2020-05-10
Romeine 10:17 NLV
Kom ons definieer die woord ‘geloof’ duideliker. Die Bybel sê geloof is: ‘…die vaste versekering dat die dinge waarna ons uitsien, inderdaad sal gebeur. Dit is die bewys dat God die dinge wat ons nog nie kan sien nie, waar sal maak’ (Hebreërs 11:1 NLV). Geloof is nie ‘n leë hoop of ‘n positiewe belydenis van iets wat ons graag wil hê waar moet wees nie. Geloof is die erkenning van iets wat reeds ‘n realiteit is, ten spyte van die feit dat dit nog nie gesien kan word nie. Die Bybel sê dat Abraham in God geglo het, wat deur: ‘…sy roepstem dinge wat nog nie bestaan nie, aanspreek asof hulle reeds werklikheid is’ (Romeine 4:17 NLV). Abraham het eenvoudig vir God geglo, volgens sy belofte opgetree en gevolglik is Isak gebore. ‘En Abraham se geloof het nie verswak nie, al het hy baie goed besef dat sy eie liggaamlike vermoëns alreeds gedaan was – hy was al omtrent 100 jaar oud – en dat sy vrou Sara nie meer kinders kon hê nie. Abraham het nie getwyfel aan God se belofte nie; inteendeel, sy geloof het sterker geword en so het hy die eer aan God gegee. Hy was absoluut daarvan oortuig dat God enigiets kon doen wat Hy beloof het’ (verse 19-21 NLV). Jou geloof moet in God wees, nie in jou geloof nie! Op sy eie, het geloof geen kreatiewe krag nie; dit bevestig net wat reeds in die onsigbare wêreld bestaan en dit wat God beloof het, met die wete dat dit in sy tyd tot stand sal kom, omdat dit sy wil is. Wat jy ook al in geloof opeis, moet op dit wat God reeds in sy Woord aan jou beloof het, gebaseer wees. Hoe ontwikkel jy hierdie tipe geloof? Lees die Woord! ‘Die geloof volg uit die aanhoor van die boodskap…’
Sielskos: Matt 5:10; 1 Tess 2:13-3:5; 1 Kor 4:11-13; Op 6:9-11
2020-04-14
Sagaria 3:1 NLV
Soms is Satan se aanvalle voor die handliggend. In die Ou Testament, skryf die profeet Sagaria: ‘Die engel het Jesua die hoëpriester vir my gewys. Hy het voor die engel van die Here gestaan. Die Satan het regs van die engel gestaan, besig om Jesua van baie dinge aan te kla.’ Satan verkies gewoonlik om incognito te werk, dus sal hy jou deur middel van mense aanval – dikwels die mense naaste aan jou. Die Bybel sê vir ons: ‘Gedurende die aandete het die duiwel alreeds ‘n saadjie in die hart van Judas… geplant om Jesus uit te lewer’ (Johannes 13:2 NLV). Wat is dus jou beste lyn van verdediging? Die lewende Woord van God. Jesus het voor meer versoekings as wat enigeen van ons kan verduur, te staan gekom en drie keer die Satan afgeweer deur die Skrif vir hom aan te haal. Wanneer Satan jou gedagtes met versoeking, veroordeling, vertwyfeling en minderwaardige gevoelens aanval, is God se Woord ‘n skild wat hy nie kan deurdring nie. Let op wat gebeur het nadat Jesus die geveg met die Vyand gewen het: ‘Daarna het die duiwel die aftog geblaas. En daar het engele na Hom toe gekom en Hom versorg’ (Matteus 4:11 NLV). Jy is nie alleen nie. God het ‘n skare engele rondom jou geplaas om jou te versterk en jou te beskerm. ‘Die engele is tog maar net diensknegte. Hulle is geestelike wesens wat God uitstuur in belang van daardie mense wat gered gaan word’ (Hebreërs 1:14 NLV). Gedurende seisoene van teëspoed, moet jy onthou dat jy ‘n oorwinnaar en nie ‘n slagoffer is nie. Straal geloof uit. Verwag dat jou geloof bonatuurlik geëer sal word deur die God wat belowe het om in te tree wanneer jy Hom die nodigste het (sien Jesaja 59:19).
Sielskos: Lev 13:38-14:57; Mark 1:1-8; Ps 50:16-23; Spr 10:4-7
2020-04-02
1 Petrus 1:6 NLV
In ‘n bekende studie genaamd Cradles of Eminence, het Victor en Mildred Goerztel in 1962 die familie agtergrond van meer as 400 hoogs suksesvolle mense ondersoek. Hulle het die vroeë ervarings wat moontlik tot aansienlike prestasies later in die lewe kon bydra, probeer identifiseer. Hulle het mense soos Einstein en baie ander wat beroemd en bewonder is, by die studie ingesluit. Hulle agtergrond was baie interessant. Driekwart van hulle het moeilike kinderdae gehad en armoede, gebroke huishoudings en ouerlike mishandeling ervaar. Een kwart van hulle het fisiese gestremdhede gehad. Die meeste van die bekende skrywers of dramaturge se ouers het van een krisis na die volgende rondgespring. Die navorsers het tot die volgende gevolgtrekking gekom: Die behoefte om vir die nadeel in hul kindertyd te vergoed, was ‘n belangrike faktor in hulle strewe na persoonlike prestasies. Hierdie mense het een ding in gemeen gehad – ‘n houding wat oorkom: ‘…Die oorwinning wat die wêreld verower het, is ons geloof’ (1 Johannes 5:4 NLV). Wanneer jy geloof in God en jouself het, kan jy dinge doen wat jou sal verstom. Die probleem wat vandag so oorweldigend lyk, kan die hupstoot wees wat jou môre aan grootsheid bekendstel. Die Bybel stel dit so: ‘Hieroor kan julle baie bly wees, al moet die baie beproewings julle vir ‘n rukkie laat swaarkry. Die doel met die beproewings is om die egtheid van julle geloof te toets. Julle geloof word getoets soos met vuur getoets word en daardeur gesuiwer word… As die toetse die egtheid van julle geloof uitwys, loop dit uit op lof en heerlikheid en eer…’ (1 Petrus 1:6-7 NLV).
