Vergifnis kom eerste, gevoelens later

2024-11-10
Psalm 37:8 NLV

Klein oortredings kan maklik vergewe word. Wanneer iemand ons egter baie seermaak en lyk of hulle daarmee wegkom, kan vergifnis ‘n groot uitdaging wees. Totdat jy die oortreding vergewe en dit laat gaan het, sal jy voortdurend voel hoe die gewig daarvan jou afdruk. Een van die grootste foute wat jy kan maak as dit by vergifnis kom, is om te dink dat wanneer jou gevoelens teenoor iemand nie dadelik verander nie, jy hulle nog nie regtig vergewe het nie. Nee, vergifnis is ‘n besluit. Dis ‘n daad van jou wil. Jy mag dalk steeds met gevoelens van seer en gegriefdheid sukkel. Dit maak nie jou besluit om te vergewe ongeldig nie; dit beteken slegs dat genesing tyd neem. Jou genesing begin die oomblik wat jy besluit om te vergewe.

Die Bybel sê: ‘Raak saam met alle ander slegte dinge ontslae van alle bitterheid… Wees eerder vriendelik met mekaar. Gee vir mekaar om. Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het’ (Efesiërs 4:31-32 NLV). Wanneer jy jou deel, om te vergewe, gedoen het moet jy God vertrou om sy deel, om jou emosies te genees en jou vrede en vreugde te herstel, te doen. Jy het die mag om die besluit om te vergewe te maak, maar net God het die mag om jou gevoelens teenoor die persoon wat jou seergemaak het, te verander. Vertrou dus op God om jou hart te verander. Jou gevoelens sal uiteindelik volg en in lyn met jou besluit kom.

Intussen: ‘Wees stil in die Here, en wag geduldig op Hom. Moenie die mens beny wat op sý manier floreer, of jou verknies oor sy bose planne nie. Moenie kwaad word nie; laat staan eerder jou woede. Moenie ander beny nie; dit lei net tot jou nadeel’ (Psalm 37:7-8 NLV).

Sielskos: Job 1; Job 2:7-10; Job 40:1-5; Job 42:7-17

God se goedheid lei tot goddelikheid

2024-08-05
Romeine 2:4 NLV

Onthou jy die vrou wat ‘n albaste fles met aromatiese olies geneem en Jesus daarmee gesalf het? Die Bybel sê: “Toe die Fariseër wat die gasheer was, sien wat gebeur en wie die vrou is, het hy vir homself gesê: ‘Dit bewys dat Jesus geen profeet is nie. As God hom werklik gestuur het, sou hy geweet het watter soort vrou hom aanraak. Sy is ‘n sondaar!'” (Lukas 7:39 NLV). Mensgemaakte godsdiens het hierdie vrou oor haar verlede veroordeel, maar Jesus het haar gereinig en weer heel gemaak. ‘Ek sê vir jou, haar sondes – en dit is baie – is vergewe, en daarom bewys sy My baie liefde. Maar iemand vir wie min sondes vergewe is, betoon maar min liefde!’ (vers 47 NLV). Jesus het geweet wat hierdie vrou gedoen het, maar Hy het ook geweet wat sy kan word wanneer sy genade haar lewe aanraak.

Hoe meer jy besef hoeveel jy vergewe is – letterlik al jou sondes – hoe liewer sal jy die Here hê. God se vergifnis lei nie tot ‘n sondige leefstyl nie, dit lei tot ‘n lewe wat die Here Jesus verheerlik. ‘…Besef jy nie dat God so goed is vir jou omdat Hy vir jou tyd wil gee om tot inkeer te kom nie?’ Die woord ‘inkeer’ beteken om om te draai en die teenoorgestelde te doen. Veroordeling bring nie ‘n regverdige lewe voort nie, maar die kennis van God se genade en goedheid teenoor ons wel.

Simon die Fariseër het gedink dat sy aanvaarding deur God op sy prestasie gebaseer was; daarom het hy eiegeregtig geword. Wanneer jy besef hoe baie en hoe gereeld God jou vergewe het, sal jy nog liewer word vir God en die begeerte ontvang om Hom in alles wat jy doen, te behaag.

Sielskos: 1 Joh 3:11-5:21; Luk 11:1-13; Ps 78:40-55; Spr 20:4-6

Bid vir die begeerte om te vergewe

2023-08-28
Jeremia 31:18 AFR53

Wanneer iemand mens seermaak, is ons eerste instink om terug te slaan. Ons weet dis verkeerd, omdat die Bybel sê dat ons moet vergewe om sodoende vergewe te word (sien Markus 11:25). Ons weet ook dat bitterheid ons fisies en emosioneel skade kan doen. Soms kan ons onsself egter net nie sover kry om te vergewe nie, dus hou ons aan om daarmee in ons gedagtes te stoei.

