Hoe om mense te help (1)

2018-03-18
Handelinge 3:1 NLV

Die Bybel sê: ‘Petrus en Johannes was een middag op pad tempel toe. Dit was drie-uur, die gebedstyd. Net tóé word daar ‘n man aangedra wat van sy geboorte af lam was. Mense het hom daagliks laat sit… om by die tempelgangers te bedel. Petrus en Johannes wou net… ingaan, toe hy hulle sien en ‘n bydrae by hulle vra. Petrus kyk hom toe… stip aan, en sê: ‘Kyk na ons!’ Die verlamde man kyk toe na hulle in die verwagting dat hy ‘n bydrae gaan kry. Maar Petrus sê: ‘Geld het ek nie. Maar wat ek het, dít gee ek vir jou: Op gesag van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop!’ Petrus vat die man toe aan sy regterhand en help hom op. En onmiddellik het sy voete en enkels gesond en sterk geword’ (verse 1-7 NLV). Let twee dinge op: 1) Wonderwerke gebeur in allesdaage oomblikke. Hierdie man was heel waarskynlik aan Petrus en Johannes bekend, hulle het daagliks verby hom geloop. Hierdie dag was egter anders. Bonatuurlike geloof het in Petrus se hart opgekom en hy het die geleentheid aangegryp om God te verheerlik. 2) Jy moet voorbereid wees wanneer jou oomblik aanbreek. Jy kan nie gee wat jy nie het nie. Jy kan nie vertel wat jy nie weet nie. Jy kan nie deel wat jy nie voel nie. Niks word skielik geskep nie; dit neem tyd. Drie en ‘n half jaar van wandel met Christus, die aanhoor van sy boodskappe en die sien van sy wonderwerke, het die apostels vir hierdie oomblik voorberei. So ook die tien dae wat hulle pas in die kamer gevul met die Heilige Gees deurgebring het. Die woord vir jou vandag is dus: Om mense te kan help, moet jy voorbereid wees!

Sielskos: Gal 5:22; 1 Kor 13; Ef 3:14-21; Joh 15:1-17

‘Here, wat moet ek doen?’ (2)

2017-12-04
Filippense 2:13 ABA

Nog ‘n manier hoe God jou sal lei, is: Deur die innerlike aansporing van die Heilige Gees. Jy sal nie jou kinders toelaat om in die moeilikheid te kom as jy dit kan keer nie – en God sal ook nie. ‘want dit is God wat in julle harte werk en wat julle lus maak om die dinge te doen wat Hy graag wil hê…’ God sal jou die begeerte gee om sy wil te doen, plus die krag om dit te doen. Jy vra, ‘Maar hoe kan ek God se stem herken?’ Met tyd, deur toetse, deur ervaring en die meeste van alles, deur intimiteit met Hom. Wanneer ‘n geliefde jou bel, het hulle nie nodig om te sê, ‘Hello, dit is jou man of vrou wat praat nie.’ Jy ken hulle stem! Dis noodsaaklik om te leer om die innerlike aansporing van die Heilige Gees te herken, omdat jy die meeste probleme nie self sal kan oplos nie. ‘Die Here bepaal ‘n mens se lewe. Hoe kan ‘n mens verstaan wat met hom gebeur?’ (Spreuke 20:24 NLV). Wanneer alles oor en verby is, sal jy sê, ‘Ek het eerlikwaar nie self hierdie probleem opgelos nie. Dit moes God gewees het.’ Hoe langer jy saam met God wandel, hoe minder sal jy weet hoekom Hy jou lei soos Hy doen, maar jy sal verseker weet dat Hy jou wel lei. Hierdie wete sal jou keer op keer na Hom toe terugtrek om sy leiding te soek. Die apostel Judas het gesê, ‘…Maar nou voel ek verplig om aan julle te skryf en julle aan te spoor om aan te hou stry vir die geloofsbelydenis…’ (Judas vers 3 NLV). Daardie woorde – ‘nou voel ek verplig’ – is niks anders as die innerlike aansporing van die Heilige Gees nie.

Sielskos: Gen 30:25-31:55; Joh 13:18-38; Ps 2; Pred 3:1-4

Geestelike groei (2)

