2020-09-18
Hebreërs 11:6 NLV
Ons dink gewoonlik aan geloof in terme daarvan om antwoorde op ons gebede te kry en dinge van God te ontvang wat slegs Hy kan voorsien. Dis goed so. Daar is egter ‘n belangriker rede om jou geloof te versterk. Geloof gaan daaroor om God te behaag! ‘As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel. Wie tot God wil nader, moet glo dat Hy werklik dáár is en dat Hy dié wat na Hom soek, daadwerklik beloon.’ Jou geloof behaag God, en jou gebrek aan geloof mishaag Hom! In die verlede het Christene passievolle gebede beskryf ‘om die hekke van die hemel storm te loop.’ Dit was ‘n opregte sentiment, maar dit was nie heeltemal korrek nie. Die geveg is nie tussen jou en die hemel nie! Jy word uitgenooi om God enige tyd te nader. ‘Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God. Hy sal ons sy deernis en onverdiende goedheid bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word’ (Hebreërs 4:16 NLV). As daar ‘n geveg is, is dit tussen jou en die magte van die hel (sien Efesiërs 6:12-18). Hoekom is ons gebede soms nie effektief nie? Die Bybel sê: ‘…Dit het hulle egter niks gebaat nie omdat hulle die boodskap wat hulle gehoor het, nie geglo het nie’ (Hebreërs 4:2 NLV). Ja, God word deur jou behoeftes aangeraak, maar Hy reageer op jou geloof. Dit is hoekom niks belangriker is as om jou geloof te versterknie. Hoe doen jy dit? ‘Die geloof volg uit die aanhoor van die boodskap…’ (Romeine 10:17 NLV). Dit werk so: Raak verdiep in God se Woord, laat God se Woord in jou posvat, bid en dinge sal ten goede in jou lewe begin verander.
Sielskos: Num 29:1-6; Op 11:15-19; 1 Kor 15:50-58; Matt 24
2020-09-05
Psalm 13:2 NLV
Toe Kelly James en twee vriende wat saam met hom op Oregon se Hoodberg rotsgeklim het sterf, het sy broer Frank, ‘n professor in teologie, erken: ‘Dis een ding om in die abstrak van die dood te praat. Dis iets anders om die dood van ‘n geliefde te hanteer. Die dood is lelik. Ons kan nie – ons moenie – probeer om dit met vrome gemeenplasies aanvaarbaar te maak nie. Een vraag spook by my: ‘Waar was God toe Kelly doodgevries het?’ Vir my om dit nie te vra nie, sal wees om God nie ernstig op te neem nie. Ek stel nie voor dat ons as sterflinge God moet oordeel nie; God rapporteer nie aan my nie. ‘n Eerlike vraag uit ‘n gebroke hart is egter ‘n goeie en regverdige ding.’ Dawid was nie bang om vir God te vra: ‘Hoe lank sal U nog anderpad kyk?’ nie. ‘n Paar verse later verklaar dieselfde benoude Dawid egter: ‘Maar ek maak staat op u troue liefde…’ (Psalm 13:6 NLV). Frank James vervolg: ‘Tussendeur al die geestelike konsternasie het God Homself in my rou gemanifesteer. Hy was in my teleurstelling, verwardheid en rou emosies te vinde. My konsep van geloof het soos Abraham s’n geword. Ek moet God vertrou selfs al verstaan ek nie. Tussen genoeg trane om ‘n oseaan te vul, moes ons almal al geliefdes begrawe het. Ons begrawe hulle egter met hierdie belofte: ‘Almal van ons sterf omdat ons almal aan Adam, die eerste mens, verbonde is. Net so sal almal wat aan Christus, die ander mens, verbonde is, weer lewendig gemaak word’ (1 Korintiërs 15:42 NLV). Dit vrywaar ons nie van rou nie. Dit neem egter ons geloof na dieptes waar hoop deur die hartseer begin deurdring, soos ‘n sonstraal deur ‘n bewolkte hemel deurbreek.’
