Hoe om die lewe se gevegte te wen (4)

2020-02-20
2 Kronieke 20:15 NLV

Vierdens, leer om in geloof te ontspan. Let op hoe God op Josafat se gebed gereageer het: ‘…die oorlog is nie julle s’n nie, maar God s’n.’ Baie van ons maak onsself moeg deur te probeer om God se gevegte in ons eie krag te probeer wen. Wanneer ons nuutgebore is, is ons ywerig om die wêreld vir Jesus te wen en wil ons op eie houtjie sy koninkryk meebring. Dan, wanneer ons hard op eie stoom gewerk het, slaan die realiteit toe. Ons kruip teleurgesteld op ons hande en knieë terug, omdat ons dink dat ons God in die steek gelaat het. Die waarheid is egter dat ons nie God omhoog hou nie – Hy hou ons omhoog! Ons het Hom nie in ons hande nie, Hy het ons in sy hande! Hy sê vir ons om in geloof te ontspan en Hom toe te laat om sy werk deur ons te doen. Paulus skryf: ‘Noudat julle Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle die leefstyl van ‘n Christen volg’ (Kolossense 2:6 NLV). Met ander woorde, onthou hoe jy aanvanklik ‘n gelowige geword het – deur eenvoudige geloof in die voltooide werk van Christus – en hou dan aan om in eenvoudige geloof te lewe. Jy het nie ‘n Christen geword omdat jy na perfeksie gestrewe het en goeie werke gedoen het nie. Goeie werke het niks daarmee uit te waai nie! Verlossing is ‘n gratis geskenk. God het nie nodig dat ons dinge bestuur nie; Hy het alles onder beheer en wil hê dat ons ontspan en Hom toelaat om deur ons te lewe. Oorwinning in die lewe is ‘n gawe van God! ‘Ek is dankbaar teenoor God wat ons, omdat ons één is met Christus, altyd saamneem in sy triomftog…’ (2 Korintiërs 2:14 NLV).

Sielskos: Pred 1-4; Matt 15:29-39; Ps 33:1-12; Spr 5:7-14

Hoe om die lewe se gevegte te wen (1)

2020-02-17
2 Kronieke 20:12 NLV

Met God se hulp, het koning Josafat nie net een leërmag oorwin nie, maar drie! Sy oorwinning leer ons hoe ons die lewe se gevegte kan wen. Eerstens, identifiseer die vyand. Baie van ons het nie die vaagste benul wie die ware vyand is nie. Ons dink dis die persoon wat ons werk, ons eggenoot of ons geld wil wegneem. Baie keer is die vyand egter ons eie houding! Dis nie soseer dit wat gebeur wat ons onderkry nie, maar ons reaksie op die situasie. Voor jy op ‘n persoonlike vlak kan wen, moet jy eers die vyand identifiseer. Let op hoe Josafat gereageer het toe hy gehoor het dat ‘n groot leërmag teen hom opgetrek het. Hy was ‘baie ontsteld’ (verse 2-3 NLV). Dis ‘n tipiese menslike reaksie. Ons sien ‘n groot probleem en raak paniekerig en vreesbevange oor wat met ons gaan gebeur. Vrees is inderwaarheid nie net sleg nie, tensy ons dit op die verkeerde manier hanteer. Ons kan dit gebruik om ons te motiveer om die probleem te oorwin en ons nader aan God te bring. Dis wanneer ons moedeloos raak, tou opgooi, kwaad word en begin vra: ‘Hoekom ek, Here?’ wat vrees ons verslaan. As jy vandag in ‘n situasie is wat jou met vrees en angs vul, onthou – God reageer nie op behoefte nie; Hy reageer op geloof. Plaas dus vandag jou geloof in sy onwrikbare Woord en staan op sy belofte: ‘Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Moenie ontsteld word nie, want Ek is jou God. Ek maak jou sterk en wil jou help. Ek hou jou vas met my reddende regterhand’ (Jesaja 41:10 NLV). Onwrikbare vertroue in God se Woord is wat sy hulp meebring.

