Begin God daarvoor dank

2019-04-02
Josua 1:11 NLV

Wanneer God sê dat Hy iets vir jou ‘gegee’ het, beteken dit dat jou naam op die titelakte is. Wanneer Hy vir jou sê om dit ‘in besit te neem,’ beteken dit dat jy dalk daarvoor sal moet baklei. As jy dit nie doen nie, sal jy nie ontvang wat Hy jou belowe het nie. Op hierdie oomblik mag baie mense in jou ‘droom huis’ bly en in jou ‘droom beroep’ werk. Moet hulle nie kwalik neem nie, verbly jou! God kan dieselfde vir jou doen! As jy moeg is om oor die dinge te praat wat jy nie het nie, staan op en begin dit najaag. Wanneer jy dit egter kry, moet jy onthou dat dit nie gebeur het omdat jy so wys en wonderlik is nie, maar omdat God dit vir jou gegee het (sien Deuteronomium 8:18). Die Bybel sê dat Hy ‘…ons alles laat kry wat ons nodig het om naby aan Hom te lewe…’ (2 Petrus 1:3 NLV). Jy moet egter eers hierdie belofte innerlik aanneem, voordat jy dit uiterlik kan begin ervaar. Jou uitdaging kan byvoorbeeld wees om in jou gees te glo dat jy genees is, voordat jy dit fisies begin ervaar. Wanneer ons byvoorbeeld God vir ‘n eikeboom vra, gee Hy vir ons ‘n akker. Op daardie oomblik mag ons dink dat God nie ons gebed gehoor en beantwoord het nie. Nee, die eikeboom is in die akker; dis net ‘n kwessie van tyd voordat dit wat binne is na buite uitbars. Die sade van dit wat God aan jou beloof het, is reeds binne jou. Gee hulle water, versorg hulle en laat niemand toe om hulle deur ongeloof te ontwortel nie. Begin God met ander woorde dank vir wat Hy in jou lewe gaan doen.

Sielskos: Lev 11:1-13:37; Luk 20:41-47; Ps 32; Spr 9:10-16

Vier jou vordering!

2019-03-03
Romeine 12:2 NLV

Blywende verandering gebeur nie deur menslike inspanning, frustrasie, selfhaat, skuldgevoelens of om jouself aanhoudend oor jou mislukkings te verwyt nie. Dit gebeur deur jou gedagtes elke dag deur die Woord van God te vernuwe. As jy gereeld jou Bybel lees, sal jy geestelik groei. As jy met God saamstem en glo wat Hy in sy Woord sê, sal jy geleidelik begin verander. Dit gebeur eenvoudig net. Jy sal anders begin dink, anders begin praat en anders begin optree. Jy moet egter geduldig wees, omdat dit ‘n proses is wat in fases ontwikkel. Jy moet ook leer om die lewe te geniet terwyl jy deur die transformasieproses gaan. Baie van ons lyk of ons op ‘n nou koord, eerder as ‘n pad van vrede, loop. Nee, geniet waar jy is, op jou pad na waarheen jy op pad is! Moenie al jou tyd tans mors deur jou toekoms te probeer stormloop nie. Jesus het gesê dat môre sy eie uitdagings bring (sien Matteus 6:34). Miskien dink jy, ‘As ek net nie hierdie probleem gehad het nie, sou ek gelukkig gewees het.’ Waarmee stoei jy? ‘n Eetlus wat buite beheer is? Wrokkigheid? Vrees? Miskien sê jy: ‘As ek net hierdie gewoonte onder beheer kan kry, sal ek reg wees.’ Net soos Israel die Beloofde Land een stad op ‘n slag verower het, oorwin jy jou swakhede een dag op ‘n slag. Paulus het gesê: ‘…sodat ek met blydskap my loopbaan kan volbring…’ (Handelinge 20:24 AFR53). Paulus wou alles wees wat God hom geroep het om te wees – maar hy wou die proses geniet. In plaas daarvan om moedeloos te wees oor hoe ver jy nog het om te gaan, leer om solank jou vordering langs die pad te vier.

Sielskos: Eks 20:7; Lev 24:10-16; Fil 2:5-11

Jy moet integriteit hê

2019-03-01
2 Korintiërs 8:21 NLV

Daar is ‘n strokiesprent wat ‘n boer uitbeeld wat besig is om sy varke se trog tot oorlopens toe vol kos te maak. Aan die bokant is daar ‘n groot kennisgewingbord wat lees, ‘Premium Spek Maatskappy.’ In die strokiesprent vra een van die varke vir die ander: ‘Het julle al ooit gewonder hoekom die boer so goed vir ons is?’ Vraag: Moet mense oor jou motiewe wonder? Hulle behoort dit nie te doen nie! Die apostel Paulus definieer integriteit as volg: ‘As broers en susters in God se huisgesin moet julle mekaar in liefde koester en voor in die ry staan om mekaar met respek te hanteer’ (Romeine 12:10 NLV). Integriteit beweeg altyd ten goede van ander. Dit glo dat as iets nie vir beide kante goed is nie, is dit nie vir enige kant goed nie. Salomo waarsku: ‘Wie arm mense verontreg om homself te verryk, of vir die rykes geskenke gee, sal self in armoede verval’ (Spreuke 22:16 NLV). As jy die diepte van jou integriteit wil toets, vra jouself die volgende af: Hoe deursigtig is jy vir ander mense? Hoe goed behandel jy mense by wie jy niks kan baat nie? Stel jy ander mense bo jou eie persoonlike agenda? Het jy mense lief en gebruik dinge, of het jy dinge lief en gebruik mense? Maak jy moeilike besluite, selfs ten koste van jouself? Wanneer jy iets oor iemand te sê het, praat jy met hulle, of oor hulle? Hierdie is belangrike vrae, so neem die tyd om hulle versigtig in gebed te oorweeg. Onthou, jy mag dalk vir ‘n oomblik sukses behaal as gevolg van wat jy weet of doen, maar jy sal slegs permanent sukses bereik as gevolg van wie jy is.

