Gee jou kinders selfvertroue

2019-02-05
Spreuke 22:6 DB

Die joernalis William Hodding Carter het geskryf: ‘Daar is net twee blywende erflatings wat ons kan hoop om vir ons kinders te gee. Een is wortels; die ander een is vlerke.’ Kinders wat weet dat hulle ouers hulle onvoorwaardelik liefhet, het wortels. Gevolglik is hulle dus in staat om teen enigiets wat die lewe hulle mee gooi, op te staan. Op dieselfde manier, wanneer jy in jou kinders selfvertroue aanwakker en hulle aanmoedig om te droom, gee jy vir hulle vlerke. Enige tyd wanneer kinders die wil om te wen gegee word, is hulle al klaar halfpad op die pad na sukses. As jy hulle egter daarsonder laat grootword, is hulle reeds halfpad op pad na mislukking. Dit beteken dat jy as ouer geloof in jou kind moet demonstreer, sodat hulle kan leer om geloof in hulself te hê. Elke kind het binne-in hom ‘n God-gegewe saadjie vir grootheid en wanneer jy hom of haar laat weet dat jy in hulle glo, gee jy daardie saadjie die geleentheid om te groei. Het jy al agtergekom hoe mense in ooreenstemming met jou verwagtinge presteer of misluk? Wanneer jy aanhoudend jou kinders kritiseer, sal hulle negatief en vol vrees grootword en aan hulself twyfel. As jy egter in hulle glo en aanneem dat hulle goed sal doen, sal hulle die ekstra pad stap om aan jou verwagtinge te voldoen. Dis jou geloof in hulle wat die omgewing skep waarin hulle leer om te vlieg! As jy vir hulle geld gee, sal hulle dit spandeer. As jy vir hulle hulpbronne gee, sal hulle dit mors. As jy egter vir hulle geloof in God en hulself gee, is die kans goed dat hulle in die lewe sal uitblink.

Sielskos: Gen 13-16; Luk 8:16-25; Ps 120; Spr 3:33-35

Waag dit om te droom

2019-01-19
Filippense 3:13 DB

Om met vertroue vorentoe op jou lewensreis te beweeg, het jy ‘n betroubare padkaart nodig. In die Bybel word dit ‘n droom of visie genoem. Vir Moses was dit om God se mense uit slawerny na die Beloofde Land toe te lei. Vir Florence Nightingale het dit beteken om genesing en hoop aan die gewonde en sterwende soldate in die Krim-oorlog te bring. Vir Thomas Edison was dit om die wêreld met gloeilampe te verlig. Die feit bly staan, enigiemand wat al ooit ‘n verskil in die lewe gemaak het, het met ‘n droom begin wat uiteindelik hulle lewenspassie geword het. Vir die uitgewers van hierdie dagstukkies, is dit om God se Woord in die hande van soveel mense as moontlik in elke nasie op aarde te plaas! Hoe weet jy of jou visie van God af kom? Dit sal jou seën en vir ander tot voordeel wees. As jou droom egter is om in ‘n herehuis te bly en ‘n fortuin vir jouself bymekaar te maak, moenie daarop staatmaak dat God dit sal onderskryf nie. Inspirasie sonder perspirasie is net ‘n dagdroom. Veertig persent van die mense wat jy ontmoet, het wonderlike idees, maar al wat hulle daaraan doen, is om daaroor te praat. Die ander veertig persent van mense werk hard en sal gewillig wees om hulle alles vir ‘n droom te gee – maar hulle het nie een nie. Net die laaste twintig persent van mense het ‘n droom en die geloof om dit te bewaarheid. Selfs as jy deel van hierdie laaste groep is, is daar geen waarborge dat jy suksesvol sal wees nie. Jy het egter ‘n goeie kans – beter as tagtig persent van die mense om jou. Gaan dus voort – waag dit om te droom.

Sielskos: Jes 63-66; Luk 4:14-30; Ps 89:15-37; Spr 2:21-22

Ontvang van God

2019-01-14
Markus 11:23 NLV

Jy moet drie dinge doen om dit wat God in sy Woord belowe het, te ontvang. Eerstens, neem ‘n besluit. Vat sy belofte vas en moenie laat gaan nie. God reageer op ‘n geloof wat uithou en ‘n besluit wat geneem is: ‘…by God is alles moontlik!’ (Matteus 19:26 NLV). Die voormalige bofbalster, Sam Ewing, het gesê: ‘Niks is so vernederend soos om toe te kyk hoe iemand iets doen wat jy gesê het nie gedoen kan word nie.’ Tweedens, visualiseer jou oorwinning. Voor konstruksie begin, het die argitek reeds die eindresultaat in sy of haar gedagtes gesien. Deur geloof het Abraham sy kinders ‘gesien’; hy het hulle elke keer getel wanneer hy na die sterre opgekyk het (sien Genesis 15:5). Gebruik jou geheue om weer oorwinnings in die verlede te sien en gebruik jou verbeelding om toekomstige oorwinnings te sien. Dis wat Dawid gedoen het toe hy Goliat verslaan het. Jy moet jou reus in die gesig kyk en verklaar: ‘In die Naam van die Here gaan jy val.’ Derdens, spreek tot jou situasie. Jesus het gesê: ‘… Julle moet geloof in God hê. Dit verseker ek julle, julle kan vir hierdie berg sê: ‘Mag God jou oplig en in die see gooi,’ en dit sal so gebeur. Al wat nodig is, is dat julle regtig sal glo en nie in julle harte twyfel nie’ (Markus 11:22-23 NLV). Moenie net oor jou berg praat nie, praat met hom! Maak seker dat dit wat jy sê, in lyn met God se Woord is. Maak sy Woorde jou woorde en die berg sal jou slaaf word. Hy moet – want Jesus het so gesê!