Sielskos: Rom 9:17-11:36; Matt 14:22-36; Ps 149; Spr 4:25-27

Wye deure/groot uitdagings

2019-12-19
1 Korintiërs 16:9 NLV

Niks is werklik besonders totdat dit iets wat onoorkomelik gelyk het, bemeester het nie. Paulus skryf: ‘Intussen bly ek in Efese tot Pinkster, want hier staan nou ‘n wye deur vir my oop en daar is baie mense wat reageer. Daar is egter ook baie teenstanders’ (verse 8-9 NLV). Wye deure van geleentheid gaan altyd met groot uitdagings gepaard en elke uitdaging verg groter geloof en volharding. Dink daaroor: as buitengewone sukses maklik was, sou almal dit kon hê. As almal dit kon hê, sou dit nie buitengewone sukses gewees het nie. Hoe word ‘n ruspe ‘n skoenlapper? Deur die kokon te oorkom. Sou dit nie makliker gewees het om in die warmte en gemak van die kokon te bly nie? Die ruspe dink seker so op dae waar hy sukkel om uit die kokon te kom! Diep binne-in hom weet hy egter wat die prys van vryheid is. Om te kan vlieg en die wêreld te ontdek, verg moeite, ontwikkeling en deurbrake. Daar is nie ‘n ander manier nie! Hoekom het Jesus sy dissipels in ‘n lewensgevaarlike storm ingestuur? Om hulle te leer om Hom in al die lewe se situasies te vertrou. Hy sou hulle binnekort verlaat, dus het Hy elke ervaring gebruik om hulle vir die toekoms voor te berei. Wat sukkel jy om vandag te oorkom? In plaas daarvan om te kla en vir God te vra om dit weg te neem, sien dit vir wat dit is – voorbereiding. Onthou, jou vlak van voorbereiding dui die vlak van seën wat aan die einde vir jou wag, aan. As God dus deure van geleenthede vir jou oopmaak, wees voorbereid op die uitdagings, omdat jy nie een sonder die ander kan hê nie.

Sielskos: Sag 12-14; Joh 21:15-25; Ps 47; Spr 31:6-9

Wanneer jy nie met jou geld kan uitkom nie

2019-12-10
Psalm 34:11 NLV

Het jy jou werk verloor? Staar die moontlikheid om jou huis te verloor of bankrotskap jou in die gesig? Is jy op die moeilikste plek waar jy al ooit was? Paulus het ‘…alles as verlies afgeskryf…’ (Filippense 3:8 NLV), maar hy het nie daar gebly nie. Hy gaan voort om te sê: ‘…my God [sal] uit sy ontsaglike rykdom vir julle voorsien in elke behoefte wat julle het’ (Filippense 4:19 NLV). God kan dit vir jou doen – met of sonder ‘n salaristjek of ‘n ander verwagte bron van inkomste. Die Psalmdigter het gesê: ‘…wie op die Here vertrou, kort niks wat goed is nie…’ Een ding waarvoor jy op jou hoede moet wees is Satan se praatjies oor wat in die ergste geval kan gebeur. As jy dit toelaat, sal hy vir jou denkbeeldige prente skets waar jy in ‘n kartonboks onder ‘n brug woon. Staan vandag op God se Woord en verklaar: ‘Here, U het gesê dat indien ek gewillig en gehoorsaam is, sal ek die beste van dit wat U kan bied, geniet (sien Jesaja 1:19). U beloof om my met guns te omring (sien Psalm 5:12). U Woord sê dat U deur u krag wat in ons werk, meer kan doen as wat ek ooit sou kon vra of dink (sien Efesiërs 3:20). Selfs al lyk dit of niks tans vir my uitwerk nie, gee my die geloof om U vir goeie dinge en beter dae te glo. U Woord sê vir my om oor niks angstig te wees nie, maar om my versoeke deur gebed en smeking en met danksegging, aan U bekend te maak. Dat u vrede, wat menslike verstand te bowe gaan, my hart en gedagtes sal beskerm (sien Filippense 4:6-7). Here, eer u Woord vandag, in die Naam van Jesus, Amen.’

Sielskos: Neh 8-10; Joh 18:25-40; Ps 105:1-7; Spr 30:1-4

Jou tyd het aangebreek

2019-12-06
Ester 4:14 NLV

Ester het haar bediening as tienermeisie begin. Toe sy die woorde van Mordegai hoor – ‘…Wie weet, of dit nie miskien juis met die oog op ‘n tyd soos hierdie is dat jy koningin geword het nie!’ – kon sy maklik gesê het: ‘Gee my tyd om groot te word, te trou, kinders te kry en my drome te vervul voor jy my vra om my lewe op die spel te plaas om die Joodse volk te red.’ Sy het dit egter nie gedoen nie. Sy het gesê: ‘…Al is dit in stryd met die wette sal ek na die koning toe gaan. As ek dan daarvoor moet sterf, moet ek maar sterf’ (vers 16 NLV). Dikwels is dit wat God in jou doen terwyl jy wag, belangriker as dit waarvoor jy wag. Soms dink jy jy is gereed, maar God weet jy is nie, daarom plaas Hy jou in die skool van geloof. Dis daar waar jy leer om na die onderwyser (die Heilige Gees) te luister, jou lesse te leer, die toetse te slaag en graad te ontvang sodat God jou kan gebruik. Dis nie ‘n gemaklike plek om te wees nie, maar God is meer in jou karakter as in jou gemak geïnteresseerd. Die sendeling Nancy Cockrell skryf: ‘Dit was al die tyd God se plan om jou tot hier te bring om Hom te dien, deur jou gawes te gebruik om ander te bedien. Hy het jou die genade gegee om op die liefde en karakter van Christus te reflekteer, om ‘n lig in ‘n donker wêreld te wees. Jy het ‘n unieke plek van diens in God se koninkryk, waar jy lewens aanraak soos net jy kan – alles vir ‘n tyd soos hierdie.’ Die vraag is dus: Sê God vandag vir jou dat jou tyd aangebreek het?

Sielskos: Kol 3-4; Filemon; Joh 17:13-26; Ps 148:1-6; Spr 29:11-15