2018-09-23
2 Korintiërs 12:10 NLV
Wanneer jy beledig word, kan jy met ‘n bitsige antwoord reageer, of dit as ‘n geleentheid vir groei sien. Dawid het gesê, ‘Die lyding was goed vir my, want toe het ek u voorskrifte geleer’ (Psalm 119:7 NLV). Die sielkundige dr Brenda Shoshanne sê: ‘Die persoon wat ons beledig is ‘n onderwyser, wat ons help om ons ego te verminder, geduld en deernis te ontwikkel, onvoorwaardelike vergifnis uit te oefen en ons van die lewe en verhoudings te leer. As jy ‘n belediging nie as ‘n belediging sien nie, maar as ‘n les of ‘n gawe, verloor dit sy mag om jou seer te maak. Op ‘n praktiese vlak, wanneer jy beledig word, moenie iets sê nie. Gee jouself tyd. Baie skade word veroorsaak deur terug te slaan, die situasie te eskaleer en dinge te sê wat jy nie bedoel nie. Besef dat dit jou ego is – die valse sin van trots wat te voorskyn kom – en moenie daarmee saam gaan nie.’ Paulus het op ‘n plek gekom waar hy tevrede was met beledigings. Die meeste van ons is nog nie heeltemal daar nie, maar met tyd en oefening kan ons daar kom. Met betrekking tot Judas, skryf ‘n outeur: ‘God sal soms die aksies van ons vyande manipuleer om hulle as vriende te laat werk om Sy wil in ons lewens te vervul. Hy kan jou deur die slegste verhoudings seën, selfs die wat wat pynlik en negatief is. Die tyd, inspanning en pyn wat ons in hulle belê, word nie gemors nie omdat God weet hoe om teenspoed te gebruik om jou te help om jou doel in die lewe te vervul. Op die ou einde sal jy die genade vind om jou vyande te herevalueer en te besef dat, soos Judas, hulle vriende in vermomming is.’
Sielskos: 1 Kon 17:1-6; 1 Kon 18:16-39; 1 Kon 19:9-18; 2 Kon 2:1-12
2018-09-18
2 Korintiërs 4:18 NLV
Ons geniet die seëninge van verandering, maar nie die proses van verandering nie. Ons is wesens van gewoonte. Ons vorm ons gewoontes en ons gewoontes vorm ons. Dan begin ons dinge eksklusief uit ons eie perspektief sien. Wanneer dit gebeur, stagneer ons. Die waarheid is dat daar sonder verandering geen groei is nie. Wanneer jy die regte houding het, word elke ervaring – positief of negatief – ‘n geleentheid. Dink daaroor: Bome het meer as sonlig nodig om vrugte te dra. Die reënseisoen is ook ‘n produktiewe seisoen, omdat dit altyd die oestyd voorafgaan. Jy hoef nie van die reën te hou nie, jy moet net die doel en voordele daarvan verstaan. Die Bybel sê ons word elke dag ‘…al hoe meer verander om soos die Here te lyk…’ (2 Korintiërs 3:18 NLV). Om soos Jesus te word, moet jy Hom egter volg waar Hy jou ook al lei. Dit beteken dat jy Hom deur die wildernis van versoeking, die pyn van verwerping, die verlies van jou reputasie en die oorgawe van jou wil volg en om gereed te wees om na die plek van kruisiging te gaan waar jy vir alle vorme van self-gesentreerde lewe sterf. Om Jesus te volg beteken dat jy môre dalk op ‘n ander plek as vandag sal wees. Sodra jy hierdie beginsel verstaan, sal jy ophou om verandering wat in jou lewe plaasvind teen te staan en begin om God se werk daarin te sien. Paulus sê: ‘…Al is ons uiterlike mens besig om te vergaan, innerlik word ons dag tot dag vernuwe… Ons oog is nie op die sigbare gerig nie, maar op die onsigbare, want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare vir altyd’ (2 Korintiërs 4:16-18 NLV).
Sielskos: Neh 11-13; Luk 22:14-23; Ps 78:56-64; Spr 24:6-10
2018-05-28
Galasiërs 6:2 NLV
Dr Raymond Vath het gesê, ‘Ons moet vir ander doen wat hulle nie vir hulleself kan doen nie, maar ons moet nie vir hulle doen wat hulle nie vir hulleself wil doen nie. Die probleem is om die wysheid te vind om die verskil te weet.’ Jy kan te veel help! Deur vir iemand dinge te doen wat hulle vir hulself kan doen, ondermyn jy hulle selfstandigheid en skep jy ‘n ongesonde afhanklikheid. In plaas daarvan om dus in te storm en oor te neem: 1) Wys vir hulle hanteerbare stappe van aksie. Deur hulle te help om beheer van hulle lewens te neem, bewapen jy hulle teen wanhoop en magteloosheid. Jy help ook so om hulle brose selfvertroue op te bou. ‘n Woord van waarskuwing: Wanneer die krisis onomkeerbare verlies soos ‘n skeisaak of die dood behels, is die werk om eenvoudig deur een dag op ‘n slag te kom, genoeg aksie. 2) Gee hulle hoop. In die diepte van die krisis voel dit of daar geen lig aan die einde van die tonnel is nie – ‘n gevoel dat die lyding vir ewig gaan aanhou. Groei en verbetering kan nie sonder hoop plaasvind nie. Hoop verskaf energie en bring verligting gebaseer op die geloof dat dinge sal verbeter, mee. God belowe, ‘…Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê’ (Jeremia 29:11 NLV). 3) Maak seker dat jy opvolg. Krisisse word selde vinnig opgelos. Alhoewel ‘n lewe uiteindelik ‘n mate van normaliteit sal aanneem, kan daar steeds episodes wees waar die persoon terugval in hartseer, hulpeloosheid en eensaamheid. Jou woorde mag troos bring, maar jou deurlopende aandag sal die persoon help om hulle geloof te behou en te vorder op hulle reis na genesing.