Sielskos: Jes 42-44; Luk 2:41-52; Ps 74:12-23; Spr 2:7-8

Hou aan om God te glo en dit sal gebeur

2018-12-12
Habakuk 2:3 NLV

Het God jou iets belowe wat jy menslik gesproke nie kan sien hoe dit kan gebeur nie? Sukkel jy om daarvoor te wag? Lees hierdie Skrifgedeelte: ‘Wag geduldig, al voel dit of dit stadig gaan. Wees seker dit gaan gebeur, dit sal nie onnodig talm nie.’ God doen dinge volgens sy skedule en jou afspraak is nog steeds op sy kalender. Weet verseker dat niks wat die Vyand doen God se plan vir jou lewe kan vooruit loop nie. Wanneer Hy jou ‘n belofte gee, is dit soos ‘n saadjie. Dit moet eerstens in die vrugbare grond van geloof val en tyd gegee word om te groei. Dan moet dit gereeld deur gebed en die Woord van God natgegooi word. Dit sal nie gebeur omdat jy dit druk en probeer manipuleer nie: ‘…Nie met mag of krag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige’ (Sagaria 4:6 NLV). Die verhaal van Josef se lewe kan met hierdie Skrifgedeelte opgesom word: ‘Sy swaarkry het aangehou totdat God se plan waar geword het…’ (Psalm 105:19 DB). Hoekom word iets getoets? Om die krag daarvan te openbaar; om te sien of dit onder druk ineenstort. Wat het God aan jou belowe? Glo jy Hom? Hoe sterk is jou geloof? As dit swak is, sal God jou terug in die skool van geloof plaas sodat jy die lesse kan leer en die toetse kan slaag. ‘As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel. Wie tot God wil nader, moet glo dat Hy werklik dáár is en dat Hy dié wat na Hom soek, daadwerklik beloon’ (Hebreërs 11:6 NLV). Die woord vir jou vandag is: Hou aan om God te glo en dit sal gebeur.

Sielskos: Gen 47-49; Joh 19:25-42; Ps 150; Pred 5:10-12

Dis ‘n interne belewenis (2)

2018-12-02
Johannes 16:7 NLV

Selfs toe die dissipels se harte seer was oor Jesus se vertrek, het Hy hulle verseker dat dit tot hulle voordeel was, omdat dit ‘n nuwe era van mag en outoriteit aan hulle sou bekendmaak (sien Johannes 14:12). Dit was nie die einde nie, maar ‘n voortsetting van Christus se bediening, soos die Heilige Gees die aflosstokkie uit die Seun se hand geneem het en dit in hulle hande geplaas het. Die Seun sou weggaan, maar die Gees sou ‘…vir altyd by [hulle] wees…’ (Johannes 14:16 NLV). Dit was hulle ‘voordeel’. Die Gees sou hulle menslike liggame binnegaan en permanent in hulle woon! Dis God se Gees wat ons as sy permanente woonplek kies. Het jy al ooit nagedink oor die ‘voordeel’ wat dit vir jou beteken? Jy mag dalk byvoorbeeld môre wakker word en gestres, moeg en geïrriteerd voel en hierdie gevoelens kan maklik jou dag dikteer. Omdat die Gees egter in jou woon, hoef hierdie dinge jou nie te beheer nie. Paulus skryf, ‘Of verstaan julle nie dat julle liggame ‘n tempel van die Heilige Gees is wat in julle woon… nie?..’ (1 Korintiërs 6:19 NLV). Sodra jy daardie belofte deur geloof aanneem, word jy God se tempel. Jy kan by die werk wees, jou kinders skool toe vat, met die hond stap, wag vir die biopsie se resultate, of die begrafnis van jou beste vriend bywoon en God se Gees sal elke sekonde saam met jou wees. Kan jy nou sien hoekom Jesus vir sy dissipels gesê het dat dit goed is dat Hy weggaan en vir hulle die Heilige Gees stuur? Wat jy ookal doen, moenie dat hierdie lewensveranderende waarheid by jou verbygaan nie!

Sielskos: Luk 10:38-42; Joh 11:1-44; Joh 12:1-3