Kies om oorwinnend te lewe

2018-09-27
1 Johannes 5:4 NLV

Die Bybel sê: ‘…elkeen wat God as Vader het, oorwin die wêreld. Die oorwinning wat die wêreld verower het, is ons geloof.’ Om oorwinnend te lewe, moet jy die volgende drie dinge doen: 1) Beperk die Duiwel daarvan om in jou lewe te beweeg. Jesus het gesê: ‘Dít verseker Ek julle: Watter dinge julle ook al op aarde bind, sal in die hemel gebind wees. En watter dinge julle ook op die aarde losmaak, sal in die hemel losgemaak wees. Boonop verseker Ek julle: As twee van julle hier op aarde saamstem oor enigiets wat julle van God wil vra, sal my hemelse Vader dit vir julle doen. Waar twee of drie bymekaar is, is Ek immers ook saam met hulle daar’ (Matteus 18:18-20 NLV). Satan wil nie hê dat jy moet weet dat jy God-gegewe mag het om sy bewegings in jou lewe te beperk nie, maar jy het. Gebruik dit! 2) Durf om te glo en uit te reik na dit wat God aan jou beloof het. Paulus sê, ‘…wie ruimhartig saai, sal volop oes’ (2 Korintiërs 9:6 NLV). ‘n Saadjie is enigiets wat jy vir ‘n gewenste resultaat plant en ‘n oes is enigiets wat jy besluit om van God af te ontvang. Beide vereis ‘n daad van geloof. Nie net is God jou bron van voorsiening nie, Hy is ook onbeperk, onpartydig en vrygewig. 3) Maak die dromer in jou wakker. Die Bybel sê, ‘…Julle oumense sal drome droom. Jongmense sal visioene sien. In dié tyd sal Ek my Gees selfs op slawe en slavinne uitstort’ (Joël 2:28-29 NLV). Jou seisoen in die lewe is geen probleem vir God nie. Vra Hom net om jou geloof weer aan die brand te blaas en jou visie te herfokus. Kies om oorwinnend te lewe!

Sielskos: Sag 9-11; Luk 23:13-25; Ps 34; Spr 24:29-31

God weet presies waar jy is

2018-09-25
Psalm 40:2-3 NLV

Toe ‘n aardbewing Haïti getref het, het ‘n noodwerker wat onder ‘n hotel wat ineengestort het vasgekeer was, gebid, ‘Here, ek was nie onlangs baie met U in kontak nie. Nou het ek U meer as ooit nodig.’ Hy skryf: ‘Ek het ‘n geluid gehoor. ‘Wie’s daar?’ het ek uitgroep. ‘Jim,’ het ‘n man geantwoord. Hy en vyf ander mense was ook vasgekeer. ‘Wil julle saam met my bid?’ het ek gevra. ‘Ja,’ het hy geantwoord. Dus het ek gesê, ‘Here, ons vra U vir ‘n wonderwerk. Red ons asseblief.’ Ons het gewag, maar niemand het gekom nie. Ek het gedreineerd gevoel. Geen kos en water vir vier-en-twintig uur nie en ek het ‘n dokter nodig gehad. Ek het my oë toegemaak, seker dat ek hulle nooit weer sou oopmaak nie. ‘n Stem het uitgeroep en ek het wakker geskrik. ‘n Oorlewende het deur ‘n klein gaatjie met ‘n reddingspan kontak gemaak. ‘n Uur het verbygegaan, en toe twee. ‘Ek gaan hier doodgaan en daar is niks wat ek daaraan kan doen nie.’ Toe het ‘n gedagte by my opgekom: Loof My. Ek het begin sing: ‘Great is Thy faithfulness; morning by morning new mercies I see. Be still my soul.’ Lofprysingsgesange aan die Een wat presies geweet het waar ek is. Ek het God se teenwoordigheid aangevoel en Hom hoor fluister, ‘Vertrou My met alles,’ en ek het dit alles laat gaan. ‘Laat u wil geskied, Here.’ Ure later het ‘n span reddingswerkers my na veiligheid opgetrek en my na die hospitaal toe geneem waar my vrou gewag het. ‘Ek het gedink jy is dood,’ het sy gesê. ‘Ek ook,’ het ek gefluister. Ek sou dood gewees het as dit nie was vir dit wat ek saam met my in daardie donker plek gehad het nie – my geloof wat lewendiger as ooit is.’

