2018-05-25
Romeine 12:8 NLV
Ons sê, ‘Dis nie my verantwoordelikheid nie. Ek wil nie betrokke raak nie!’ Het jy al ooit hierdie woorde gesê? Jy mag dalk dink dat jy ‘n goeie rede gehad het – miskien was dit ‘n ongerieflike tyd – maar die punt is dat jy nie aangebied het om iemand in nood te help nie. Jy is nie alleen nie. Navorsing wys dat die neiging om betrokkenheid te vermy wêreldwyd aan die toeneem is. Nietemin is dit ‘n Bybelse mandaat om ‘daar te wees’ vir ander mense; dis die praktiese toepassing daarvan om God en jou naaste lief te hê (sien Matteus 22:37-39). Krisisse doen hulle gewoonlik op drie maniere voor: 1) Situasie krisisse wat ernstige siektes, die dood van ‘n geliefde of die ineenstorting van familieverhoudings insluit. Die patriarg Job het almal van hulle ervaar! 2) Krisisse wat as gevolg van die verloop van tyd ontwikkel – om die huis te verlaat, om universiteit toe te gaan, huweliksaanpassings, ouerskap, aftrede of gesondheid wat afneem. Abraham en Sara het van hierdie tipe krisisse geweet. Hulle het hulle huis en familie verlaat en jare van kinderloosheid verduur. Toe het God hulle nog boonop gevra om hulle ‘wonderwerk’ seun te offer. 3) Self-bewuste krisisse is wanneer jy ontstellende waarhede oor jouself ontdek – jy word vertel dat jou siekte, menslik gesproke, nie behandelbaar is nie, of jy sien jouself as ‘n mislukking omdat jy te oud voel om jou lewensdoelwitte te bereik. Miskien staar die realiteit jou in die gesig dat jy geskei of ‘n wewenaar of weduwee is, of jy voel as gevolg van jou agtergrond verwerp. Mense soos Elia en Jona is voorbeelde van self-bewustelike krisisse. Laat enige van hierdie voorbeelde jou aan iemand dink? Wees dan daar vir hulle.
Sielskos: Rig 12-15; Mark 11:1-11; Ps 97; Spr 13:9-10
2018-05-22
Psalm 107:13-14 NLV
God is in die besigheid om mense te bevry – moreel en geestelik. Toe die Israeliete in slawerny vasgevang was, ‘…het hulle geroep, en Hy het hulle uit die nood bevry’ (vers 13 NLV). Jesus doen dit steeds vandag, en ‘As die Seun van God dus sê julle is vry, is julle regtig in God se gesin vry’ (Johannes 8:36 DB). Volg dus hierdie stappe na vryheid: 1) Roep God aan. Hy het gesê, ‘As julle heelhartig na My soek, sal julle My vind’ (Jeremia 29:13 NLV). Israel se roep het herhaaldelik uit die hart gekom en God reageer steeds op hartsroepe. Verlossing begin by die erkenning van jou totale afhanklikheid van Hom. In plaas daarvan om dit alles op jou eie te hanteer, sê die Bybel, ‘Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om’ (1 Petrus 5:7 NLV). 2) Voed jou siel geestelik. Jesus het gesê, ‘Ek is die brood wat lewe gee… As iemand van hierdie brood eet, sal hy vir altyd lewe…’ (Johannes 6:51 NLV). As jy van God se Woord eet en jou gevoelens in gebed deel, sal Hy jou las ligter maak en jou siel voed. Hy het gekom om ‘…aan te kondig dat gevangenes vrygelaat sal word… dat onderdruktes bevry sal word…’ (Lukas 4:18 NLV). Neem tyd om oor God se Woord te mediteer. Reflekteer daarop totdat jy verstaan hoe dit op jou lewe van toepassing is. Kennis sonder die toepassing daarvan is nutteloos. Vryheid benodig die daaglikse inname van die Skrif en die toepassing daarvan op jou huidige omstandighede. ‘Gelukkig is die mense wat… vreugde vind in die gebooie van die Here en sy voorskrifte dag en nag oordink’ (Psalm 1:1-2 NLV). Doen dit elke liewe dag – en wees vry!
