Wys hulle jy gee om

2020-11-10
Hebreërs 4:15 NLV

Alhoewel die inheemse Indiane in Amerika nie ‘n formele geskrewe alfabet gehad het voor hulle die Europeërs ontmoet het nie, was hulle taal alles behalwe primitief. Die woordeskat van baie inheemse tale was net so groot soos hulle Franse en Engelse oorwinnaars s’n en hulle uitdrukkings was dikwels baie meer welsprekend. In een taal, word die konsep van die woord ‘vriend’ byvoorbeeld gestel as ‘die een wat my sorge op sy of haar rug dra.’

Wat ‘n wonderlike definisie! Wanneer iemand na jou toe kom vir troos of raad, wil hulle dikwels net iemand hê wat gewillig is om te luister en met wie hulle hul sorge kan deel. Wanneer jou antwoord oppervlakkig is, neem hulle soms aan dat jy nie tyd vir hulle het nie. Een van die mooiste dinge wat in die Bybel van Jesus gesê is, is dat Hy ‘ten volle met ons in ons swakhede [kan] saamvoel.’ Partykeer wil ‘n vriend net weet dat jy verstaan waardeur hulle gaan en dat jy omgee. Hier is hoe jy kan help:

1) Luister met ‘n oop hart, eerder as om hulle probleem te probeer wegpraat.

2) As hulle huil, deel hulle trane. As hulle stil is, deel hulle stilte.

3) Laat hulle weet dat jy beskikbaar is, gereed is om te help en dat jy altyd vir hulle sal tyd hê.

4) Herinner hulle dat mense net soveel self kan doen, maar dat God die onmoontlike kan doen.

5) As hulle jou toelaat, bid vir hulle en saam met hulle. So kan jy help om die las van hulle skouers af te haal en dit op God se skouers te sit (sien Psalm 55:23).

Sielskos: 1 Kro 7:20-9:44; Joh 9:24-41; Ps 99; Spr 25:26-28