2019-09-26
Markus 6:31 NLV
Daar is ‘n antieke legende wat sê dat die apostel Johannes ‘n patrysvoël gehad het waarna hy omgesien het. Een dag het ‘n jagter hom besoek en was verbaas om hom met die voël te sien speel. ‘Ek is verras om te sien dat jy jou met sulke beuselagtighede besig hou wanneer daar belangrike sake rakende die evangelie is waarmee jy kon besig wees.’ Johannes het geantwoord: ‘Is jou boog altyd styf gespan?’ Die jagter het gesê: ‘Nee, dit sal die boog onbruikbaar maak. Ek maak die snaar los, tensy ek besig is om te jag.’ Die apostel het geknik en gesê: ‘Ek ook; ek maak my gedagtes vir dieselfde rede los.’ Raai wie het gesê: ‘Kom julle nou self eenkant toe na ‘n stil plek en skep ‘n bietjie asem.’ Jesus, die Persoon wat die meeste ooit in aanvraag was. Jesus is mos ons voorbeeld. Een dag het ‘n pastoor aangekondig dat hy nie op vakansie sou gaan nie, omdat die Duiwel nooit ‘n vakansie neem nie. Sommige gemeentelede het gelag; ander het gedink dat hy baie ‘geestelik’ is. Een man het egter huis toe gegaan en ondersoek ingestel of Jesus dieselfde houding gehad het. Hy het gevind dat Jesus in sy drie jaar van aktiewe bediening, tien periodes gehad het wat Hy weg van die skare gegaan het, tesame met sy nagtelike rus en die rus op die Sabbat. Die volgende Sondag het hy vir die pastoor gevra: ‘Volg jy die Duiwel se voorbeeld, of Jesus se voorbeeld?’ Ontspanning is presies dit: ‘n tyd om ontslae te raak van jou spanning, jou energie te vernuwe en jou kosbaarste verhoudings te voed. Neem dus die tyd om te rus.
Sielskos: 1 Sam 20:30-23:29; Matt 27:57-66; Ps 60; Spr 22:7-11
2019-09-25
2 Korintiërs 11:28 NLV
Predikante berei preke voor, onderwysers berei lesse voor, boekhouers tel die syfers op en motorwerktuigkundiges maak enjins reg. Daar is egter nie ‘n skool wat jou ten volle vir die uitdagings van leierskap kan voorberei nie. Paulus maak ‘n lys van die druk van leierskap wat slae, steniging, verraad en ‘n sinkende skip, insluit. Dis hoekom meer as helfte van alle pastore die bediening in minder as tien jaar verlaat. Soos die skrywer Zig Ziglar gesê het: ‘Dis eensaam daar bo.’ As jy ‘n leier in enige area van die lewe is – en die meeste van ons is, of ons dit nou besef of nie – sal jy min hoor wanneer dinge goed gaan, maar wanneer dit nie doen nie, sal die skuld op jou hoof gepak word. Leiers trek kritiek aan, net soos ‘n piekniek miere aantrek. Jy moet altyd ‘n prys betaal wanneer jy ander mense wil beïnvloed. ‘n Leier sal die koste van tyd, denke en vertroue betaal. Die paaiemente lyk soos daaglikse risiko’s wat geneem word, visioenêre denke, ywerige werk en probleemoplossing. Die grootste koste kom egter voor wanneer jy met mense te doen kry; veral diegene wat lyk of hulle dieselfde uniform aanhet, maar nie in dieselfde span speel nie. Paulus beskryf dit so: ‘…in gevare… van my volksgenote…’ (vers 26 NLV). As dit is wat jy vandag ervaar, lees die volgende wat God vir Moses gesê het: ‘…Kom staan by hierdie rotse, hier by My. Wanneer Ek in my majesteit hier verbykom, sal Ek jou tussen die rotse laat staan en jou met my hand beskerm terwyl Ek verbygaan’ (Eksodus 33:21-22 NLV). Wat is die antwoord op die uitdagings van leierskap? ‘n Bewustheid van God se teenwoordigheid in jou lewe.
Sielskos: 1 Sam 18:1-20:29; Matt 27:45-56; Ps 68:19-35; Spr 22:6
2019-09-09
Prediker 3:1-8 NLV
Wanneer laas het jy die tyd geneem om te lag, te dans en lief te hê? Kan jy onthou? In die woorde van ‘n onbekende digter: ‘This is the age of the half-read page; the quick hash and the mad dash. The bright knight with the nerves tight; the plane hop and the brief stop. The lamp-tan in a brief span; the big shot in a good spot. The brain strain and the heart pain; the catnaps until the spring snaps…and the fun’s done!’ Dit laat mens dink, nè? Moet dit egter so wees? Nee, as dit is hoe jou lewe vandag lyk, is die kans goed dat dit is omdat jy dit so gemaak het. Jy is die enigste een wat dit kan verander! Jy sê jy is besig? Ons is almal besig. Wie sê dat jy nie die lewe kan geniet wanneer die pas versnel nie? Vir seker nie God nie! Chuck Swindoll skryf: ‘Ek weier dat vrolikheid die agterste gestoeltes inneem wanneer verantwoordelikheid aan die stuur kom. As die pret weg is, is dit omdat ons dit nie daar wil hê nie, nie omdat dit nie inpas nie. Ek gee nie om of jou ‘doenlysie’ tot by die horison strek nie, jy moet weer in balans kom en die tyd neem om te lag, van vreugde te dans en lief te hê. Hoekom? Omdat die Bybel so sê! Jou familie en vriende sal jou ook meer geniet wanneer jy dit doen.’ Die Psalmdigter het gesê: ‘U wys vir my die lewenspad; in u teenwoordigheid is vreugde, en aan u regterhand is daar blydskap vir altyd’ (Psalm 16:11 NLV). Gaan dus voort en geniet jou lewe soos God dit bedoel het om te wees – voor jy jou oë uitvee, is dit verby.
