2019-11-29
Matteus 25:23 NLV
In 1975 het ‘n lae-vlak Hewlett Packard ingenieur genaamd Steve Wozniak, van wie niemand al gehoor het nie, ‘n droom met sy vriend, Steve Jobs, gedeel. Dit het gegaan oor om ‘n verbruikersvriendelike persoonlike rekenaar te bou en dit aan die massas regoor die wêreld te verkoop. Die twee vriende het maande aaneen gewerk om hulle eie kompakte persoonlike rekenaar te skep. Toe hulle dit egter aan Hewlett Packard, een van die wêreld se grootste maatskappye, aangebied het, het die grootkoppe in die maatskappy nie die ontsaglike potensiaal daarvan raakgesien nie en het hulle dit afgekeur. Wozniak en Jobs het toe op hulle eie aangegaan en ‘n klein maatskappy genaamd Apple Computers gestig – en die rekenaarindustrie op sy kop gekeer! Daar is nie ‘n tekort aan mense wat vir jou sal sê: ‘Dit kan nie gedoen word,’ of ‘Dit kan nie werk,’ nie. Sulke mense word ‘droommoordenaars’ genoem – en as jy na hulle luister sal jy tou opgooi nog voor jy begin het. Agter elke groot prestasie sal jy gewone mense met drome, wat gewillig is om die verantwoordelikheid en risiko’s te neem, vind. Hulle is die mense wat die belonings sal geniet! Jesus het een van sy gelykenisse met die volgende woorde geëindig: ‘…Uitstekend! Jy is ‘n voortreflike slaaf; een op wie ek kan staatmaak. In die kleine het jy jou betroubaar bewys. Daarom gaan ek nog baie groter verantwoordelikhede aan jou toevertrou. Kom vier saam met my fees.’ As jy gewillig is om ten spyte van jou mislukkings, jou stryd en jou beperkinge, die negatiewe kritiek te ignoreer, in geloof uit te tree en die gawes wat God jou gegee het te gebruik, sal Hy seker maak dat jy sukses behaal.
Sielskos: Jos 11-13; Joh 15:5-17; Ps 14; Spr 28:13-16
2019-11-02
Markus 11:23 NLV
Jesus het gesê: ‘Dit verseker Ek julle, julle kan vir hierdie berg sê: ‘Mag God jou oplig en in die see gooi,’ en dit sal so gebeur. Al wat nodig is, is dat julle regtig sal glo en nie in julle harte twyfel nie. Daarom verklaar Ek vir julle, alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang, mits julle God daarmee vertrou’ (verse 23-24 NLV). Jesus het egter nie fisiese berge gedurende sy bediening beweeg nie, so waarvan het Hy hier gepraat? Die probleme waarvoor ons in die lewe te staan kom! Let iets belangriks op: Hy sê net een keer dat ons geloof moet hê, maar drie keer dat ons sy Woord moet spreek. Hoekom? Want as jy nie genoeg geloof het om jou mond te beweeg en God se Woord te spreek nie, sal jy nie genoeg geloof hê om jou berg te verskuif nie! Die Bybel sê: ‘Die geloof volg uit die aanhoor van die boodskap. En die aanhoor van die boodskap volg uit die prediking van die Goeie Nuus wat handel oor Christus’ (Romeine 10:17 NLV). Iets wonderlikbaarliks gebeur wanneer jy God se Woord verbaliseer. Jou ore hoor dit, jou gedagtes word vernuwe, jou fokus verander, en die ding waarop God reageer – geloof – bruis binne-in jou op. Wanneer jy dan daardie posisie van geloof behou en aanhou om God se Woord te spreek, sal die berg in jou lewe begin verskuif. So lank as wat jy aanhou sê wat jy in jou natuurlike gedagtes dink en voel, sal die berg soos ‘n onbeweeglike objek bly staan. Wanneer jy egter op God se beloftes staan en verklaar: ‘Ek mag dalk nie weet hoe of wanneer nie, maar ek weet dat jy in die Naam van Jesus sal ineentuimel,’ sal jou berg beweeg!
Sielskos: 1 Kro 6:1-7:19; Joh 8:21-30; Ps 86; Spr 25:8-12
2019-10-27
Psalm 107:20 DB
Elkeen van ons kom beskadig na die Here toe. Dus begin Hy ‘n genesingsprogram om ons gedagtes oor Hom, ander mense en oor onsself te herstel. Terwyl jy dalk aan die buitekant kan goed lyk, is daar ‘n werking wat binne-in jou aangaan, soos die Heilige Gees werk om jou ‘…’n spesiale besitting van die Huiseienaar…’ (2 Timoteus 2:21 NLV), te maak. Een van die stukke gereedskap wat Hy gebruik is ‘… die ‘dwaasheid’ van ons prediking…’ (1 Korintiërs 1:21 NLV). Wat jy ookal doen, moet nooit jou aptyt vir Bybelse prediking verloor nie: ‘Die geloof volg uit die aanhoor van die boodskap. En die aanhoor van die boodskap volg uit prediking van die Goeie Nuus wat handel oor Christus’ (Romeine 10:17 NLV). Dit gaan die verstand te bowe om te sien hoe die gepreekte Woord die mees disfunksionele mense in produktiewe lede van die samelewing verander. Die meeste van die tyd doen God dit alles agter ‘n sluier van geheimhouding wat ons reputasie en publieke persepsie beskerm. Hoe genadig is dit nie! Net sy mag kan die slagyster wat ons gedagtes vasvang, oopmaak en ons vrymaak om weer te lewe. Dawid het verklaar: ‘Die Here het net een woord gesê, en toe word hulle gesond. So het Hy hulle uit die dood se kloue gered. Nou prys hulle die Here vir sy liefde. Hulle sê vir Hom baie dankie vir die wonderlike dinge wat Hy doen’ (Psalm 107:20-21 DB). Let op – sy Woord het dit gedoen! Dis wat ons van ons sonde reinig, ons regverdig voor Hom maak en ons die padkaart na ons bestemming gee. As gevolg van Hom, maak jy saak. As gevolg van Hom, het jy niks om te vrees nie. As enigiemand die reg het om vandag in blydskap uit te roep – is dit jy!