Sielskos: Est 1-4; Matt 26:57-64; Ps 72:12-20; Spr 9:7-9
2020-03-24
Romeine 4:5 NLV
Daar is net twee maniere hoe jy kan poog om vrygespreek te word. Die eerste een is deur te probeer en die tweede een is deur te vertrou. Wanneer jy probeer om God se goedkeuring deur jou optrede te verdien, kan jy nooit tot rus kom nie, omdat jy nooit seker kan wees dat jy genoeg gedoen het om sy guns te wen nie. Wanneer jy egter jou vertroue in Christus se voltooide werk aan die kruis plaas, sê die Bybel dat jy God se ‘rus’ binnegaan (sien Hebreërs 4:3). Paulus skryf: ‘Daarom – iemand wat één is met Christus, is ‘n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier!’ (2 Korintiërs 5:17 NLV). Jy hoef nie te sukkel om deur God vrygespreek te word nie. Die oomblik wat jy jou vertroue in Jesus plaas, word jy ‘…op grond van ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek…’ (2 Korintiërs 5:21 NLV). Hoekom het Hy dit so gedoen? Omdat enige vryspraak wat jy deur goeie dade en deur die reëls te onderhou probeer verdien, so ver tekort skiet dat Hy dit as ‘vuil klere’ sien (sien Jesaja 64:6). Paulus skryf: “Koning Dawid het hiervan gepraat toe hy beskryf het hoe gelukkig die mens is wat sonder enige wetsprestasies tog deur God vrygespreek word: ‘Gelukkig is daardie mense wie se oortredings nie gestraf word nie en wie se sondes uitgewis word. Gelukkig is die mens vir wie die Here die sonde glad nie meer toereken nie!'” (Romeine 4:6-8 NLV). Edward Mote het hierdie gesang geskryf: ‘Dressed in His righteousness alone, faultless to stand before the throne. On Christ, the solid Rock, I stand; all other ground is sinking sand.’ Wees bly! Dis hoe God jou sien – vrygespreek deur geloof!
Sielskos: Job 18-20; Matt 25:1-13; Ps 55:12-23; Spr 8:19-21
2020-03-23
2 Korintiërs 5:21 NLV
Hier is ‘n wonderbaarlike en lewensveranderende waarheid. Die God wat sy sondelose Seun ‘sonde gemaak’ het, neem sondige mense soos ons en spreek hulle vry. Hoe gebeur dit? Deur dade? Nee, deur geloof! ‘Daarteenoor staan die saak heeltemal anders met daardie mense wat geen prestasie het waarop hulle kan staatmaak nie, maar wat glo in Hom wat die goddeloses vryspreek – hulle word op grond van hulle geloof vrygespreek’ (Romeine 4:5 NLV). Hierdie vryspraak gaan nie daaroor om op die regte manier op te tree nie – dit gaan daaroor om op die regte manier te glo. Jy kan nie deur menslike pogings of om die wette te onderhou deur God vrygespreek word nie. Jy word net deur geloof in Christus en deur vertroue in sy voltooide werk aan die kruis, vrygespreek. Jy sê: ‘Maar ek voel so skuldig wanneer ek sondig.’ Jy moet; dis ‘n goeie afskrikmiddel! Christus het egter al jou sondes weggeneem; dus het Hy ook al jou skuld weggeneem. Wat voel jy dus? Innerlike konflik! Jy het ‘n nuwe gees in jou ou liggaam, wat op dieselfde manier as jou natuurlike liggaam teenoor iets skadeliks reageer. Sonde voel vreemd vir die nuwe jy en wanneer jy in sonde verval, is die plesier kortstondig en die nadraai daarvan sleg. Jou geestelike grense word oorgesteek en jou nuwe gees sê vir jou dat jy nie meer kan sondig nie. Dis nie wie jy is nie! Die ou jy kon sondig en dit geniet, maar die nuwe jy kan nie, omdat jy ‘n nuwe skepping in Christus is (sien 2 Korintiërs 5:17). Wees dus bly! God het jou vrygespreek, dus kan jy Hom enige tyd met vrymoedigheid nader (sien Efesiërs 3:12).
Sielskos: Job 15-17; Matt 24:36-51; Ps 55:1-11; Spr 8:17-18