Sielskos: Eseg 43-45; Matt 24:26-35; Ps 78:32-39; Spr 20:20-21
2019-05-06
Galasiërs 5:22 DB
Paulus skryf: ‘Net soos ‘n boom wat ‘n baie goeie vrug oplewer, wys hierdie mense se lewe dat hulle aan God behoort. Sulke mense gee baie om vir ander… Hulle verdra ander mense sonder om ooit lelik met hulle te wees…’ (vers 22 DB). Kom ons kyk na hierdie Christelike kwaliteite: 1) Jy gee om vir ander mense. Jy hou op om mense as voorwerpe te sien wat uitgestryk moet word, of vermy moet word, of tot jou eie voordeel gebruik moet word. Toe Jesus na mense gekyk het, het Hy ‘…ontroerd geraak oor hulle seerkry en weerloosheid…’ (Matteus 9:36 NLV). Wanneer dit gebeur, gebeur twee wonderlike dinge. Eerstens oorkom jy jou selfsugtigheid en word jy oor iemand anders besorg. Tweedens ontwikkel jy ‘n sin van dankbaarheid vir seëninge wat jy dalk as vanselfsprekend aanvaar het. 2) Jy is nooit lelik met ander mense nie. Jy sien nie meer mense met sagte, liefdevolle persoonlikhede as papperds wat nooit veel bereik nie. Paulus het geskryf: ‘…ons [was] soos babatjies teenoor julle…’ (1 Tessalonisense 2:7 NLV). Paulus was vir seker nie ‘n papperd nie! Soms is die rede dat ons so gedrewe is, die vrees dat wanneer ons sagter en liefdevoller word, ons nie meer vooruit sal beweeg nie en in die resies sal agterbly. Hierdie tipe vreesbevange denke dreineer die kreatiwiteit uit jou uit – om nie eers van jou vreugde te praat nie. Enige sukses wat jy behaal is ten spyte van jou stres, nie as gevolg daarvan nie. Kyk na Jesus. Hy was nie haastig nie, Hy het selde sy stem verhef, Hy het tyd vir kinders gemaak, Hy het mense liefgehad en hulle opgehef. Dís hoe jy op God se manier lewe.
Sielskos: Num 30:1-32:24; Mark 5:1-10; Ps 44:9-16; Spr 11:10-11
2019-05-05
Romeine 15:24 NLV
Die wêreld gaan homself nie daaraan toewy om ons gelukkig te maak nie; en eers wanneer ons dit aanvaar, kan ons begin vorentoe beweeg. Baie kere werk die lewe nie so uit soos ons dit beplan het nie. Paulus het geskryf: ‘…Ek hoop om julle op my deurreis na Spanje te sien…’ Hy het egter nooit by Spanje uitgekom nie; in plaas daarvan het hy in die tronk beland. Dis egter in die tronk wat hy die sendbriewe geskryf het. Jou teleurstelling mag dus dalk God se aanstelling wees! Die Bybel sê: “‘n Mens bepaal sy koers, maar die Here bepaal sy bestemming” (Spreuke 16:9 NLV). Is jy nie bly dat God in beheer van jou lewe is nie? Laat die filosowe stry oor hoekom die lewe werk soos dit doen; fokus jy net daarop om te lewe! Watter nut is daarin om honderd jaar oud te word, wanneer spyt en wrokke jou daarvan weerhou om dit te geniet? Watter nut het meer tyd, wanneer jy die tyd wat jy reeds het mors? Weet jy hoe ‘n oester ‘n pêrel maak? Wanneer ‘n korreltjie sand by sy skulp inkom en dit irriteer, draai die oester die sand in lae skoonheid toe totdat ‘n pêrel gevorm word. ‘n Onbekende digter het geskryf: ‘This tale has a moral, for isn’t it grand, what an oyster can do with a morsel of sand? What couldn’t I do if I’d only begin, with all of the things that get under my skin?’ God is aan die werk in dit wat jy vandag deurmaak – ten goede van jou en vir sy verheerliking. Jy moet Hom net vertrou.
Sielskos: Eks 20:12; Ef 6:1-3; Matt 15:1-9; Joh 19:25-27