Die waarheid van die skepping (3)

2021-02-14
Genesis 1:2 NLV

Die wetenskap definieer die heelal deur middel van vyf komponente waaruit dit bestaan: tyd, ruimte, materie, krag en beweging. Met dit in gedagte, lees die volgende: ‘In die begin [tyd] het God die ganse heelal gemaak [krag], die hemel [ruimte] daarbo en die aarde [materie] hieronder. Maar die aarde was ‘n vormlose, onbewoonbare massa, en die diep waters was toegevou in duisternis. Tog het die kragtige, skeppende Gees van God oor die oppervlakte van die water gesweef [beweging]. Toe beveel God: ‘Laat daar lig wees!’ en dit was so’ (verse 1-3 NLV).

Dink nou oor hierdie aanhalings na: 1) ‘Die meeste kosmoloë (wetenskaplikes wat die strukture en evolusie van die heelal bestudeer), stem saam dat die Genesis weergawe van die skepping, in die idee van ‘n aanvanklike leemte, ongelooflik naby aan die waarheid kan wees’ (die tydskrif Time).

2) ‘Die heelal het skielik in bestaan in ontplof. Die ‘Big Bang’ teorie het ‘n ongelooflike ooreenkoms met die bevel in Genesis’ (Jim Holt, wetenskaplike skrywer: The Wall Street Journal).

3) ‘Nuwe wetenskaplike openbarings oor supernovas, swart gate, kwarke en selfs die ‘big bang’ stel aan sommige wetenskaplikes voor dat daar ‘n ‘meestersplan’ vir die heelal is’ (U.S. News & World Report).

Jou oog se retina bevat 137 miljoen lig-sensitiewe selle, terwyl die spiere wat jou oë fokus ongeveer 100,000 keer ‘n dag beweeg. Raai wat? Charles Darwin het in sy boek, On the Origin of the Species by Means of Natural Selection, die volgende geskryf: ‘Ek moet bieg dat om te veronderstel dat die oog deur natuurlike seleksie (evolusie) gevorm kon word, absurd in die hoogste graad lyk.’

Die waarheid is as volg: God het jou gemaak en Hy het ‘n plan vir jou lewe.

Sielskos: Ef 5:21-33; Hoogl 2:1-7; Ps 45; Spr 5:15-19

Wys hulle jy gee om

2020-11-10
Hebreërs 4:15 NLV

Alhoewel die inheemse Indiane in Amerika nie ‘n formele geskrewe alfabet gehad het voor hulle die Europeërs ontmoet het nie, was hulle taal alles behalwe primitief. Die woordeskat van baie inheemse tale was net so groot soos hulle Franse en Engelse oorwinnaars s’n en hulle uitdrukkings was dikwels baie meer welsprekend. In een taal, word die konsep van die woord ‘vriend’ byvoorbeeld gestel as ‘die een wat my sorge op sy of haar rug dra.’

Wat ‘n wonderlike definisie! Wanneer iemand na jou toe kom vir troos of raad, wil hulle dikwels net iemand hê wat gewillig is om te luister en met wie hulle hul sorge kan deel. Wanneer jou antwoord oppervlakkig is, neem hulle soms aan dat jy nie tyd vir hulle het nie. Een van die mooiste dinge wat in die Bybel van Jesus gesê is, is dat Hy ‘ten volle met ons in ons swakhede [kan] saamvoel.’ Partykeer wil ‘n vriend net weet dat jy verstaan waardeur hulle gaan en dat jy omgee. Hier is hoe jy kan help:

1) Luister met ‘n oop hart, eerder as om hulle probleem te probeer wegpraat.

2) As hulle huil, deel hulle trane. As hulle stil is, deel hulle stilte.

3) Laat hulle weet dat jy beskikbaar is, gereed is om te help en dat jy altyd vir hulle sal tyd hê.

4) Herinner hulle dat mense net soveel self kan doen, maar dat God die onmoontlike kan doen.

5) As hulle jou toelaat, bid vir hulle en saam met hulle. So kan jy help om die las van hulle skouers af te haal en dit op God se skouers te sit (sien Psalm 55:23).

Sielskos: 1 Kro 7:20-9:44; Joh 9:24-41; Ps 99; Spr 25:26-28

Leuens: Satan se moedertaal

2020-07-15
Johannes 8:44 NLV

Jesus het van Satan gesê: ‘…Wanneer hy ook al leuens verkoop, praat hy volgens sy innerlike oortuiging omdat hy ‘n leuenaar en ook die vader daarvan is.’ Hy lieg op drie maniere vir ons: 1) Vertwyfelinge: Sy strategie is om jou te ontmoedig en jou te laat tou opgooi deur te sê: ‘Wat help dit? Niks het verander nie!’ Wanneer jy dit sê, teken jy die strokie en aanvaar die aflewering. Moenie dit doen nie! Die Bybel sê: ‘…Deur jou woorde en jou dade word jy gevang…’ (Spreuke 6:2 DB). Dit wat jy sê, vorm jou perspektief en skep die omgewing waarin jy lewe. Moet nooit iets sê wat Satan laat dink dat hy gewen het nie. 2) Skok. As jy nie Satan se aanval verwag nie, sal jy geskok wees en dink: ‘Ek maak seker nie vordering nie. Hoekom anders sal ek dan dieselfde gevegte oor en oor veg?’ Satan gee nie sommer tou op nie en sy aanval is bewys dat hy jou nog nie oorwin het nie. 3) Gevoelens. Satan sal jou probeer oortuig dat jy nie vergifnis verdien nie. Hy sal vir jou sê dat omdat jy nie voel dat jy vergewe is nie, is jy nie vergewe nie. Onthou egter, hy is ‘n leuenaar. Dis hier waar die oorwinning besluit word. Staan vas. Die werk is reeds in jou gedoen. God se Woord sê so; nou moet jy dit ook begin sê. Tyd sal jou posisie versterk. Sy strategie is om jou te laat voel dat niks verander het nie. Moenie dit glo nie! Jesus het gesê: ‘…As julle in ‘n noue verbintenis aan my boodskap leef, is julle my egte navolgers; en julle sal begryp wat die waarheid beteken, en die waarheid sal julle vrymaak’ (Johannes 8:31-32 NLV).