Sielskos: Eks 19-21; Luk 12:49-59; Ps 70; Spr 6:26-28

Raak meer vertroud met God

2019-02-25
Job 22:21 NLV

Hier is twee dinge wat gebeur wanneer jy God se grootheid herken: 1) Jy raak nie in die versoeking om Hom te analiseer of Hom tot hanteerbare terme te probeer verklein nie. 2) Jy is minder geneig om Hom en sy wil te probeer manipuleer, of Hom en sy optredes te verduidelik. Dink versigtig vir ‘n oomblik daaroor na! Hoeveel keer moet God nog vir ons sê: ‘My gedagtes is anders as julle s’n, en julle paaie is nie my paaie nie…’ (Jesaja 55:8 NLV), voor ons dit begryp? Hoe gereeld moet Hy verduidelik dat Hy die skaapwagter en ons die skape is; dat Hy die tak en ons die lote is, voordat ons in oorgawe voor hom kniel en sê: ‘Net soos U wil, Here’? As Jesus, die Seun van God, dit nodig gevind het om te bid, ‘…Doen nogtans nie soos Ék wil nie, maar soos Ú wil’ (Matteus 26:39 NLV), sal dit nie wys wees om ook elke dag hierdie woorde te bid nie? Hoe lank lanklaas het jy die tyd geneem om net stil in Sy teenwoordigheid te sit; om ‘n blik te kry op die Een wat wonderbaarlik en onverstaanbaar is? Ken jy vir God? Hoe goed ken jy Hom? Sal jy Hom graag beter wil leer ken? As jou antwoord ja is, sal dit nie net sommer vanself gebeur nie. Jy moet dit aan die bopunt van jou prioriteitslys plaas en dit elke dag nastreef. Wanneer jy dit doen, sal jy nie teleurgesteld word nie, want sy Woord waarborg jou: ‘Kom nader aan God, en Hy sal nader aan julle kom…’ (Jakobus 4:8 NLV).

Sielskos: Eks 7-9; Luk 12:1-12; Ps 58; Spr 6:12-15

Verminder jou skuld

2019-01-31
Spreuke 22:7 NLV

Albert Einstein het geglo dat die Reël van 72 (saamgestelde rente) ‘n belangriker ontdekking as sy relatiwiteitsteorie was. Die reël werk so: Deel 72 deur die rentekoers van jou spaargeld om die aantal jare te kry wat dit gaan neem vir jou spaargeld om te verdubbel. Byvoorbeeld: eenduisend rand wat teen 6 persent jaarlikse rente belê is, sal binne 12 jaar tot tweeduisend rand vermeerder. Kredietkaartverskaffers ken egter ook die Reël van 72. As jy byvoorbeeld ‘n aankoop van eenduisend rand teen 18 persent rente op jou kredietkaart maak en dit nie afbetaal nie, verhoog die balans van jou kredietkaart in slegs vier jaar tot tweeduisend rand. In plaas van om vir jou geld te verdien, verdien jou eenduisend rand massiewe winste vir die kredietkaartverskaffer. Die Bybel sê, ‘Soos rykes oor armes heers, so is die man wat geld leen: Hy is die slaaf van die man by wie hy leen.’ Het jy enige idee hoeveel huwelike in die moeilikheid is, of hoeveel mense op medikasie is omdat hulle in hul skuld verdrink? God wil nie hê dat jy so moet leef nie. Toe God die aarde geskep het, het Hy die volgende reël daargestel: ‘So lank as die aarde bestaan, só lank sal saaityd en oestyd… bly voortbestaan’ (Genesis 8:22 NLV). As jy ‘n oes wil hê wanneer jy dit nodig kry, moet jy saai – selfs wanneer jy nie lus is om dit te doen nie. Wanneer jy ‘n enkele tamatiesaadjie saai, sal jy baie meer terugkry – dis net ‘n kwessie van tyd. Verminder dus jou skuld en wees ‘n goeie opsigter van die fondse wat God aan jou toevertrou het. Dan kan jy op hierdie belofte staan: ‘…my God [sal] uit sy ontsaglike rykdom vir julle voorsien in elke behoefte wat julle het’ (Filippense 4:19 NLV).

Sielskos: Gen 1-3; Luk 7:11-23; Ps 107:23-32; Spr 3:25-26