Sielskos: Lev 23:33-44; Joh 7:1-40; Sag 14:16-21

Toets die grond van jou hart

2018-09-21
Markus 4:14 NLV

In Jesus se vergelyking van die saaier, het die saad op vier tipes grond geval en vier verskillende resultate geproduseer. ‘Hulle by wie die saad op die voetpaadjie val, verteenwoordig die mense wat die woord hoor, maar dan kom Satan dadelik en vat die woord wat op hulle lewens gesaai is, weg. En hulle by wie op klipperige grond gesaai is, verteenwoordig die mense wat die woord hoor en dit dadelik vol blydskap aanneem. Maar soos dit met jong plantjies in sulke grond gaan, skiet hulle nie diep wortel nie. Hulle hou net vir ‘n rukkie. Sodra daar probleme of vervolging ter wille van die Goeie Nuus kom, struikel hulle dadelik in die geloof. Daardie mense by wie tussen die dorings gesaai is, verteenwoordig die mense wat die woord hoor, maar die bekommernisse van hierdie lewe en die lokstem van die rykdom en die hunkering na allerhande goed verstik gou die Woord, en dit bly sonder vrug. Maar hulle by wie op die goeie grond gesaai is, is die mense wat die woord hoor en dit aanneem en ‘n groot oes oplewer – party 30, party 60, party selfs 100 maal wat oorspronklik gesaai is’ (verse 15-20 NLV). Die sade van God se Woord kan nie faal nie: ‘…dit sal… die doel bereik waarvoor Ek dit gestuur het’ (Jesaja 55:11 NLV). Indien God se beloftes nie in jou lewe vervul word nie, moet jy jouself afvra, ‘Watter tipe grond is ek?’ Is jy ‘n voetpaadjie mens – met ‘n dun vel wat maklik aanstoot neem? ‘n Klipperige persoon met geen geestelike wortelsisteem nie? Is jou grond vol dorings? Word die geestelike lewe in jou hart verstik? Of is jy ryk, vrugbare grond wat resultate produseer? Toets die grond van jou hart.

Sielskos: Miga 5-7; Luk 22:39-53; Ps 24; Spr 24:15-18

Wat is in ‘n naam? Alles (4)

2018-09-06
Rigters 6:16, 23 NLV

Die naam Jehova Salom: Die Here is ons vrede, is deur Gideon ontdek toe die Here hom beveel het om Israel teen die Midianiete te lei – ‘n posisie wat hy gevoel het ver bo sy vuurmaakplek is. ‘…hoe kan ek Israel red? My familie is een van die swakstes… Ek is die onbelangrikste lid van my gesin’ (vers 15 NLV). Hier is hoe die Here gereageer het: ‘Ek is dan saam met jou!… Jy sal al die Midianiete verslaan asof jy net teen een man veg.’ ‘n Bang Gideon het God geglo en voor die geveg plaasgevind of gewen is, het hy deur geloof reeds die vrede gesien wat die Here verseker het. Dus het hy ‘n altaar vir Jehova Salom gebou: ‘…Die Here is Vrede…’ (vers 24 NLV). Ons aanvaar dikwels dat ons eers vrede sal hê wanneer ons omstandighede verander. Dan leer ons soos Gideon dat innerlike vrede nie van die verandering van ons uiterlike omstandighede afhang nie; dit hang van ons geloof af dat God met ons is en dat ons sy innerlike vrede ervaar. Jesus belowe: ‘Ek laat vir julle vrede na; my vrede deel Ek met julle. Ek gee nie soos die wêreld gee nie. Julle moet regtig nie ontsteld of beangs word nie’ (Johannes 14:27 NLV). Hoe onbeholpe jy vandag dalk mag voel om jou uitdagings te trotseer, onthou Christus se woorde: ‘Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin’ (Johannes 16:33 NLV). Let op, jou werk is om moed te skep en Jehova Salom te vertrou om die res te hanteer!

Sielskos: Jos 14-15; Luk 20:1-8; Ps 142; Spr 23:7-9

Hoe om vrees te oorkom (5)

2018-08-09
Romeine 10:17 DB

Iemand het geskryf: ‘Two natures beat within my breast; the one is foul, the other blessed. The one I love, the other I hate; the one I feed will dominate.’ Vrees en geloof sal altyd in jou lewe teenwoordig wees en die een wat jy voed, sal bo uitkom. Jy kan nie verwag dat vrees eenvoudig sal verdwyn nie. As jy op jou vrese fokus, aandag aan hulle gee en tot hulle ingee, sal hulle vermeerder. Die manier om hulle te oorkom is om hulle uit te honger. Moet hulle nie jou tyd en energie gee nie. Moenie hulle met skinderstories, negatiewe nuus of bangmaak rolprente voed nie. Fokus op jou geloof en voed dit elke dag met God se Woord (sien Romeine 10:17). Hoe meer tyd en energie jy aan jou geloof wy, hoe sterker sal dit word. Enige tyd wat jy vir iets bang voel maar dit steeds doen, herprogrammeer jy jou houding. Met ander woorde, wanneer jy bang voel, beteken dit ‘gaan’ in plaas van ‘stop’; dit beteken ‘baklei harder’ eerder as ‘gee op.’ Die belangrikste tree wat jy kan neem om jou vrees te oorkom is om God te vertrou om die ding wat jy dink jy nie kan doen nie, te doen. Maak nie saak hoe sterk die houvas is wat die vrees op jou het nie, dit kan oorkom word, omdat die vrees in jou gedagtes is en jou gedagtes deur die Woord van God vernuwe kan word. Hier is die sleutel daartoe: ‘Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, maar laat God julle omvorm deurdat Hy julle gedenkpatrone vernuwe. Dan sal julle goed kan onderskei wat Hý wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is’ (Romeine 12:2 NLV).

Sielskos: 1 Kro 6:1-7:19; Luk 12:1-12; Ps 119:9-16; Spr 20:19-21