2017-09-11
Eksodus 34:23 NLV
God het gesê, ‘Drie keer elke jaar moet al die mans voor die oppermagtige Here, die God van Israel, kom aanbid. Niemand sal julle aanval of julle land probeer afneem terwyl julle van die huis af weg is om die Here te gaan aanbid nie. Ek sal al die nasies voor jou uit verdryf. Ek sal jou grond al meer maak (verse 23-24 NLV). Drie keer ‘n jaar moes die manne van Israel op ‘n geestelike wegbreek gaan om God se leiding te soek. God het ook belowe om hulle families en besittings te beskerm terwyl hulle weg was en selfs om hulle grond te vermeerder. As jy dus ‘n man is wat wil hê dat God jou familie moet beskerm en jou pogings moet seën, moet jy tyd maak om jou denke, aksies en besluite aan sy leierskap te onderwerp. Die beste ding wat jy kan doen om ‘n leier in jou huis te wees en ‘n goeie huwelik te bou is om te vra, ‘Wat is Christus se denke oor hierdie saak’ (sien 1 Korintiërs 2:16). Sodra jy dit gedoen het, sal jy jou vrou se volle aandag en samewerking hê. Dit mag dalk tyd neem vir jou vrou om jou leierskap te vertrou en jou denkwyse te respekteer, maar soos sy sien hoe jy saam met Christus stap en sy beginsels beoefen, sal sy jou begin vertrou en veilig voel. Wanneer ‘n vrou vir haar man sê, ‘Ek wil hê jy moet my vashou,’ praat sy nie noodwendig van fisiese intimiteit nie. Sy praat van haar Godgegewe behoefte aan sekuriteit. Sy het ‘n man nodig wat sy kan liefhê en vertrou. God het jou so ‘n man gemaak.
Sielskos: Neh 1-4; Mark 11:27-33; Ps 78:32-39; Spr 23:29-35
2017-07-27
Jesaja 54:2 NLV
Die begeerte om te verander is die sleutel tot groei in enige area van die lewe. Die meeste van ons begeer verbetering, maar staan terselftertyd verandering teë. Jy kan egter nie die een sonder die ander een hê nie! Verandering is net moontlik as jy dit genoeg begeer. Soos Fred Smith, die stigter van Federal Express opmerk: ‘Jy is hoe jy is, omdat dit is hoe jy wil wees. As jy regtig anders wou wees, sou jy op die oomblik besig wees om te verander.’ Verandering is nooit maklik nie. Dit neem baie tyd, baie energie en deursettingsvermoë – en natuurlik, begeerte. Die begeerte om te verander moet egter oorgeskakel word na die besluit om te verander. Jy moet daardie besluit elke dag maak. Daar word vertel dat Earl Waever, die bestuurder van die Baltimore Orioles se bofbalspan, ongelukkig was met die skeidsregter se besluit en vir hom geskree het, ‘Gaan jy begin om beter besluite te maak, of is dit dit?’ As jy wil verander, moet jy jouself ‘n soortgelyke vraag afvra. Gaan jy aanhou werk en probeer verbeter, of is dit so goed soos dit gaan wees? Die Bybel stel dit so: ‘Maak jou woning groter. Span jou tent wyer, en moenie huiwer nie. Maak die tentlyne langer en slaan die penne dieper in.’ Al hierdie aksies het toewyding en deursettingsvermoë nodig. Dit is wat nodig is om jou lewe te verander. Die goeie nuus is dat jy dit met God se hulp kan doen – en jy kan vandag daarmee begin.
Sielskos: Esra 1-2; Mat 27:57-66; Ps 78:1-8; Spr 19:21-23
2017-07-16
Psalm 119:59
Een van die grootste sleutels tot sukses is om die regte benadering te hê. Om jou benadering te verbeter, moet jy jou beginpunt oorweeg. Dit kan tyd neem. Afhangende van hoe selfbewus jy is, kan dit selfs moeilik wees. Die sleutel is om objektief na jouself te kyk en jouself van jou denkwyses te verwyder. Die doel is nie om jouself te veroordeel nie; dis om jouself duidelik te sien sodat jy positiewe veranderinge in die manier wat jy dink, kan maak. Wanneer professionele houtkappers ‘n opeenhoping van stompe in die rivier kry, klim hulle in ‘n boom naby die rivier sodat hulle oor die probleem kan uitkyk en die oorsaak daarvan kan bepaal. Hulle soek die ‘sleutelstomp’ wat die opeenhoping veroorsaak. Sodra hulle daardie stomp verwyder, hanteer die rivier self die res. ‘n Onervare persoon kan ure, dae, selfs weke spandeer om stompe sonder resultate rond te beweeg. Die punt is dat jy nie noodwendig al jou denkwyses hoef te verander nie – net die paar sleutelitems wat jou daarvan weerhou om die regte benadering tot die lewe te hê. Sodra jy dit doen, sal jou lewe in die regte rigting begin vloei. Hier is ‘n paar vrae wat jou sal help om die ‘sleutelstomp’ wat jou terughou, te ontdek: Hoe voel jy oor jouself? Wanneer voel jy die negatiefste oor jouself? Wat veroorsaak die grootste probleme wanneer jy in aanraking met ander mense kom? Onsekerheid? Gegriefdheid? Minderwaardigheid? Watter negatiewe gedagtes beheer jou denke? Dit is belangrike vrae, want soos jy dink, so is jy. As jy jou lewe ten goede wil verander, vra God om jou bewus te maak van dit wat jou terughou.
Sielskos: Num 9:15-23; Eks 24:15; Mat 17:1-8
2017-07-10
Galasiërs 4:19 NLV
Hier is drie Skriftuurlike sleutels om jou te help om geestelik te groei en volwasse te word: 1) Begrip. Dit ontstaan uit intimiteit tussen twee mense wat lief is vir mekaar. God se liefde vir jou is duidelik en gebiedend (sien 1 Johannes 3:1); die vraag is hoeveel het jy Hom lief? (sien Johannes 21:15). 2) Vorming. Paulus skryf, ‘Ag, my kinders, totdat Christus julle hele lewe oorneem, het ek elke keer weer geboortepyne oor julle.’ God ken die toetse en beproewings wat nodig is om jou in die karakter van Christus te vorm en Hy sal doen wat nodig is om dit te laat gebeur. 3) Druk. Wanneer jy ten volle toegewyd is om dit wat God in jou geplaas het, voort te bring, sal jy nodig hê om teen elke negatiewe optrede teen jou en negatiewe uitspraak oor jou, terug te druk. Jy sal teen Satan se aanvalle in al hulle vorms moet terugdruk: pynlike herinneringe, gevoelens van hopeloosheid en lae selfwaarde. Die Vyand kan jare spandeer om jou eenkant toe te druk, jou terug te trek en jou neer te druk, maar God sal jou bemagtig om geboorte te gee aan dit wat Hy in jou geplaas het. Nog iets om oor na te dink: Wanneer ‘n baba gebore word, verander alles in die familie. Dieselfde is waar vir jou. Wanneer jy geboorte gee aan dit wat God in jou geplaas het, word alles in jou lewe geaffekteer. God se seën sal elke area van jou bestaan aanraak. Moet dus nie versuim om geboorte te gee aan dit wat binne jou is nie. Nou is die tyd om dit voort te bring!
Sielskos: Ef 4:17-6:24; Mat 24:36-51; Ps 109:1-15; Spr 17:27-28