Hou op uitstel en doen dit!

2018-12-16
Lukas 9:61 NLV

Wanneer jy jou geld vermors of dit verloor, is daar ‘n kans dat jy dit kan terugkry. Jy kan egter nooit vermorste of verlore tyd terugkry nie. Een van die hartseerste verhale in die Skrif word in hierdie woorde gevind: “‘n Ander een het gesê: ‘Ja, Here, ek sal U volg, maar ek wil eers my familie gaan groet.'” Nêrens is dit egter aangeteken dat hy Jesus gevolg het nie. Uitstel en perfeksionisme loop hand aan hand. Ons sê, ‘As ek dit nie reg kan doen nie, doen ek dit eerder glad nie!’ Nee, voor jy dit regkry, sal jy dit heel waarskynlik eers verkeerd doen. In elke suksesverhaal is daar hoofstukke van sukkel, maar hulle is hoofstukke van leer en groei. ‘n Studie is by Yale Universiteit gedoen. Seniors wat op die punt was om hulle graad te behaal, is oor die gevare van tetanus ingelig en is ‘n gratis inenting daarteen by die gesondheidsentrum aangebied. Terwyl die meerderheid van die studente oortuig was dat hulle die inenting nodig gehad het, raai hoeveel het opgevolg en die inenting gaan kry? Drie persent! ‘n Ander groep is dieselfde lesing aangebied, maar hulle het ook ‘n kopie van die kampuskaart gekry waarop die gesondheidsentrum in rooi omsirkel was. Hulle is toe gevra om na hulle weeklikse skedule te kyk en ‘n tyd te bepaal wanneer hulle die inspuiting kon gaan kry. Raai wat? Nege keer meer studente is ingeënt. Goeie bedoelings is nie genoeg nie. Jy moet die oproep maak of die saak aanpak. Jy moet die spertyd bepaal of die afspraak maak. ‘Vandag’ is die môre waarvan jy gister gepraat het. Hou dus op om uit te stel en doen dit!

Sielskos: Heb 11:1-6; Matt 21:18-22; Matt 8:5-13; Mark 6:1-6

Vriende in vermomming

2018-09-23
2 Korintiërs 12:10 NLV

Wanneer jy beledig word, kan jy met ‘n bitsige antwoord reageer, of dit as ‘n geleentheid vir groei sien. Dawid het gesê, ‘Die lyding was goed vir my, want toe het ek u voorskrifte geleer’ (Psalm 119:7 NLV). Die sielkundige dr Brenda Shoshanne sê: ‘Die persoon wat ons beledig is ‘n onderwyser, wat ons help om ons ego te verminder, geduld en deernis te ontwikkel, onvoorwaardelike vergifnis uit te oefen en ons van die lewe en verhoudings te leer. As jy ‘n belediging nie as ‘n belediging sien nie, maar as ‘n les of ‘n gawe, verloor dit sy mag om jou seer te maak. Op ‘n praktiese vlak, wanneer jy beledig word, moenie iets sê nie. Gee jouself tyd. Baie skade word veroorsaak deur terug te slaan, die situasie te eskaleer en dinge te sê wat jy nie bedoel nie. Besef dat dit jou ego is – die valse sin van trots wat te voorskyn kom – en moenie daarmee saam gaan nie.’ Paulus het op ‘n plek gekom waar hy tevrede was met beledigings. Die meeste van ons is nog nie heeltemal daar nie, maar met tyd en oefening kan ons daar kom. Met betrekking tot Judas, skryf ‘n outeur: ‘God sal soms die aksies van ons vyande manipuleer om hulle as vriende te laat werk om Sy wil in ons lewens te vervul. Hy kan jou deur die slegste verhoudings seën, selfs die wat wat pynlik en negatief is. Die tyd, inspanning en pyn wat ons in hulle belê, word nie gemors nie omdat God weet hoe om teenspoed te gebruik om jou te help om jou doel in die lewe te vervul. Op die ou einde sal jy die genade vind om jou vyande te herevalueer en te besef dat, soos Judas, hulle vriende in vermomming is.’

