Groei jou genade?

2018-04-23
2 Petrus 3:18 AFR83

Elke dag sal jy geleenthede kry om in genade toe te neem. Jy moet altyd oop en ontvanklik vir hulle wees. ‘n Ouma wat haar vyftigste huweliksherdenking gevier het, het die geheim van haar lang en gelukkige verhouding gedeel: “Op my troudag het ek besluit dat ek ‘n lys van tien van my man se foute sou maak, wat ek ter wille van ons huwelik sou oorsien. Ek het op die ou einde van die dag nooit die lys gemaak nie. Elke keer wat hy egter iets gedoen het waarvan ek nie gehou het nie, het ek vir myself gesê, ‘Gelukkig vir hom is dit een van die tien!'” Dis nou vir jou ‘n wyse dame! Fisiese intimiteit is iets wat ons bymekaar bring, maar om saam in genade te groei sal ons bymekaar hou. Wanneer iemand jou dus ontstel, in plaas van om met kwaai woorde of ‘n kwaai stilte te reageer, herinner jouself daaraan dat God jou nog ‘n geleentheid gee om in genade te groei. As jy nie te goed doen met sommige van die geleenthede wat Hy stuur nie, moenie bekommerd wees nie, Hy sal aanhou om nog geleenthede te stuur tot jy dit regkry! Wrewel is een van die duurste luukshede wat jy kan geniet. ‘n Diep-gesetelde wrok vreet aan jou gemoedsvrede soos ‘n dodelike kanker ‘n orgaan verwoes. Daar is inderdaad min dinge so hartseer soos ‘n persoon wat ‘n wrok jare lank vertroetel. Sonder vergifnis, word die lewe ‘n eindelose siklus van gebelgdheid en vergelding. Een van die geheime van ‘n lang en vrugdraende lewe is om almal en alles elke aand voor jy bed toe gaan te vergewe. Dis die sleutel tot persoonlike vrede. Raak dus ernstig daaroor om, soos die Bybel ons vermaan, in genade toe te neem.

Sielskos: Hand 12-13; Mark 4:10-20; Ps 103:13-22; Spr 10:30-32

Wanneer jy vrees en geloof ervaar

2018-04-19
Deuteronomium 31:6 NLV

Enige tyd wanneer jy iets vir die eerste keer probeer, of iets waarin jy voorheen misluk het, of iets wat jy dink te groot vir jou is, sal jy beide vrees en geloof ervaar. Hulle gaan hand aan hand. Een sal die ander een oorwin, maar hulle gaan nooit weg nie. Omdat Israel geen idee gehad het watter uitdagings vir hulle voorgelê het nie of hoe die lewe in die Beloofde Land sou wees nie, het God vir hulle gesê, ‘Wees sterk en hou moed!.. Die Here julle God sal met julle wees. Hy sal julle nie in die steek laat nie en julle nie verlaat nie.’ Dis vandag ook sy belofte aan jou! Dis die vrees vir mislukking wat ons die meeste van die tyd terughou. Tog besef jy wanneer jy terugkyk dat mislukking glad nie permanente skade aanrig nie; jy groei inteendeel as gevolg daarvan. Dr Joan Borysenko skryf: ‘Toe ek by Harvard toegelaat is, was ek seker dat dit as gevolg van ‘n rekenaarfout was. ‘n Prokureursvriend van my raak elke keer angsbevange net voor sy die slotargument voor ‘n jurie moet gee. Selfs wanneer jy ‘n kenner is, verdwyn vrees nie noodwendig nie. Dit is wanneer jy vrees as deel van die reis aanvaar, eerder as om daarvan af weg te hardloop, wat dit jou help om dit te oorwin.’ Om enige plek te kom, moet jy êrens begin, anders gaan jy nêrens nie. Die Amerikaanse essayis Hamilton Wright Mabie het gesê, ‘Die vraag wat elke mens moet beantwoord is nie wat hy sal doen as hy die inkomste, tyd, invloed en opvoedkundige voordele gehad het nie, maar wat hy sal doen met die dinge wat hy het.’ Konfronteer dus jou vrees, neem ‘n tree in geloof en vertrou God vir jou sukses.

Sielskos: Hand 6-7; Mark 3:20-27; Ps 75; Spr 10:22-23

Dis tyd om aan te beweeg!