Sielskos: Num 9:15-23; Eks 24:15; Matt 17:1-8; Hand 1:9-11
2019-05-22
Psalm 130:4 DB
Die Psalmdigter het geskryf: ‘Ek is in groot moeilikheid. Help my asseblief, Here. Moet asseblief nie my probleem miskyk nie. Wys dat U my hulpgeroep hoor. As U die hele tyd mense oor hulle sondes moes verwyt, sou niemand meer kon lewe nie. Gelukkig vergewe U ons sondes. Daarom kyk mense op na U en dien hulle U’ (vers 1-4 DB). God se vergifnis is egter nutteloos, totdat jy dit deur geloof ontvang – en dan jouself vergewe! Jy sê: ‘Maar wat van my verlede?’ Die oomblik wat jy God se vergifnis ontvang, het jy nie meer ‘n verlede nie – jy het net ‘n toekoms. Jy moet egter drie dinge doen: 1) Besef dat almal misluk. Simson het misluk omdat hy te naby aan die verkeerde vrou gekom het (sien Rigters 16). Jona het misluk deur te probeer om van sy roeping af weg te hardloop (sien Jona 1:3). Petrus het misluk toe hy Jesus verloën het (sien Matteus 26:34). Tog het God hulle vergewe en elkeen tot sy verheerliking gebruik. 2) Jy moet jou emosies prosesseer. Spyt: ‘As ek dit maar net nie gedoen het nie.’ Frustrasie: ‘Ek het my beste gedoen. Hoekom was dit nie goed genoeg nie?’ Selfbejammering: ‘Niemand is lief vir my nie so ek gaan net hier sit en my wonde lek.’ Verlamming: ‘Ek het dit te dikwels gedoen. My fout is te groot. Ek sal nooit daaarby verby kom nie.’ Jou emosies jok vir jou – moenie hulle glo nie! 3) Wanneer jy val, staan weer op. ‘Selfs al val ‘n regverdige mens sewe keer, hy sal elke keer weer opstaan…’ (Spreuke 24:16 NLV). Let op – regverdige mense val ook! Is jy gereed om op te staan en weer te probeer? Dan sal God saam met jou werk.
Sielskos: 1 Kon 12-13; Mark 9:1-13; Ps 128; Spr 12:10-11
2019-02-19
Lukas 17:17 NLV
Kom ons lees hoe Jesus hierdie tien melaatse mans genees het en kyk wat ons hieruit kan leer: 1) Hulle het die oomblik aangegryp. “Hulle het hard na Hom geroep: ‘Jesus, Here, kry ons tog jammer!'” (vers 13 NLV). Desperate mense bid desperate gebede. Wie gee om oor fatsoenlikheid en uiterlike voorkoms wanneer jy besig is om dood te gaan? Hierdie mans het besef dat Jesus slegs deur die dorp op reis was (sien vers 11) en die ergste ding wat kon gebeur is dat Hy verby hulle sou loop. Dus het hulle die oomblik aangegryp en tot Hom geroep. Jy kan dit ook doen, omdat niemand jou so goed soos God kan hoor nie (sien Psalm 118:5). 2) Hulle moes dit tree vir tree neem. Hulle genesing was nie onmiddellik nie, dit was ‘n proses. ‘…Gaan wys julleself aan die priesters.’ Terwyl hulle soontoe op pad was, het hulle gesond geword’ (Lukas 17:14 NLV). Dis dikwels hoe dit werk. Dis ook nie net een tree nie, maar ‘n toewyding daaraan om deur die struikelblokke en vrese te ploeg totdat jy by jou wonderwerk uitkom. Dis egter die inspanning werd en jy sal jou verlossing meer waardeer wanneer jy dit elke dag tree vir tree moet neem deur op God te vertrou. 3) Net een uit die tien het omgedraai om dankie te sê. Dis hoekom Jesus gevra het: ‘…Waar is die ander nege?’ Was hulle te besig? Te ingedagte? Of het hulle net vergeet? Let op wat Jesus vir die een wat teruggedraai het gesê het: ‘…Jou geloof het jou gered’ (vers 19 NLV). Fisiese genesing word dikwels deur medisyne vermag, maar jy word ‘heel’ in liggaam, gedagtes en siel, deur die Here te loof en tyd saam met Hom te spandeer.
Sielskos: Gen 44-46; Luk 10:38-42; Ps 33:13-22; Spr 5:15-20