‘n Gebed vir selfbeheersing

2017-11-05
1 Tessalonisense 4:3 NLV

Toe God vir Adam en Eva geskep het, het Hy vir hulle gesê, ‘Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde…’ (Genesis 1:28 NLV). Dit help verduidelik hoekom seks een van ons sterkste drange is. Dit kan jou egter ook voortdryf om besluite te neem wat jou lewe opmors en jou verhoudings vernietig. Die Bybel sê: ‘Dit is God se wil… Weerhou julle van seksuele sondes… Tree op soos mense wat aan God behoort en wat sy eer soek. Moenie uit seksuele drange ‘n lewensmaat soek soos die mense wat God nie ken nie’ (1 Tessalonisense 4:3-5 NLV). Hoekom het God dit gesê? Omdat iemand gaan seerkry wanneer daar fisiese intimiteit sonder ware toewyding is. Jy moet luister na wat God oor hierdie kwessie sê. Jy moet nou luister, voor jy jou in situasies bevind waar jy in die versoeking kom om jou karakter in gevaar te stel, want teen daardie tyd is dit reeds te laat. Ons almal baklei met ons seksualiteit, veral in ‘n kultuur waar ‘seks verkoop.’ Seks is ‘n onlosmaakbare deel van ons en skuldgevoelens daaroor het ‘n manier om ons verwyderd van God te laat voel, soos niks anders kan nie. Om jou waardes te bepaal en kernreëls te vestig, het jy nodig om die volgende te bid: ‘Here, ek gaan nie toelaat dat my impulse my dikteer nie, of dat sonde my van U skei nie. Ek kies om by u standaarde te hou, om op u Gees staat te maak om my daagliks krag te gee. Ek bid ook vir krag dat indien ek wel sondig, ek die moed sal hê om vir vergifnis te vra, weer op te staan en nader aan U te beweeg.’ Dit is ‘n gebed wat God sal antwoord!

Sielskos: 2 Kon 6:1-7; Matt 14:22-33

Vergifnis en innerlike genesing

2017-10-26
Psalm 103:3 DB

Die Psalmdigter het geskryf, ‘Dit is Hy wat my vergewe as ek verkeerde dinge doen. Hy maak my gesond.’ Kyk mooi, die wete dat Hy al jou sondes vergewe, vind voorkeur bo die genesing van jou siektes. Hy vergewe al jou sondes. Sommige van ons is gemaklik daarmee om net gedeeltelike vergifnis te ontvang, omdat ons weier dat God se vergifnis sommige donker areas aanraak wat ons nie kan laat gaan nie, en waarvoor ons weier om onsself voor te vergewe. Wat daardie foute ook al mag wees, laat God toe om al jou sondes te vergewe en ontvang genesing vir al jou siektes. Laat die verlede gaan. Laat jouself toe om vry te wees en leer om jouself te vergewe deur met ‘n oop hart God se totale en volkome vergifnis te aanvaar. Hou op om jouself seer te maak, omdat Jesus vir al jou sondes seergemaak is. Hou op om jouself te straf, omdat Jesus al jou straf namens jou aan die kruis ontvang het. Dit is tyd om op te hou om jouself af te vra of jy genoeg gedoen het om God se vergifnis en aanvaarding te verdien. Jy kan dit nie verdien deur te sukkel en jou eie krag te gebruik nie; jy kan dit net deur genade ontvang. As jy vir iemand wat jy liefhet ‘n verjaarsdaggeskenk gee en hulle dring daarop aan om daarvoor te betaal, hoe sou jy voel? Seergemaak? Ontsteld? Dis hoe God voel wanneer jy sy vergifnis, genesing en regverdigheid probeer ‘verdien’. Hoe meer jy die waterval van God se genade en vergifnis elke dag oor jou laat vloei, hoe meer sal jy sy gesondheid vir jou liggaam en sy rus vir jou siel ontvang.