2018-03-25
Hebreërs 6:1 NLV

Werk dit wat in die verlede gewerk het nie meer vir jou nie? Miskien is dit ‘n werk wat jy ontgroei het, of ‘n verhouding wat jy moet ondersoek, of ‘n metode wat jy moet verander. Maak nie saak wat dit is nie, moenie so ingeburger word dat jy nie kan laat gaan en aanbeweeg wanneer dit nodig is nie. Hulle sê dat die hermietkreef ‘n skulp soek wat hom pas en dan daarin lewe totdat hy dit ontgroei. Op daardie punt hardloop hy oor die bodem van die oseaan en vind ‘n groter skulp – ‘n proses wat hom dwarsdeur sy lewe herhaal. Hier is dus die vraag: Klou jy aan iets vas wat nie meer pas nie net omdat dit gemaklik en bekend is? Dawid het gesê, ‘As ek roep, verhoor my, o God van my geregtigheid! In benoudheid het U vir my ruimte gemaak; wees my genadig, en hoor my gebed!’ (Psalm 4:2 AFR53). Jy moet gewillig wees om uit jou gemaksone te beweeg en ‘n bietjie ‘benoud’ te wees. Dit is wat jou laat groei. Geduld en volharding is kwaliteite om te bewonder, maar hulle werk nie in situasies wat jy ontgroei het nie. In plaas van uit te hou en harder te probeer, moet jy op ‘n sekere punt in jou lewe stop en jouself afvra, ‘Is hierdie situasie goed vir my?’ As jy nie seker is nie, vra God vir ‘…onderskeiding om met insig te kan oordeel’ (1 Konings 3:11 NLV). Wanneer Hy dan vir jou sê wat om te doen – doen dit – selfs al voel dit aan die begin nie baie gemaklik nie. Wanneer God sê dis tyd om aan te beweeg, is dit omdat daar ‘n ander ‘skulp’ daar buite is wat ontwerp is om jou nog beter te pas.

Sielskos: Matt 21:1-16; Ps 118:19-29

Geestelike groei (2)

2017-11-27
1 Korintiërs 13:11 NLV

Mense met ‘n sterk geloof kan jou minderwaardig laat voel as jy jouself met hulle vergelyk. ‘n Bybelonderwyser skryf: ‘Ek het daardie geloofshelde bewonder wie se fleurige getuienisse almal geïnspireer het. Hulle het so veranderd, so seker van hulself, so stabiel voorgekom. Ek het gedink dat God se liefde volgens ‘n merietesisteem uitgedeel word. As ek vandag goed doen, sal Hy my liefhê. As ek misluk, sal Hy nie. Wat ‘n wipwarit! Ek het nie besef dat enigiets wat gebore word, tyd nodig het om te groei en in volwassenheid te ontwikkel nie. Ek het ‘n onmiddellike, kragtige, allesomvattende metamorfose verwag wat my in perfeksie sou transformeer.’ Voel jy dieselfde, asof daar iets verkeerd is met jou omdat jy nooit opmeet nie? Indien dit die geval is, lees die volgende: ‘Toe ek nog klein was, het ek gepraat soos ‘n kind, gedink soos ‘n kind, geredeneer soos ‘n kind. Maar noudat ek volwasse is, het ek die dinge van ‘n kind ontgroei.’ Jy begin as ‘n geestelike baba, dan word jy ‘n geestelike kind, dan ‘n geestelike tiener en uiteindelik word jy ‘n geestelike volwassene. Jy ‘arriveer’ egter nooit. Met jou doen-dit-jouself, vinnige geestelikheid sal jy net ander mense met ‘n valse sin van heiligheid probeer beïndruk. Dit sal jou keer om eerlik met God te wees en sal jou laat dink dat jy verder op jou geestelike reis is as wat jy regtig is. Onthou jy toe jy as kind jou ma se hoëhakskoene of jou pa se werkstewels aangetrek het? Maak nie saak hoe graag jy wou nie, jy kon hulle nie maak pas nie. Dit beteken nie daar was iets fout met jou nie; dit het net beteken dat jy op presies die regte plek vir jou ouderdom was.

Sielskos: Gen 13-16; Joh 11:45-57; Ps 118:10-18; Spr 31:10-13

Word jy uitgedaag?

2017-09-17
1 Korintiërs 9:25 NLV

Wanneer jy geestelik uitgedaag word, groei jou geloof in God. Wanneer jy in jou denkwyses uitgedaag word, word jou ou idees uitgedaag en met nuwe idees vervang. Wanneer jy in jou verhoudings uitgedaag word, verdwyn jou selfsug en groei die liefde. Word jy tans uitgedaag? God laat ons toe om uitdagende omstandighede te ervaar om ons voor te berei vir die wedloop wat Hy ons geroep het om in die lewe te hardloop – en elke nou en dan tref jou siel ‘n muur. Geen hoeveelheid krag of druk kan die probleem beweeg nie. Dit is oefening vir die siel! Dikwels is hierdie oomblikke nie die ware toets nie, dit is net opwarming wat ons vir uitdagings in die toekoms voorberei. Hulle is verwysingspunte wat ontwerp is om ons te keer om paniekerig te raak wanneer ons in die ware wedloop is. Onthou, God laat nooit ‘n persoon toe om vir Hom te hardloop, of saam met Hom te hardloop, wat nie in hulle denke, geloof en vermoë om te lewe en lief te hê uitgedaag is nie. Wanneer jy dus ‘n probleem teëkom wat nie wil beweeg nie, onthou om diep asem te haal en jouself daaraan te herinner dat God jou uitdaag. Dis die uitdaging van die siel wat dit vir ons moontlik maak om situasies en tye te hanteer waar dit voel of ons dit nie gaan maak nie. Vroeër of later sal ons almal moeilike tye en verhoudings teëkom, maar dit is net strekoefeninge van die lewe. As dit dus voel dat jy tot breekpunt gestrek word, moenie tou opgooi nie. Sien dit vir wat dit is – voorbereiding vir die wedloop in die lewe wat God vir jou gekies het.

Sielskos: 2 Kon 6:8-20; Ef 1:15-23