Die noodsaaklikheid van rus en vernuwing

2020-05-16
Jesaja 40:31 NLV

Wanneer jy fisies, emosioneel en geestelik gedreineerd is, word jy kwesbaar. Toe Simson moeg geword het, het hy met sy kop op Delila se skoot gaan lê. Jesus verwag 100 persent toewyding van ons, maar Hy ken ook die noodsaaklikheid daarvan om in balans te bly; van werk en rus; van gee en neem. ‘…omdat daar voortdurend talle mense gekom en gegaan het sodat hulle selfs nie kans gekry het om te eet nie, het Jesus toe vir hulle gesê: ‘Kom julle nou self eenkant toe na ‘n stil plek en skep ‘n bietjie asem.’ Hulle het toe per skuit na ‘n stil plek vertrek waar hulle alleen kon wees’ (Markus 6:31-32 NLV). ‘n Goeie generaal sal nooit al sy soldate op een slag na die slagveld uitstuur nie. Hy hou ‘n leërmag in reserwe om die moeë soldate wat van die voorste linies af terugstrompel, af te los. Ja, jy mag dalk die belangrikste roeping in die wêreld hê en sukses daarin behaal, maar as jy nie ‘reserwes’ in plek stel nie, stel jy jouself vir potensiële gevaar oop. Dis hoekom dit so belangrik is om elke dag tyd eenkant te sit om alleen met God in gebed te spandeer en jou Bybel te lees. As Satan jou nie direk kan oorwin nie, sal hy tevrede wees met ‘n moeë, oneffektiewe weergawe van die persoon wat God wil hê jy moet wees. Jy loop veral die risiko as jy ‘n tipe A persoonlikheid met hoë energie is. Wat is die antwoord? ‘…Baie jongmense struikel en val. Maar dié wat hulle hoop op die Here stel, sal hulle krag terugkry. Hulle vlieg hoog, soos arende. Hulle sal hardloop en nie moeg word nie. Hulle sal loop en nooit vermoeid word nie’ (Jesaja 40:30-31 NLV).

Sielskos: Num 34-36; Mark 9:30-37; Ps 18:30-50; Spr 11:22