weier om genade te betoon, is jy soos die man wat Jesus gesê het van ‘n enorme skuld kwytgestel is, maar geweier het om ‘n ander man se skamele skuld aan hom te vergewe (sien Matteus 18:23-34). Die genade wat God aan jou bewys het, laat jou met geen rede om te weier om die persoon wat jou seergemaak het, te vergewe nie.

2) Bevry die oortreder van die skuld wat hulle aan jou verskuldig is. Jy mag dalk heeltemal geregtig wees om te sê: ‘Hulle skuld my vir dit wat hulle gedoen het!’ Jou vriende mag dalk saamstem. Die wet mag dalk saamstem en jy mag dalk dink dat die enigste manier hoe jou oortreder gaan leer om te doen wat reg is, is wanneer hulle vir hulle fout boet. Solank as wat jy egter aan jou ‘regte’ vashou, word jy aan die verlede vasgeketting. Jou toekoms word deur die verlede gyselaar gehou.

Jou oortreder se sonde teen jou is deur dieselfde opofferende liefde wat jou sondeskuld gekanselleer het betaal, dus het hulle dieselfde behoefte en reg tot vergifnis as wat jy het. Vergifnis is ook nie net tot hulle voordeel nie, maar tot joune ook: ‘…As julle ander vergewe, sal julle vergewe word’ (Lukas 6:37 NLV).

Sielskos: Job 21-23; Luk 20:27-47; Ps 55:12-23; Spr 8:19-21

Moenie terugkyk nie (1)

2022-12-29
Jesaja 43:18-19 NLV

In die woorde van die legendariese bofbalspeler Satchel Paige: ‘Moenie terugkyk nie. Iemand mag dalk besig wees om jou in te haal.’ Dis goeie raad! Paulus stel dit as volg: ‘…ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê’ (Filippense 3:13 NLV).

Ellen Vaughn skryf: ‘Voor ons geestelike lewenskrag werklik kan vloei, moet ons drie dinge vergeet. [Ons kyk vandag na twee daarvan]. 1) Ons moet ons sondes vergeet. Natuurlik moet ons ons sondes onthou sodat ons hulle kan bely. Nadat ons dit egter gedoen het, moet ons hulle laat gaan. Die rekord van ons sonde word by God uitgewis, asof dit nooit bestaan het nie. Satan wil ons graag verlei om met skuld en vrees te lewe. Hy herinner ons aan ons ergste sondes en laat dit oor en oor in ons gedagtes afspeel. Ons moet baie duidelik hier wees, anders sal ons die bevrydende punt misloop. Dit is nie asof vergifnis slegs werklik is as ons een of ander soort heilige geheueverlies ervaar nie. Dit hang nie van ons af nie. Dit hang van God af en die Skrif sê dat God ons sondes vergeet (sien Hebreërs 8:12).

2) Ons moet ons skaamte vergeet. Paulus kon ‘n uitstekende kandidaat vir skaamte gewees het. Hy het die teistering, tronkstraf, marteling en moord op onskuldige mense gelei. God se genade is egter sterker as ons skaamte. Skaamte het sy byt verloor toe Jesus gesterf het en weer opgestaan het. Ons kan ons skaamte vergeet, want Jesus het dit op Homself geneem. Hy het dit geminag, verslaan en gebreek. Ons hoef dit nie terug te neem nie.’

Die woord vir jou vandag is dus: ‘Vergeet al die dinge wat in die verlede gebeur het… Ek gaan iets nuuts doen…’

Sielskos: Sag 10-14; Spr 31:22-24