2017-11-27
1 Korintiërs 13:11 NLV

Mense met ‘n sterk geloof kan jou minderwaardig laat voel as jy jouself met hulle vergelyk. ‘n Bybelonderwyser skryf: ‘Ek het daardie geloofshelde bewonder wie se fleurige getuienisse almal geïnspireer het. Hulle het so veranderd, so seker van hulself, so stabiel voorgekom. Ek het gedink dat God se liefde volgens ‘n merietesisteem uitgedeel word. As ek vandag goed doen, sal Hy my liefhê. As ek misluk, sal Hy nie. Wat ‘n wipwarit! Ek het nie besef dat enigiets wat gebore word, tyd nodig het om te groei en in volwassenheid te ontwikkel nie. Ek het ‘n onmiddellike, kragtige, allesomvattende metamorfose verwag wat my in perfeksie sou transformeer.’ Voel jy dieselfde, asof daar iets verkeerd is met jou omdat jy nooit opmeet nie? Indien dit die geval is, lees die volgende: ‘Toe ek nog klein was, het ek gepraat soos ‘n kind, gedink soos ‘n kind, geredeneer soos ‘n kind. Maar noudat ek volwasse is, het ek die dinge van ‘n kind ontgroei.’ Jy begin as ‘n geestelike baba, dan word jy ‘n geestelike kind, dan ‘n geestelike tiener en uiteindelik word jy ‘n geestelike volwassene. Jy ‘arriveer’ egter nooit. Met jou doen-dit-jouself, vinnige geestelikheid sal jy net ander mense met ‘n valse sin van heiligheid probeer beïndruk. Dit sal jou keer om eerlik met God te wees en sal jou laat dink dat jy verder op jou geestelike reis is as wat jy regtig is. Onthou jy toe jy as kind jou ma se hoëhakskoene of jou pa se werkstewels aangetrek het? Maak nie saak hoe graag jy wou nie, jy kon hulle nie maak pas nie. Dit beteken nie daar was iets fout met jou nie; dit het net beteken dat jy op presies die regte plek vir jou ouderdom was.

Sielskos: Gen 13-16; Joh 11:45-57; Ps 118:10-18; Spr 31:10-13

Wat om te doen terwyl jy wag

2017-10-06
Psalm 40:1 NLV

Enigiets wat goed gebou word, word stadig en versigtig saamgestel. Ongeduld is ‘n teken van onvolwassenheid. Probeer om die volgende te verstaan: Jou ongeduld gaan nie God vinniger laat beweeg nie. Hy werk volgens sy eie skedule. Paulus skryf, ‘En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk… volgens sy doel vir hulle lewe’ (Romeine 8:28 NLV). Net omdat die deur nog nie oopgemaak is nie, beteken nie dat God van plan verander het nie. Die tydsberekening mag dalk nie reg wees sodat Hy maksimum glorie en jy maksimum voordeel daaruit sal kry nie. Wat moet jy dus doen terwyl jy wag? Twee dinge: 1) Bid vir God se wil. Moenie toelaat dat dinge in jou lewe inkom wat teenstrydig daarmee is nie, veral nie haas en bekommernis nie. Jy moet weet hoe om jou tyd, energie en geld te allokeer, insluitend met wie jy tyd moet spandeer en met wie nie. God sê, ‘Ek maak die einde bekend vanaf die begin…’ (Jesaja 46:10 NLV). Voor God enigiets begin, het Hy reeds ‘n duidelike beeld van die einddoel en bepaal Hy die stappe wat jou daarheen sal lei. 2)Verbly jouself terwyl jy wag. ‘Selfs al sal die vyebome nie bot nie en die wingerd sonder druiwe staan, al het die olyfoes misluk, en lewer die landerye niks op nie, al vergaan die kleinvee in die veld en is die beeskrale leeg, tog, ten spyte van alles, sal ek my verbly in die Here! Ek sal juig oor God wat my verlos!’ (Habakuk 3:17 NLV). Begin vandag om God te bedank vir alles wat Hy reeds gedoen het en wat Hy in die toekoms om jou ontwil gaan doen. Hy sal dit doen – Hy sal absoluut vir jou deurkom.

Sielskos: Eks 7-9; Joh 1:1-13; Ps 29; Spr 26:4-6

Dinge wat afgesny word, dinge wat gesnoei word

2017-10-01
Johannes 15:2 NLV

Jesus sê: ‘Ek is die egte druiwestok en my Vader is die tuinier. Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af. Elkeen wat egter vrugte oplewer, snoei Hy sodat dit nog meer vrugte kan dra’ (verse 1-2 NLV). Let twee dinge op: 1) God sny sekere dinge af. Dinge waarmee jy gemaklik is, maar in die pad van jou vordering staan. Dinge wat Hy nie vir jou gekies het nie. Dinge wat vir jou probleme gaan meebring. Dinge wat jy weier om te verander. Dinge wat klaar hulle doel gedien het. 2) God snoei sekere dinge. ‘n Vrugteboom wat onlangs gesnoei is, lyk verseker nie op sy beste nie. Wanneer God dinge in jou lewe begin snoei om jou in ander rigtings te stuur, mag jy dalk ook nie so goed lyk nie. Soms beteken dit dat jy dinge moet laat gaan wat jy gedink het altyd daar sal wees, of dat jy jou prioriteite moet herrangskik, of dat jy met minder vir ‘n rukkie moet klaarkom, of dat jy nie in staat is om aan jou geliefdes te verduidelik hoekom jy deur die snoeiproses gaan nie. Sap wat lewe gee wat in ‘n droë tak vloei is egter vermors! So ook tyd, aandag en energie wat vir eerste dinge bestem is maar aan tweede en derde dinge gegee word. Verstaan mooi: God weet wat in jou lewe afgesny moet word en wat in jou lewe gesnoei moet word. Al mag jy nie verstaan wat Hy doen nie, bid steeds: ‘Stuur wie U wil en neem weg wie U wil. Ek sal U loof as hulle kom en ek sal U loof wanneer hulle gaan, omdat u goedkeuring my beloning is en u doel die rede vir my lewe is.’

Sielskos: Ef 5:21-33; Hoog 2:1-7; Spr 5:15-19