Sielskos: 1 Kon 17:1-6; 1 Kon 18:16-39; 1 Kon 19:9-18; 2 Kon 2:1-12

Verhoudings en oordenkings

2018-09-10
2 Petrus 3:18 NLV

Daar is twee dinge wat help om persoonlike groei te bepaal: 1) Jou verhoudings. Die Bybel sê, ‘Sal twee mense saam op reis gaan sonder om eers af te spreek om dit te doen?’ (Amos 3:3 NLV). Die geselskap waarin jy jou bevind sal jou oplig, jou ewenaar, of jou verlaag. ‘n Dame het hierdie brief aan ‘n raadgewer by ‘n tydskrif geskryf: ‘In my laaste jaar van skool het my Engelse onderwyser my opstel gevat en dit voor die hele klas opgeskeur. Ek was verneder – ek het dom gevoel. Dit was jare gelede en ek het dit nog nooit vergeet nie. In ‘n paar kort sekondes het die verkeerde persoon hierdie dame se self-waarde vir ‘n leeftyd afgetakel. 2) Jou oorwegings. Toe ‘n Sondagskoolonderwyser ‘n dogtertjie gevra het, ‘Wie het jou gemaak?’ het sy geantwoord, ‘God het ‘n deel van my gemaak.’ Die onderwyser het gevra, ‘Wat bedoel jy?’ Die dogtertjie het geantwoord, ‘God het my klein gemaak – en ek het die res self gegroei.’ God hou ons vir ons eie persoonlike groei verantwoordelik. Die Psalmdigter het geskryf, ‘Ek het meer insig as my leermeesters, want ek oordink u waarskuwings’ (Psalm 119:99 NLV). Die woord ‘meditasie’ beteken ‘oorwegende denke.’ Soos ‘n stadige oond, laat meditasie jou denke toe om te prut totdat hulle gereed is. Die meeste van ons sal eerder optree as wat ons dink. Ons sukkel byvoorbeeld om gefokus te bly. Ons vind die proses vervelig en ons geniet dit nie regtig om tyd te spandeer om oor moeilike kwessies te reflekteer nie. As jy egter nie tyd vir oorweging en meditasie maak nie, sal jy nie volwasse word nie. Jy sal nie in die ‘onverdiende goedheid en kennis’ wat jy nodig het om sukses te behaal, groei nie. Dis so eenvoudig.

Sielskos: Num 29:1-6; Matt 24; Op 11:15-19; 1 Kor 15:50-58

Vriendskap se beloning (1)

2018-06-25
Spreuke 18:24 DB

Die Bybel sê, ‘In tye van nood leer jy jou vriende ken. Sommige praat net, maar doen niks nie. Ander sal alles vir jou doen. Hulle is nader aan jou as ‘n broer.’ Gloria Gaither wys uit dat ware vriende besorg is oor wat jy besig is om te word. Hulle kyk verby die huidige en gee diep om oor jou as algehele persoon. Terwyl dit tyd en energie neem om hierdie tipe vriendskap te bou en te onderhou, is die voordele veel meer as die belegging daarin. Ware vriende: 1) Help jou op wanneer jy geval het. ‘Twee is beter as een… As een mens val, kan sy vriend hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie’ (Prediker 4:9-10 NLV). 2) Haal die druk van jou af. Maak nie saak hoe lief hulle vir jou is en wil help nie, soms is jou familie te naby aan die situasie om objektief te wees. Oor sulke gevalle, sê die Bybel, ‘Eerlike raad van ‘n vriend is so aangenaam soos parfuum…’ (Spreuke 27:9 NLV). 3) Laat jou lag. Wanneer ‘n goeie lagsessie presies is wat jy nodig het, sal vriende jou help om die humor in ‘n situasie te sien – gewoonlik omdat hulle al self daar was! Soos Hazel C. Lee sê, ‘Om vir onsself en saam met ander mense te lag, bring ‘n verrassende gevoel van samesyn mee.’ 4) Hou jou aanspreeklik. Het jy al agtergekom wanneer jy in teenstelling met God se Woord optree, dit maklik is om jouself te flous? Dis dan wanneer die teregwysing van ‘n vriend jou weer op die regte pad kan bring. Dank God dus vir goeie vriende wat jou lief genoeg het om eerlik met jou te wees, selfs wanneer dit seermaak.

Sielskos: 2 Kor 9:1-11:15; Luk 2:8-20; Ps 144:9-15; Spr 16:4-7

Jou persoonlike voorsiener

2018-06-24
Psalm 23:5 NLV

Toe die Psalmdigter gesê het, ‘Die Here is my herder…’ (vers 1 NLV), het hy bevestig dat hy ‘n baie persoonlike verhouding met God gehad het; een wat uniek was. God het vir elkeen van ons ‘n unieke persoonlikheid, gawes, doelwitte en roeping gegee. Hy wil met jou ‘n verhouding hê wat heeltemal anders is as die verhouding wat Hy met enigiemand anders het. Net soos jou vingerafdrukke uniek is, so is God se interaksie met jou uniek. Jy moet dus leer hoe om sy stem te hoor en te weet wanneer Hy spesifiek met jou praat. Die Psalmdigter gaan voort om te sê, ‘U berei vir my ‘n feesmaal voor…’ Dink so daaroor na. Wanneer jy by ‘n restaurant vir ‘n tafel wag en jou naam is op die waglys, gee die gasvrou soms vir jou ‘n toestel om vas te hou. Wanneer daar vir jou ‘n tafel oopgaan, sal hierdie toestel vibreer of ‘n liggie laat flikker. Intussen is jy seker dat hulle besig is om vir jou ‘n tafel voor te berei en as jy geduldig is, sal die toestel, wanneer die tafel gereed is, begin vibreer en jou laat weet. Kry jy die idee? As jy God se Woord lees en tyd met Hom in gebed spandeer, begin iets in jou gees vibreer en laat dit liggies flikker. Dis God se ‘toestel’ wat jou lei, rig en die omstandighede vir jou voorberei. Paulus skryf, ‘Omdat Christus Jesus dit verdien het, sal my God uit sy ontsaglike rykdom vir julle voorsien in elke behoefte wat julle het’ (Filippense 4:19 NLV). Hoeveel van jou persoonlike behoeftes sal God voorsien? Almal van hulle! Hou dus op om jouself so baie te bekommer en plaas jou vertroue in Hom!

Sielskos: Matt 5:5; Num 12:1-15; Ps 37:1-9; Fil 2:5-11