Stop en dink wat in ‘n stoeigeveg gebeur. Jy fokus op jou opponent, klou aan hulle vas en probeer hulle beheer. Jou doel is om hulle op die mat neer te pen en hulle te onderwerp, wat al jou energie verg. Jy neem ook die risiko om self in die proses seer te kry. Die enigste ware mag wat jy oor iemand wat jou seermaak het, is die mag van vergifnis. Vergewe hulle dus ter wille van jouself en beweeg aan! Selfs al is jy nie lus om te vergewe nie, bid: ‘…Bekeer my, dan sal ek my bekeer, want U is die Here my God.’ Met ander woorde: ‘Here, maak my gewillig om te vergewe.’

Klein oortredings kan vinnig vergewe word, maar grotes benodig goddelike bystand. Jy kan dit ontvang: ‘Dis mos God wat julle gewillig maak om te doen waarvan Hy hou, en Hy gee julle ook die vermoë om dit te kán doen!’ (Filippense 2:13 NLV). Ja, jy wil dalk hê dat jou oortreder moet swaarkry, maar as jou grootste begeerte is om die Here te behaag, sal Hy jou die genade gee om te vergewe. Wanneer jy die seëninge wat God in die toekoms vir jou in gedagte het besef, sal jy weier om nog een oomblik in die verlede vasgevang te bly.

Sielskos: Gal 1-3; Mark 8:27-38; Ps 119:145-160; Spr 19:1-2

Jy het slegs twee opsies: vergifnis of bitterheid

2023-08-25
Matteus 18:21 NLV

Die Bybel sê: “Daarop kom vra Petrus Hom: ‘Hoeveel maal moet ek ‘n medegelowige vergewe wat iets verkeerds teen my gedoen het? Selfs tot sewe maal toe?’ ‘Nee,’ verseker Jesus hom, ‘nie tot sewe maal toe nie, maar tot sewentig maal sewe toe!'” (verse 21-22 NLV). Sewentig maal sewe is gelyk aan 490 keer. Dis jou medegelowige, iemand saam met wie jy moet lewe of werk, wat jy geroep is om te vergewe. In wese het Jesus gesê: ‘Vergewe en hou aan om te vergewe as jy ‘n verhouding met hierdie persoon wil hê.’

Kom ons erken dit, ons almal maak foute, omdat ons op verskillende maniere gebrekkig is. Volmaaktheid bestaan net in God. Onthou Jesus se woorde: ‘…Vader, vergewe hulle, want hulle besef nie wat hulle doen nie!’ (Lukas 23:34 NLV).

Terwyl dit heeltemal normaal is om woede te voel en dit ‘n natuurlike menslike reaksie is om mishandel te voel, is daar ‘n groot verskil tussen gesonde woede en die bytende emosie van bitterheid. Bitterheid is kanker vir ‘n verhouding. Soos dr Maya Angelou gesê het: ‘Bitterheid teer op die gasheer. Dit doen niks aan die onderwerp van die onvergenoegdheid nie.’

Jesus het gesê: ‘Doen aan ander wat jy wil hê hulle aan jou moet doen’ (Lukas 6:31 NLV). Deur die mate van vergifnis aan te bied wat jy wil ontvang, verseker jy dat jou verhouding gesond en vry van die siekte van bitterheid bly. Is dit soms moeilik om te doen? Ja, maar as jy bid, sal God jou die genade gee om dit te doen!

Sielskos: Rig 16:1-19:15; Mark 8:1-13; Ps 119:129-136; Spr 18:21

Stappe na vergifnis (2)

2023-03-25
Lukas 6:37 NLV

Hier is nog drie stappe na vergifnis: 1) Aanvaar mense soos hulle is en moet hulle nie probeer verander nie. Dit hou jou net aan hulle vasgeketting, terwyl jy jouself kwel oor wat hulle gedoen het en eis dat hulle op maniere wat jy goedkeur, moet optree. Niks maak mense minder gewillig om te verander as wanneer jy hulle probeer beheer en eis dat hulle aan jou vereistes moet voldoen nie. Om mense te verander is nie jou werk nie – dis God s’n! Jou werk is om te kies om te vergewe en die uitkoms in God se hande te los.

2) Sien jou oortreder as God se instrument vir jou groei. Dis makliker om iemand te vergewe wanneer jy ophou om hulle as Satan se agent wat gestuur is om jou te vernietig te sien en hulle as God se instrument om jou te ontwikkel, begin sien. Josef se lewe is ‘n sprekende bewys van hierdie beginsel. Die pad wat hom van die put tot die paleis geneem het, was met onreg, teleurstelling en verraad geteer. God het egter elke pynlike gebeurtenis gebruik om hom by sy lotsbestemming uit te bring. God kan dieselfde vir jou doen.

3) Probeer om met jou oortreder te versoen. Versoening is in God se aard. ‘Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is…’ (Romeine 5:10 AFR83). Wat God vir jou gedoen het, wil Hy hê moet jy aan die een wat teenoor jou oortree het, doen. Jesus het versoening ‘n hoofprioriteit gemaak deur te sê: ‘los jou offer net daar voor die altaar en gaan maak eers vrede… Kom dan terug en bring jou offer’ (Matteus 5:24 NLV). Ja, dit sal onbaatsugtigheid en nederigheid van jou kant af verg, maar die opbrengs is die belegging werd!

Sielskos: Job 24-28; Luk 21:1-11; Ps 38:1-12; Spr 8:22-23