Sielskos: Rig 19:16-21:25; Mark 11:27-33; Ps 45; Spr 13:13-16
2018-05-02
1 Kronieke 4:10 NLV
Jabes het gebid dat God hom op drie spesifieke maniere moet seën: 1) ‘…vergroot my grond…’ Hy het ‘n droom gehad om meer grond te besit en hy het vir God gevra om daardie droom te seën. Wanneer jy ophou droom, verloor jy rigting. Wanneer jy ophou om doelwitte vir jouself te stel, hou jy op groei. Jy moet iets hê waarna jy reik. Solank as wat jou horison vergroot, sal jy geestelik en emosioneel gesond wees. 2) ‘…Wees asseblief met my in alles wat ek doen…’ Jabes het besef dat hy meer verantwoordelikheid sou hê as sy grond vergroot word. Hy sou meer druk en meer eise ervaar en hy sou God se hulp in sy lewe nodig hê. Dus het hy vir God gevra om by hom te wees. Wanneer jy vir God se teenwoordigheid in jou lewe vra, kan jy seker wees dat Hy sal antwoord. 3) ‘…bewaar my van moeilikheid en pyn…’ Jabes het vir God vir beskerming gevra. Hoekom? In daardie dae was jy ‘n groter teiken hoe meer grond jy besit het, hoe meer invloed jy gehad het en hoe bekender jy was. Dis nog steeds so vandag. Hoe suksesvoller jy is, hoe meer kritiek sal jy kry. Hoe meer grond jy besit, hoe meer sal vyande jou aanval. Hoe nader jy aan God groei en hoe sterker jy as Christen word, hoe meer sal die duiwel jou teister, omdat hy nie wil hê dat jy moet groei nie. Jy kan egter seker wees, soos Jabes was, dat jy met God se beskerming niemand of niks hoef te vrees nie. Wil jy bo middelmatigheid uitstyg? Bid dan die gebed wat Jabes gebid het.
Sielskos: Deut 1-2; Mark 6:1-6; Ps 35; Spr 11:19-21
2018-04-28
Spreuke 17:27 NLV
Dis nie genoeg om die regte antwoorde te hê nie; jy het die regte benadering nodig. Goeie idees en raad word gemors wanneer jy dit by mense se kele afdruk. Wysheid beteken om die regte ding, op die regte tyd, op die regte manier te sê. ‘Iemand wat kennis het, praat nie baie nie. Iemand met insig bly kalm.’ Jou pogings om iemand te help verander sal misluk, of erger, hulle wegstoot, tensy jy hulle met liefde en nederigheid benader. Die meeste mense weet reeds wat hulle probleem is. Die kans is goed dat hulle al ‘n rukkie daarmee worstel en diep binne-in hulle wil hulle beter doen. ‘Mooi woorde is soos heuning; dit is goed vir die gees en bevorderlik vir sy lewe’ (Spreuke 16:24 NLV). Jesus het gesê, ‘en julle sal begryp wat die waarheid beteken, en die waarheid sal julle vrymaak’ (Johannes 8:32 NLV). As mense dus nie die waarheid op die manier wat jy dit deel wil aanvaar nie, is die probleem dalk deels joune. Die voormalige Amerikaanse Senaat Kapelaan, Richard Halverson, skryf: ‘Jy kan jou idees aan mense as koeëls of as sade aanbied. Jy kan hulle skiet of hulle saai. Idees wat as koeëls gebruik word maak inspirasie en motivering dood. Idees wat as sade gebruik word skiet wortel, groei en dra vrugte in die lewe waarin hulle geplant is. Daar is egter ‘n risiko hieraan verbonde: Sodra dit deel word van die persoon waarin dit geplant is, sal jy waarskynlik geen krediet vir jou oorspronklike idee kry nie. As jy egter gewillig is om sonder die krediet klaar te kom, sal jy ‘n groot oes hê.’ Die woord vir jou vandag is dus: Kies die regte benadering.
Sielskos: Hand 22-23; Mark 5:11-20; Ps 144:9-15; Spr 11:12-13