2018-11-25
Maleagi 3:10 NLV
God is ‘n noukeurige beplanner. Hy het byvoorbeeld ‘n banket genaamd ‘die bruilofsfees van die Lam’ tweeduisend jaar vooruit beplan (sien Openbaring 19:9). Hy het vir Noag opdrag gegee om die ark ‘…135 meter lank, 22.5 meter breed en 13.5 meter hoog…’ (Genesis 6:15 NLV), te bou. Hy het vir Moses die spesifieke kleure en materiaal wat Hy vir die tabernakel wou gehad het, gegee (sien Eksodus 26). Kyk ook hoe presies hy die seisoene beplan en die sterre posisioneer. Kan jy jouself indink dat so ‘n God nie ‘n plan vir jou finansies – die produk van jou werkslewe – sal hê nie? Verseker nie! In die Skrif sê Hy: ‘…Bring al die tiendes na die stoorkamers… Toets My hierin of Ek nie vir julle die vensters van die hemel sal oopmaak nie. Ek sal voorspoed op julle laat reën wat meer as genoeg vir julle sal wees!’ Let op: al die tiendes – dit beteken voor jou belasting en ander aftrekkings. Hoekom? Omdat Hy die eerste in jou lewe in alles wil wees – insluitend jou finansies. God het ook vir sy volk gesê, ‘…Julle het die tiendes en offerandes gesteel!’ (Maleagi 3:8 NLV). Stop en dink aan die woord ‘offerandes’ of anders gestel, ‘aanbod’. Wanneer jy jou huis verkoop, besluit jy om die ‘aanbod’ van die koper te aanvaar. In hierdie Skrifgedeelte sê God inderwaarheid, ‘Tot jy vir My dit gee waarop ek geregtig is (die tiende), hoekom moet Ek enige ander offerandes of aanbiedinge aanvaar?’ Om jou tiende te gee gaan nie net oor geld nie, dit gaan oor geloof en gehoorsaamheid. Wanneer jy jou tiende uit jou inkomste gee, kan jy verwag dat God sy seën op jou sal uitstort soos Hy beloof het. God sê, ‘…Toets My hierin…’ Toets God en kyk wat gebeur!
Sielskos: Luk 1:26-56; Luk 2; Luk 2:41-52; Luk 8:19-21
2018-11-18
1 Samuel 17:40 NLV
In Dawid se tyd het hulle deur middel van ‘verteenwoordiging’ geveg. Een man sou die nasie as ‘n geheel beveg en die land van die soldaat wat verloor, sou onderdanig aan die land van die wenner word. Dus was die geveg tussen Dawid en Goliat inderwaarheid ‘n geveg tussen Israel en die Filistyne. Ons is bekend met Dawid se oorwinning oor die reus met geloof, ‘n klippie en ‘n slingervel. Tog sê die Skrif vir ons dat hy nie net een klip opgetel het nie, maar ‘…vyf gladde klippies…’ Hoekom? Dit was nie ‘n gebrek aan geloof nie – hy het geweet dat Goliat vier broers het. Let op: 1) Oorwinnaars van reuse besef dat hulle reus groter kwessies verteenwoordig. ‘n Reus staan nooit alleen nie, agter hom lê sy redes. Verslawing, mishandeling en woede word almal deur ander kwessies voortgedryf en ondersteun. Iewers agter die ooglopende reus is sy ondersteunende broers – pyn, skuldgevoelens, verlies en skaamte. Dawid was voorbereid met vyf klippies – een vir Goliat en een vir elk van sy vier broers. Wat lê agter jou reus? Met God se hulp kan jy beide jou reus en sy ondersteuningspan oorwin. 2) Oorwinnaars van reuse word nie deur die uitdagings oorweldig nie. Moet nooit toelaat dat jou vrese jou geloof oorweldig nie. Die Bybel sê dat ‘…God het ons nie ‘n gees van skugterheid gegee nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing’ (2 Timoteus 1:7 NLV). Vrees sal op die mislukkings in die verlede voed, maar jy kan nie toelaat dat gister se vrees vandag se geloof oorweldig nie. Neem dus vandag jou mislukkings; maak ‘n lys daarvan op ‘n stuk papier en skryf in groot letters bo-aan die bladsy: ‘Dinge wat ek nie weer hoef te probeer nie! Ek het die les geleer.’