Sielskos: Joël 1-3; Luk 7:24-35; Ps 118:19-29; Spr 15:33

Wat lei jou aandag af?

2020-06-23
Spreuke 4:27 NLV

Baie van ons misluk, nie omdat ons nie talentvol, gedetermineerd of passievol is nie, maar omdat ons van ons ‘koers afwyk.’ God het vir die profeet Habakuk gesê: ‘…Skryf my antwoord, die visioen, in groot, duidelike letters op kleitablette sodat iemand wat verbyhardloop dit kan lees’ (Habakuk 2:2 NLV). Tensy jy ‘n duidelik gedefinieerde doelwit het en dit ten alle tye voor jou hou, sal jy nie in die regte rigting hardloop nie. Motiveringspreker en skrywer, Sam Horn, het gesê: ‘Dis moeilik om op koers te bly, as ons nie weet wat ons bestemming is nie.’ In sy boek, One Big Thing, skryf Phil Cooke: ‘Ek was nog nooit ‘n aanhanger van die persoon wat die ‘oop deur beleid’ uitgedink het nie. Ja, ons wil toeganklik vir kollegas en werknemers wees, maar op ‘n stadium is dit tyd om die deur toe te maak en aan die werk te spring. Na jou volgende onderbreking, maak ‘n nota van hoe lank dit neem om weer by jou vorige vlak van intensiteit en fokus te kom. Jy sal geskok wees oor hoeveel tyd dit van jou dag steel. Te dikwels geniet ander mense se behoeftes prioriteit bo jou droom. Natuurlik moet ons vir ons kinders sorg, ons eggenote eer en ons primêre verantwoordelikhede rondom ons familie en werk nakom. Die eerste tree om jou droom te vervul, is egter om verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar. Dit beteken dat jy dit moet skeduleer en minder belangrike behoeftes van kollegas en vriende moet ‘onskeduleer.’ Hierdie daaglikse verpligtinge beitel ons tyd weg en kort voor lank verdwyn jou droom in die stof. Hou dus op om te doen wat ander mense belangrik ag en begin fokus op dit wat vir jou (en God!), belangrik is.’

Sielskos: Hosea 1-5; Luk 2:8-20; Ps 8; Spr 14:9-12

Die noodsaaklikheid van rus en vernuwing

2020-05-16
Jesaja 40:31 NLV

Wanneer jy fisies, emosioneel en geestelik gedreineerd is, word jy kwesbaar. Toe Simson moeg geword het, het hy met sy kop op Delila se skoot gaan lê. Jesus verwag 100 persent toewyding van ons, maar Hy ken ook die noodsaaklikheid daarvan om in balans te bly; van werk en rus; van gee en neem. ‘…omdat daar voortdurend talle mense gekom en gegaan het sodat hulle selfs nie kans gekry het om te eet nie, het Jesus toe vir hulle gesê: ‘Kom julle nou self eenkant toe na ‘n stil plek en skep ‘n bietjie asem.’ Hulle het toe per skuit na ‘n stil plek vertrek waar hulle alleen kon wees’ (Markus 6:31-32 NLV). ‘n Goeie generaal sal nooit al sy soldate op een slag na die slagveld uitstuur nie. Hy hou ‘n leërmag in reserwe om die moeë soldate wat van die voorste linies af terugstrompel, af te los. Ja, jy mag dalk die belangrikste roeping in die wêreld hê en sukses daarin behaal, maar as jy nie ‘reserwes’ in plek stel nie, stel jy jouself vir potensiële gevaar oop. Dis hoekom dit so belangrik is om elke dag tyd eenkant te sit om alleen met God in gebed te spandeer en jou Bybel te lees. As Satan jou nie direk kan oorwin nie, sal hy tevrede wees met ‘n moeë, oneffektiewe weergawe van die persoon wat God wil hê jy moet wees. Jy loop veral die risiko as jy ‘n tipe A persoonlikheid met hoë energie is. Wat is die antwoord? ‘…Baie jongmense struikel en val. Maar dié wat hulle hoop op die Here stel, sal hulle krag terugkry. Hulle vlieg hoog, soos arende. Hulle sal hardloop en nie moeg word nie. Hulle sal loop en nooit vermoeid word nie’ (Jesaja 40:30-31 NLV).

Sielskos: Num 34-36; Mark 9:30-37; Ps 18:30-50; Spr 11:22