Hoe om die lewe se gevegte te wen (1)
2020-02-172 Kronieke 20:12 NLV
Met God se hulp, het koning Josafat nie net een leërmag oorwin nie, maar drie! Sy oorwinning leer ons hoe ons die lewe se gevegte kan wen. Eerstens, identifiseer die vyand. Baie van ons het nie die vaagste benul wie die ware vyand is nie. Ons dink dis die persoon wat ons werk, ons eggenoot of ons geld wil wegneem. Baie keer is die vyand egter ons eie houding! Dis nie soseer dit wat gebeur wat ons onderkry nie, maar ons reaksie op die situasie. Voor jy op ‘n persoonlike vlak kan wen, moet jy eers die vyand identifiseer. Let op hoe Josafat gereageer het toe hy gehoor het dat ‘n groot leërmag teen hom opgetrek het. Hy was ‘baie ontsteld’ (verse 2-3 NLV). Dis ‘n tipiese menslike reaksie. Ons sien ‘n groot probleem en raak paniekerig en vreesbevange oor wat met ons gaan gebeur. Vrees is inderwaarheid nie net sleg nie, tensy ons dit op die verkeerde manier hanteer. Ons kan dit gebruik om ons te motiveer om die probleem te oorwin en ons nader aan God te bring. Dis wanneer ons moedeloos raak, tou opgooi, kwaad word en begin vra: ‘Hoekom ek, Here?’ wat vrees ons verslaan. As jy vandag in ‘n situasie is wat jou met vrees en angs vul, onthou – God reageer nie op behoefte nie; Hy reageer op geloof. Plaas dus vandag jou geloof in sy onwrikbare Woord en staan op sy belofte: ‘Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Moenie ontsteld word nie, want Ek is jou God. Ek maak jou sterk en wil jou help. Ek hou jou vas met my reddende regterhand’ (Jesaja 41:10 NLV). Onwrikbare vertroue in God se Woord is wat sy hulp meebring.
Sielskos: Rom 9:17-11:36; Matt 14:22-36; Ps 149; Spr 4:25-27