Hoe om ‘n toets te oorkom

2017-09-01
Jakobus 1:4 NLV

Jakobus skryf: ‘…wanneer julle in allerhande beproewings beland, moet julle eintlik baie bly wees. Julle weet mos: Wanneer ‘n mens se geloof ‘n toets deurstaan, veroorsaak dit dat jy kan volhard. Julle moet egter enduit volhard. Dan sal julle julle lewensdoel bereik en geestelik gesond wees. Julle sal niks kortkom nie. Vra vir God as jy nie kan agterkom wat Hy wil hê jy moet doen nie… Maar, as ‘n mens bid, moet jy die vertroue hê dat God sal antwoord, want iemand wat twyfel, is soos ‘n brander in die see wat deur die wind aangejaag… word. So iemand kan mos nie dink dat jy iets van die Here sal ontvang nie. Hy is iemand wat nie tot ‘n besluit kan kom nie; op so iemand kan jy nie peil trek nie’ (verse 2-8 NLV). Let drie dinge oor hierdie Skrifgedeelte op: 1) Jou geloof groei wanneer dit getoets word. Jy sal nooit die krag van jou anker ken totdat jy deur die storm oorval word nie. 2) God sal vir jou wysheid gee om die toets te hanteer. Hy sal nie noodwendig al jou ‘hoekoms’ beantwoord nie. In plaas van om Hom te bevraagteken, bid eerder, ‘Here, hoe wil U hierdie toets gebruik om my te help om geestelik te ontwikkel? Hoe kan ek saam met U werk om die maksimum voordeel hieruit te trek? Watter veranderinge wil U hê moet ek in my lewe maak?’ 3) Jy moet gewillig wees om gehoorsaam te wees. Dis moontlik om God vir wysheid te vra en dan daaroor te debatteer, te wag of ander dinge te doen terwyl jy besluit of jy gehoorsaam gaan wees. Wanneer God jou sy wysheid gee, moet jou eerste reaksie ‘…Ja Here, u dienaar luister’ (1 Samuel 3:10 NLV), wees.

Sielskos: Jos 8:30-10:43; Mark 9:30-37; Ps 111; Spr 23:4-6

Lesse uit die lewe van Dawid (5)

2017-07-25
2 Samuel 23:1 NLV

Eendag sal ons almal doodgaan en ons laaste woorde word dikwels as die belangrikste beskou. Die vraag is, het jy jou lewe tot jou volle potensiaal geleef en God se doel vir jou lewe vervul? Die Bybel sê, ‘Hier volg die laaste woorde van Dawid…’ Wat sal hy sê? Sy storie is ‘n mengsel van goed en sleg, van oorwinnings en mislukkings. Gedurende Dawid se lewe het sy seun sy dogter verkrag, een seun het ‘n ander een vermoor, sy vrou het haar rug op hom gedraai, sy vriende het hom verraai, sy mentor het hom probeer vermoor, sy familie het hom verwerp en hy het baie tyd in grotte weggekruip. Nou praat Dawid die laaste keer met ons. Sal hy oor Goliat praat? Oor Saul? Oor Batseba? Nee. “…Dawid… die man vir wie God aansien gegee het, die gesalfde van die God van Jakob, die geliefde psalmdigter van Israel… [het gesê]…’ Die Gees van die Here het deur my gepraat; sy woorde was op my lippe. Die God van Israel het gepraat, die Rots van Israel het vir my gesê: ‘Die mens wat regeer met regverdigheid, wat regeer in eerbied teenoor God, hy is soos die môrelig wanneer die son in die oggend verskyn in ‘n wolklose hemel, soos helderheid ná die reën wat jong gras uit die aarde laat groei.’ Is my huis dan nie by God nie? Het Hy dan nie ‘n blywende verbond met my gemaak, een wat in elke opsig bevestig, gewaarborg is nie? Al my redding, al my vreugde – is dit nie Hý wat dit laat groei nie?'” (verse 1-5 NLV). Hoekom is hierdie woorde in die Skrif opgeneem? Tot voordeel van diegene van ons wat, soos Dawid, nie perfek is nie, maar wie se harte nooit ophou om God te volg nie.

Sielskos: 1 Tim 4-6; Mat 27:33-44; Ps 42:6-11; Spr 19:15-17