Sielskos: Jes 22-25; Joh 6:16-24; Ps 114; Spr 28:1-4

Bely jou sonde

2017-10-20
Psalm 32:5 NLV

Wanneer jy opsetlik sondig, rebelleer jy teen God se leiding in jou lewe – en voel jy sleg daaroor. Om daaroor sleg te voel, is ‘n bewys dat jy ‘n verloste kind van God is, anders sou jou sonde jou nie gepla het nie. Dink aan ‘n tiener wat vir sy pa sê, ‘Ek is regtig jammer, maar ek het Pa se kredietkaart gebruik om bier vir my en my vriende te koop.’ Die kans is daar dat sy pa dit dalk nooit sou agterkom nie, veral as hy nie sy bankstate dophou nie. Sy seun se skuldige gewete het dit egter na die oppervlak gebring en hy het gesê, ‘Pa, ek moes nie die bier gekoop het nie. Ek moes nie jou kredietkaart daarvoor gebruik het nie. Jy het my vertrou en ek het jou teleurgestel. Ek is jammer en ek sal dit nie weer doen nie.’ Dít is belydenis. Dis wat ons in ons gebede moet doen. Die Griekse woord wat as belydenis vertaal word, beteken ‘om met God saam te stem.’ Wanneer ons ons sondes bely, stem ons wat ons sonde wat deur sy Woord en die Heilige Gees geopenbaar word betref, saam met God. Wanneer ons bely, verbaliseer ons ons sonde en ontvang ons reiniging en vergifnis. Ja, belydenis is dikwels pynlik, maar dit hou ons gemeenskap met ons Hemelse Vader skoon, oop en naby. Dis nie dat God ophou om vir ons lief te wees nie, maar dat ons voel dat ons Hom nie meer met vertroue kan nader nie. Het jy ‘n sonde om te bely? ‘As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede’ (1 Johannes 1:9 NLV).

Sielskos: Jes 1-3; Joh 4:39-54; Ps 5; Spr 27:13-16

Kies dankbaarheid

2017-07-19
Psalm 103:2 NLV

Hy het so depressief gelyk waar hy op die park se bankie gesit het, dat ‘n polisieman hom probeer troos het. ‘Is iets verkeerd?’ ‘Ja,’ het die man geantwoord. “‘n Paar maande terug het my oupa vir my R500 000 en ‘n paar olieputte nagelaat.” ‘Dit klink nie na iets om oor ontsteld te wees nie,’ het die polisieman gesê. ‘Ja, maar jy ken nie die hele storie nie. Verlede maand het my oom my R1 000 000 nagelaat.’ Die polisieman het sy kop geskud. ‘Ek verstaan nie. Hoekom is jy so ongelukkig?’ Die man het geantwoord. ‘Sover het niemand nog hierdie maand vir my iets nagelaat nie!’ Daar is sekere mense wat ongelukkig is, maak nie saak wat hulle het nie. Die Psalmdigter wys ons hoe om ‘n ondankbare houding te oorkom deur ‘n gees van dankbaarheid aan te neem. ‘Ek wil die Here prys en nie sy goeie dade vergeet nie.’ Om te dink en om dankie te sê gaan hand aan hand. Herinneringe is ‘n katalisator vir danksegging. Die Psalmdigter moedig ons aan om drie dinge te doen: Eerstens, dink aan wat God ons gegee het – sy vergifnis, genesing, beskerming, verlossing, liefde en barmhartigheid (sien verse 1-5). Tweedens, dink aan wat God ons nie gegee het nie – die straf wat ons sonde verdien (sien verse 8-12). Derdens, dink aan wat God ons nog gaan gee. ‘Maar die liefde van die Here is altyd daar vir hulle wat Hom dien’ (vers 17 NLV). God aanvaar jou wanneer jy op Christus se optrede vertrou, nie op jou eie nie. Kyk dus elke oggend in die spieël en sê, ‘Ek wil die Here prys en nie sy goeie dade vergeet nie.’

Sielskos: 2 Sam 22:31-24:25; Mat 26:47-56; Ps 146; Spr 18:23-24