Probeer ‘n uiltjie knip

2023-03-31
Spreuke 3:24 NLV

God het spesifieke snellers in ons liggame ingebou om ons te laat weet wanneer dit tyd is om bewustheid te ontvlug. Wyse mense luister na hierdie leidrade. Van die geskiedenis se bekendste mense wat lief daarvoor was om ‘n uiltjie te knip, sluit Albert Einstein, Thomas Edison en Winston Churchill in.

Daar is ‘n rede hoekom jou ooglede tweeuur die middag begin swaar voel. Jou hefspiere, wat konstant saamgetrek is om jou ooglede oop te hou, begin ingee. ‘n Chemiese stof genaamd adenosien, wat in jou brein afgeskei word wanneer jy wakker is, begin ophoop en laat jou slaperig voel. Gevolglik smag jou liggaam na slaap om die adenosien te laat versprei, wat onmiddellike verligting tot gevolg het.

‘n Studie wat in die Annals of Internal Medicine gepubliseer is, bevestig dat mense wat vir minstens dertig minute, drie keer per week in die middag slaap, ‘n derde minder geneig is om aan hartsiektes te sterf. Bykomende navorsing stel voor dat om ‘n uiltjie te knip, ons kreatiwiteit en geheue kan verbeter. Die kognitiewe neurowetenskaplike, William Fishbein, sê dat ons brein gedurende ‘n middagslapie aanhou werk om probleme op te los en nuwe idees te vorm. Dit help verduidelik hoekom Mozart gesê het dat hy musiek in sy drome komponeer.

Studies het ook al gewys dat ‘n bietjie ekstra slaap met gewigsbeheer kan help! Ghrelien, ‘n hormoon wat in ons ingewandes geproduseer word, sê vir ons dat ons honger is en veroorsaak drange vir lekkers, sout kos en stysels – al die slegte goed! Wanneer ons egter meer slaap, stoor ons dikderm minder ghrelien en ons lus vir gemorskos verminder.

In die Skrif het Jesus nie net self gereelde ruspouses geneem nie; Hy het ook sy dissipels aangemoedig om sy voorbeeld te volg. Probeer dus om ‘n uiltjie te knip.

Sielskos: Job 40-42; Luk 22:39-53; Ps 31:1-13; Spr 8:34-36

Betroubaarheid (2)

2023-02-06
1 Korintiërs 4:2 NLV

Betroubaarheid verg dat jy 100 persent inspanning 100 persent van die tyd moet gee. Die tydskrif Insight het ‘n artikel deur Gary Sheer getiteld: ‘Strive for Perfection… or Else!’ gepubliseer. Dit het ‘n paar onrusbare feite bevat! Die artikel het gesê dat indien 99.9 persent inspanning goed genoeg is, sou 103,260 belastingopgawes daardie jaar verkeerd geprosesseer word, 22 tjeks sou binne die volgende sestig minute van die verkeerde rekeninge afgetrek word, 12 babas sou elke dag vir die verkeerde ouers gegee word, 2 vliegtuiglandings sou elke dag by O’Hare Internasionale Lughawe onveilig gewees het, 18,322 posstukke sou binne die volgende uur verkeerd hanteer word, 291 operasies om pasaangeeërs in te sit sou daardie jaar verkeerd gedoen word. Ook sou 880,000 kredietkaarte in sirkulasie die verkeerde kaarthouer details op hulle magnetiese strook bevat het, 20,000 verkeerde mediese voorskrifte sou binne die volgende twaalf maande uitgeskryf word en 107 verkeerde mediese prosedures sou teen die einde van daardie dag uitgevoer word. Dis skokkende statistieke – veral as jy een van die persone is wie se lewe daardeur geaffekteer word!

Net jou beste moet in enige situasie goed genoeg wees. Enigiets minder as dit sal nooit goed genoeg wees nie, omdat dit jou mislukking om heeltemal getrou en betroubaar te wees, reflekteer. Dis hoekom die Bybel sê: ‘Van bestuurders word verwag dat hulle hulleself as betroubaar sal bewys.’ By God is betroubaarheid nie slegs ‘n konsep of ‘n voorstel nie; dis ‘n vereiste vir almal wat Hom dien – insluitend vir jou!

Sielskos: Gen 30:25-31:55; Luk 8:16-25; Ps 120; Spr 3:33-35

Moenie jou geloof afskeep nie

2022-12-09
Romeine 12:3 NLV

Jy kan nie terugsit, niks doen en glo dat God alles vir jou sal doen nie. Jy het ‘n rol om te speel. Paulus sê dat God vir elkeen van ons ‘geestelike toerusting’ gegee het. Judas sê dat jy geestelik ontwikkel deur jouself ‘…op te bou op die fondament van die allerheiligste geloof…’ (Judas vers 20 NLV). Dis in die strydperke van die lewe waar jy ontdek of jy geloof gekoester of verwaarloos het.

In die Bybelse tyd het ‘n Romeinse soldaat se skild hom van sy kop tot by sy tone beskerm. Dit was van yster gemaak, met dik lae materiaal oorgetrek, en hy het dit in water geweek voordat hy die stryd betree het. Gevolglik is die vlammende pyle van die vyand geblus sodra dit daarmee kontak gemaak het. Nou verstaan jy wat Paulus bedoel het met: ‘Dra onder alle omstandighede die skild van geloof. Dit kan al die brandpyle blus wat die Bose afskiet’ (Efesiërs 6:16 NLV).

