Moenie die duiwel ‘n vastrapplek gee nie

2019-03-21
Efesiërs 4:26-27 NLV

Die Bybel sê: ‘…Moenie tot die aand toe kwaad bly, en die duiwel so ‘n houvas gee nie.’ Woede gee vir die duiwel grond om op te beweeg. Bitterheid nooi hom in om spasie in jou hart te kom beset. Wanneer jy dit doen, sal hy sy intrek neem en die plek met dinge soos skinderstories, laster en humeurigheid laat stink – enige tyd wanneer jy een van hierdie dinge doen, het jy vir Satan ‘n vastrapplek gegee. Wat moet jy dan doen? Gooi hom uit. Moenie ‘n sekonde van jou dag aan hom afstaan nie. Sê vir hom om in die Naam van Jesus sy tasse te pak en die pad te vat. Begin die proses van vergifnis. Moenie boekhou van die kwaad wat mense aan jou gedoen het nie. Bid vir jou vyande, eerder as om planne teen hulle te smee. Haat die verkeerde dade, sonder om die oortreders te haat. Begin om te fokus op dit wat Jesus vir jou gedoen het, eerder as op dit wat die oortreders aan jou gedoen het. So verregaande soos wat dit dalk mag klink, het Jesus ook vir hulle gesterf. As Hý dink dat hulle vergifnis verdien, dan verdien hulle dit. Maak dit vergifnis maklik? Nee. Dit kom met stampe en stote en het goeie en slegte dae. Sommige dae wanneer jy dink dat jou wond genees het en dat jy heeltemal daar oor is, sal iemand die rofie afstamp en die pyn sal terugkeer. Moet jou nie daaroor bekommer nie. Wanneer dit by vergifnis kom, is ons almal beginners. So lank as wat jy probeer om te vergewe, vergewe jy. Dis wanneer jy nie meer probeer om te vergewe nie, wat jy die duiwel ‘n vastrapplek gee.

Sielskos: Job 32-34; Luk 19:11-19; Ps 55:12-23; Spr 8:19-21