Sielskos: Dan 1:3-21; Dan 3:7-30; Dan 5:10-12; Dan 9:1-19
2018-11-15
Psalm 18:40 NLV
Elkeen van ons is in ‘n stryd gewikkel, maar nie elkeen van ons is besig om te wen nie. Wenners kom in verskillende gedaantes voor, maar hulle het almal een ding in gemeen: geloof wat nie ophou nie! Niemand het meer struikelblokke in die lewe as Dawid gehad nie, maar hy het die belangrikheid om die regte perspektief te behou, verstaan. Hy het gesê, ‘U het my met krag toegerus vir die stryd…’ Die genade wat jy van God ontvang, sal altyd gelykstaande wees aan die uitdagings waar voor jy te staan kom. Altyd! Het jy geweet dat Lord Nelson, Engeland se beroemde held van die see, sy hele lewe lank aan seesiekheid gely het? Tog het hierdie man wat Napoleon se vloot gesink het, geweier dat sy persoonlike stryd hom van sy lotsbestemming beroof. Hy het nie net geleer om met sy swakheid saam te leef nie, maar om dit elke dag te oorwin. Almal van ons het slagvelde, maar met God se krag kan ons dit oorwin. ‘U het my met krag toegerus vir die stryd…’ Daar is ‘n verhaal van ‘n seuntjie wat sy regterhand in ‘n ongeluk verloor het. Toe die dokter hom oor sy gebrek uitvra, het hy geantwoord, ‘Ek het nie ‘n gebrek nie; ek het net nie ‘n regterhand nie!’ Later het die dokter uitgevind dat hierdie seuntjie voortgegaan het om een van die spelers te word wat die meeste doele in sy hoërskool se basketbalspan aangeteken het. Sy filosofie in die lewe was: Dit gaan nie oor wat jy verloor het nie, maar wat jy oor het wat tel! Dis ‘n wenhouding; en met God se hulp kan jy dit ook ontwikkel.
Sielskos: Rom 9:17-11:36; Joh 10:22-42; Ps 83:9-18; Spr 29:23-27
2018-11-03
Genesis 37:3 NLV
Kom ons kyk na die drie verskillende kledingstukke wat Josef gedra het, soos dit jou lewe as Christen verteenwoordig. Eerstens, die kleed van verlossing. Let op, dit was ‘n ‘geskenk’ van sy pa; Josef het nooit ‘n sent daarvoor betaal, of ‘n enkele steek daarvan gestik; of ‘n sentimeter materiaal daarvoor verskaf nie. Dis die verhaal van ons verlossing, nie waar nie? Die Bybel sê, ‘Dit is mos dié onverdiende goedheid wat julle gered het toe julle tot geloof gekom het. En julle geloof kom nie uit julleself nie, maar is ‘n gawe van God. Dit is nie die gevolg van julle dade nie. Niemand kan daaroor grootpraat nie’ (Efesiërs 2:8-9 NV). Gemotiveer deur jaloesie en wrokkigheid, het Josef se broers hom in ‘n put gegooi en sy kleed in ‘n bok se bloed gedoop om hulle pa te oortuig dat hy deur ‘n wilde dier opgeëet is. Kry jy die prentjie? ‘…die bloed van Jesus, sy Seun, maak ons skoon van alle sonde’ (1 Johannes 1:7 NLV). In die Ou Testament se tyd, wanneer iemand gesondig het, het hulle ‘n offerlam na die altaar toe gebring waar die priester die lam se bloed as betaling van hulle sondes geoffer het. Die priester het egter nie die persoon ondersoek nie, hy het die lam ondersoek. As die lam ‘waardig’ was, is die persoon aanvaar en is daar vir hulle sondes boete gedoen. Die oomblik wat jy dus jou sonde bely en bid, ‘Vader, ek kom na U in die naam van Jesus, die Lam van God,’ is jy heeltemal vergewe en aanvaarbaar. ‘Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God. Hy sal aan ons sy deernis en onverdiende goedheid bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word’ (Hebreërs 4:16 NLV).
Sielskos: Jes 38-41; Joh 7:45-53; Ps 9; Spr 28:13-16
2018-10-26
Psalm 119:59 NLV
Denkers: Denkers hou daarvan om alles te weet. Hulle is die ondersoekers, wetenskaplikes en uitvinders onder ons. Hulle hou daarvan om waarhede te ontdek wat niemand anders al ontdek het nie en om kennis, vaardighede en stokperdjies baas te raak. Aan die negatiewe kant, kan denkers introverte wees; hulle geniet hulle eie spasie. Wat is dus die sonde wat denkers kan laat struikel? a) Onsensitiwiteit teenoor ander. Soms is denkers liewer daarvoor om reg te wees as wat hulle vir die mense om hulle is. Hulle is nie altyd gemaklik daarmee om emosie of liefde te bewys nie. Hulle is geneig om hulle gevoelens indirek of deur gebare uit te druk, sodat dit kan voel asof hulle nemers en nie gewers is nie. Hulle hou nie daarvan om argumente te verloor nie of om onderbreek te word nie. Hulle geniet afsondering, vir ure en selfs dae aaneen. Dit beteken nie dat hulle meer geestelik as die res van ons is nie; dit beteken net dat hulle ‘n laer behoefte aan gemeenskap en konneksies het. Die probleem is dat ons nie geskape is om solo te vlieg nie. Jy kan net geestelik groei wanneer jy aan ander gee en bereid is om van hulle te ontvang. Jesus het gesê, ‘As julle liefde teenoor mekaar beoefen, sal almal daaraan sien dat julle my dissipels is’ (Johannes 13:35 NLV). b) Denkers sukkel dikwels met die konsep van ‘geloof.’ Dit maak hulle nie slegte mense nie; die meeste is eerlike twyfelaars. Geloof en rede staan nie noodwendig teenoor mekaar nie, maar wanneer rede jou nie verder kan neem nie, stel geloof in God jou in staat om vorentoe te kan beweeg. Die lewe sal jou situasies gee wat rede alleen nie kan oplos nie – dis dan wanneer jy geloof in God nodig het.
Sielskos: Jes 12-16; Joh 6:25-34; Ps 85; Spr 27:20-22