Satan se pyle kan nie jou hart binnedring wanneer dit suiwer, deurweek met die Skrif en versterk deur geloof is nie. Dis hoekom Jesus vir Petrus gesê het: ‘…die Satan het ernstig geëis om julle soos koring te kan sif, maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie moet begewe nie…’ (Lukas 22:31-32 NLV). Dis jou geloof wat aangeval word! Dis jou geloof wat gevoed moet word! Dis jou geloof wat jou in die lewe se strydperke onderhou!

Jesus het vir ons gesê: ‘…Julle moet geloof hê in God’ (Markus 11:22 NLV). Dis die tyd wat jy met die Skrif en in gebed met God bestee, wat jou geloof versterk om die lewe se strydperke te oorwin.

Sielskos: Jos 11-13; Joh 14:26-15:4; Ps 147:12-20; Spr 29:6-10

Jy moet jou seisoen ken

2022-12-02
Prediker 3:1 NLV

Wanneer God vir jou ‘n visie gee moet jy voorbereid wees om ‘n paar trane te stort, omdat elke visie teen ‘n prys kom. Die pad na oorwinning is vol toetse en beproewings. Niemand word daarvan kwytgeskeld nie. God het egter belowe dat daar ‘n oes sal wees: ‘Hulle wat met trane saai, sal met vreugde maai. Hulle wat met trane die saadsak dra, sal sing van vreugde wanneer hulle die gerwe dra’ (Psalm 126:5-6 NLV).

Die Skrif leer ons twee dinge: 1) Daar is ‘n tyd om te huil. Dit is nie ‘n verskoning vir passiwiteit, of ‘n houding van swakheid wat jou tot trane reduseer omdat die lewe nie regverdig is en dinge moeilik is, nie. Nehemia is tot trane deur die puinhoop van Jerusalem gedryf. Toe het hy egter ‘n plan ontwikkel, ‘n span bymekaar gekry en dit herbou. Waaroor voel jy passievol? Wat dryf jou?

2) Daar is ‘n tyd om te oes. Alles in die lewe het ‘n rede en ‘n seisoen (sien Prediker 3:1-8). Wanneer jy die rede verstaan en die meeste uit die seisoen put, word jy ‘…soos bome geplant langs ‘n rivier, wat vrugte dra op die regte tyd…’ (Psalm 1:3 NLV). Let die woorde: ‘op die regte tyd,’. Vrugte sal nie voor hul tyd groei nie. Dis hoekom jy onderskeid tussen jou lewe se veranderende seisoene moet tref en by hulle moet aanpas.

Dis veral waar wanneer dit oestyd is. Jy moet weet wanneer jy moet ophou huil en begin oes; anders sal jy die oes misloop. Trane is vir die saaier, maar vreugde is vir die maaier. Wanneer jou seisoen dus begin verander, oes jou lande met vreugde. Jy het jou ledegeld betaal; nou is dit tyd om dit wat God vir jou beloof het, te geniet.

Sielskos: 2 Kron 32-34; Joh 12:37-50; Ps 146; Spr 28:9-12

Werk jou heil uit

2022-05-15
Filippense 2:12-13 AFR53

Die Bybel sê: ‘…werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.’ Hierdie Skrifgedeelte klink amper soos ‘n teenstrydigheid, nie waar nie? Dit is egter eerder ‘n paradoks. G.K. Chesterton beskryf ‘n paradoks as volg: “‘n Waarheid wat op sy kop staan om aandag te kry.”

Die sleutel om hierdie spesifieke paradoks te verstaan, lê in die klein woordjie uit. Let op dat die Bybel nie sê: ‘Werk vir jou heil’ nie. Om vir iets te werk beteken om dit te verdien. Die Bybel stel dit baie duidelik dat ons verlossing nie iets is waarvoor ons moet werk nie. Dis ‘n gratis geskenk uit God se genade (sien Efesiërs 2:8-9). Wanneer Paulus sê: ‘Werk julle eie heil uit,’ praat hy van ‘n geestelike oefensessie.

Wat doen jy tydens ‘n fisiese oefensessie? Jy ontwikkel en versterk die spiere wat God reeds vir jou gegee het. Om te oefen beteken om te groei en die meeste te maak van dit wat aan jou gegee is. Wat Paulus hier sê is die volgende: Ontwikkel jou geestelike lewe! God voorsien die krag, maar ons moet toegang daartoe verkry, die skakelaar aansit en dit deur ons lewens laat vloei sodat ons sy wil vir ons lewens kan vervul.

Hoe kan ons dit prakties uitvoer? Deur elke dag tyd te bestee om God se Woord te lees en te bid. Deur mekaar op te skerp en te versterk. Deur die gawes wat God vir ons gegee het, uit te oefen. Die waarheid is dat Hy reeds sy deel gedoen het; nou is dit jou beurt om jou deel te doen.

Sielskos: Gen 2:7-25; 1 Kor 15:39-55