Sielskos: Rig 4-6; Mark 10:13-22; Ps 88:9b-18; Spr 13:4-6
2018-05-20
Spreuke 31:11 NLV
As jy ‘n gelukkige huwelik wil hê, moet jy altyd hierdie twee dinge in gedagte hou: 1) Moet nooit jou maat in die openbaar verneder nie. Wanneer jy dit doen, verneder jy jouself. Salomo skryf, ‘Waar sal jy ‘n knap vrou kry? ‘n Goeie vrou is meer werd as edelstene. Haar man het volkome vertroue in haar… Haar hele lewe lank bring sy vir hom net voordeel…’ (verse 10-12 NLV). Iemand het gesê, ‘Voor jy jou maat se smaak kritiseer, stop en onthou dat hy/sy jou gekies het!’ Die feit is dat ons almal diep binne in ons gewoontes, swakhede, worstelinge, fantasieë, herinneringe uit ons kindertyd en onuitgesproke begeertes het. Ons hunkering na iemand om te vertrou is diep en onveranderlik. Dis hoekom God die huwelik ontwerp het om ‘n veilige hawe in ‘n gevaarlike wêreld te wees. As jy nie jou maat kan vertrou nie – wie kan jy dan vertrou? 2) Koester altyd gedeelde drome en doelwitte. Deesdae skei ‘n skokkende hoeveelheid paartjies tussen die sewentiende en vyf-en-twintigste huweliksjaar. Weet jy hoekom? Dis gewoonlik wanneer die laaste kind met skool of universiteit klaar maak en die huis verlaat. Nou is dit net die twee van julle. As jy al jou tyd spandeer het om op jou kinders te fokus en mekaar verwaarloos het, word jy eendag wakker en voel of jy saam met ‘n vreemdeling leef. Hoe vermy mens dus hierdie situasie? Deur lewenslange doelwitte en drome te hê waarnatoe beide van julle werk. Onthou, julle is meer as net ouers – julle is mense – en God het ‘n plan vir julle lewens as paartjie. As julle dit nog nie ontdek het nie, praat daaroor en bid dan en vra dat God dit aan julle sal openbaar. Dis ‘n gebed wat Hy sal beantwoord!
Sielskos: Lev 23:15-22; Hand 2:1-18
2018-04-28
Spreuke 17:27 NLV
Dis nie genoeg om die regte antwoorde te hê nie; jy het die regte benadering nodig. Goeie idees en raad word gemors wanneer jy dit by mense se kele afdruk. Wysheid beteken om die regte ding, op die regte tyd, op die regte manier te sê. ‘Iemand wat kennis het, praat nie baie nie. Iemand met insig bly kalm.’ Jou pogings om iemand te help verander sal misluk, of erger, hulle wegstoot, tensy jy hulle met liefde en nederigheid benader. Die meeste mense weet reeds wat hulle probleem is. Die kans is goed dat hulle al ‘n rukkie daarmee worstel en diep binne-in hulle wil hulle beter doen. ‘Mooi woorde is soos heuning; dit is goed vir die gees en bevorderlik vir sy lewe’ (Spreuke 16:24 NLV). Jesus het gesê, ‘en julle sal begryp wat die waarheid beteken, en die waarheid sal julle vrymaak’ (Johannes 8:32 NLV). As mense dus nie die waarheid op die manier wat jy dit deel wil aanvaar nie, is die probleem dalk deels joune. Die voormalige Amerikaanse Senaat Kapelaan, Richard Halverson, skryf: ‘Jy kan jou idees aan mense as koeëls of as sade aanbied. Jy kan hulle skiet of hulle saai. Idees wat as koeëls gebruik word maak inspirasie en motivering dood. Idees wat as sade gebruik word skiet wortel, groei en dra vrugte in die lewe waarin hulle geplant is. Daar is egter ‘n risiko hieraan verbonde: Sodra dit deel word van die persoon waarin dit geplant is, sal jy waarskynlik geen krediet vir jou oorspronklike idee kry nie. As jy egter gewillig is om sonder die krediet klaar te kom, sal jy ‘n groot oes hê.’ Die woord vir jou vandag is dus: Kies die regte benadering.
Sielskos: Hand 22-23; Mark 5:11-20; Ps 144:9-15; Spr 11:12-13
2018-04-09
Hebreërs 1:3 NLV
Is jy so gefokus op jou moeilikhede dat jy vergeet dat God se Woord sê: ‘U goedheid en trou vergesel my al die dae van my lewe…’ (Psalm 23:6 NLV)? Ons weet van Job se teëspoed, maar ons vergeet dikwels dat dit net vir ‘n kort seisoen in ‘n andersins baie geseënde lewe was. Die tyd wat Josef in die tronk spandeer het is deur die jare van invloed en voorreg wat hy as die regterhand van die farao geniet het, oorskadu. Sukkel jy om jou seëninge te geniet omdat jy bang is dat dit nie gaan hou nie? Miskien het jy so gewoond aan teenspoed geraak dat jy jouself heeltyd daarvoor staal. Dit is tyd dat jy jouself ophou bekommer en begin om in God se beloftes aan jou te glo! Hy het jou nie sover gebring om jou net te verlaat nie. Nee, Hy het jou ‘…uitgekies om jou in staat te stel om te gaan vrugte dra…’ Dis God se plan dat jy blywende vreugde en sukses sal geniet! Die Bybel sê, ‘…Deur sy magtige bevel, hou [die Seun] die ganse heelal in stand…’ God spreek nie iets oor jou lewe uit en laat dit dan uitmekaar val nie. Hy sê, ‘…die woord wat uit my mond kom… [sal] die doel bereik waarvoor Ek dit gestuur het’ (Jesaja 55:11 NLV). In Genesis 1:14 sê God, ‘…Laat daar ligte wees in die hemelruim sodat dag en nag onderskei kan word…’ Raai wat? Dieselfde son skyn vandag omdat die Woord dit so beveel het – en dit sal môre ook skyn. As God dit vir ‘n lewelose objek soos die son sal doen, dink jy nie dat Hy ook vir jou sal sorg nie? Jy moet glo dat jy deur God geroep en gekies is!
Sielskos: Jer 33:1-36:26; Mark 1:35-39; Ps 32; Spr 9:10-16