Sielskos: Eseg 14:1-16:52; Luk 20:9-19; Ps 112; Spr 20:1-4
2020-07-22
Openbaring 2:7 NLV
Niks is groot as dit nie eers iets oorwin nie. Paulus skryf: ‘want hier staan nou ‘n wye deur vir my oop en daar is baie mense wat reageer. Daar is egter ook baie teenstanders’ (1 Korintiërs 16:9 NLV). Groot deure van geleentheid gaan met groot uitdagings gepaard, wat jou geloof sal strek. As uitstekende sukses maklik bekombaar was, sou almal dit bereik het. Hoe ontwikkel ‘n wurm in ‘n skoenlapper? Deur die kokon te oorwin. Sou dit makliker gewees het om in die gemak van die kokon te bly? Sommige dae is die stryd so groot, dat die wurm dit sekerlik dink. Die prys vir vryheid, die vermoë om te vlieg en te ontdek, is egter stoei, ontwikkeling en deurbraak. Daar is nie ‘n ander manier nie. Hoekom het Jesus sy dissipels in die storm op die see van Galilea uitgestuur? Om hulle te leer om Hom in elke situasie van die lewe te vertrou. Hy sou hulle binnekort verlaat het, dus het Hy moeilike situasies gebruik om hulle vir die toekoms toe te rus. Wat probeer jy vandag oorwin? In plaas daarvan om daaroor te kla, of God te vra om dit van jou weg te neem, probeer dit sien as voorbereiding vir dit waartoe Hy jou geroep het. Lees hierdie Skrifgedeeltes: ‘Gelukkig is die mens wat in beproewing volhard!..’ (Jakobus 1:12 NLV). ‘Gelukkig is dié wat vervolg word ter wille van wat voor God reg is, want hulle het deel aan sy koninkryk’ (Matteus 5:10 NLV). ‘Moenie toelaat dat die slegte julle onderkry nie, maar deur goed te doen moet julle die slegte hokslaan’ (Romeine 12:21 NLV). ‘Daarom moet julle God se gevegstoerusting aantrek. Dan, wanneer die Bose julle aanval, sal julle weerstand kan bied…’ (Efesiërs 6:11 NLV). Jy is vandag geroepe om ‘n oorwinnaar te wees.
Sielskos: Hand 12-13; Luk 9:1-17; Ps 65; Spr 16:8-9
2020-07-02
Rigters 11:35 NLV
Vir maande lank het Eric Liddell vir die 1924 Olimpiese Spele geoefen. Hy het sy hart daarop gesit om die 100 meter wedloop te wen. Die meeste sportskrywers het voorspel dat hy gaan wen. Liddell het egter by die Spele agtergekom dat die 100 meter wedloop geskeduleer was om op ‘n Sondag plaas te vind. Dit was ‘n baie groot probleem vir hom, omdat hy geglo het dat hy nie God kon eer deur op die Here se dag deel te neem nie. Hy het homself aan die wedloop onttrek en sy aanhangers was verstom. Sommige mense wat hom in die verlede geprys het, het hom nou ‘n dwaas genoem. Toe ‘n naelloper homself aan die 400 meter wedloop, wat op ‘n weeksdag geval het, onttrek het, is Liddell die geleentheid gegee om sy plek te vul. Dit was nie regtig sy tipe wedloop nie. Die afstand was vier keer so lank as die een waarvoor hy ywerig geoefen het. Hy het egter die 400 meter wedloop gewen en ‘n nuwe rekord van 47.6 sekondes in die proses opgestel. Hy het sy Olimpiese goue medajle verdien en ‘n onwrikbare standpunt vir sy geloof ingeneem, wat in die rolprent Chariots of Fire oorvertel is. Liddell het egter ook ‘n groter aanspraak op roem. Hy het ‘n sendeling in China geword, waar hy as krygsgevangene in 1945 oorlede is. Hy is soos Jefta, wat gesê het: ‘…Ek het aan die Here ‘n gelofte gemaak en ek kan dit nie terugtrek nie.’ Die les wat ons uit hierdie man se lewe kan leer is hard en duidelik – staan op jou oortuigings, en God sal jou eer.
Sielskos: Jer 18-21; Luk 4:14-30; Ps 102:1-11; Spr 14:35-15:2
2020-06-04
Hebreërs 5:12 NLV
Paulus het vir die vroeë kerk gesê: ‘Ek kan nog baie hieroor sê, maar dit is vir my moeilik om dit behoorlik by julle tuis te bring, omdat julle nie eintlik wil luister nie. Om die waarheid te sê, behoort julle eintlik self al mense te gewees het wat ander van die dieper dinge van die godsdiens kon vertel. Maar kyk net na julle: ‘n mens moet julle weer van die begin af al die basiese dinge oor God en sy boodskap leer. Op geestelike gebied is julle soos regte babatjies wat net melk drink en geen vaste kos kan eet nie…’ (Hebreërs 5:11-13 DB). Dit staan as ‘vertraagde ontwikkeling’ bekend en kan met enigeen van ons gebeur. Een van die eerste bewyse dat ‘n kind gesond is en goed groei, is wanneer hulle nie meer nodig het om uit ‘n bottel te drink nie en kan begin om vaste kos te eet. As die enigste tyd wanneer jy geestelik gevoed word Sondagoggend in die kerk is, hoekom is jy dan verras wanneer jy nie die geloof om God vir antwoorde op jou gebede te glo, die krag om versoeking te weerstaan of ‘n sin van God se leiding in jou lewe, het nie? Hoe lank dink jy sal jy hou as jy net een keer ‘n week eet? Dawid het gesê: ‘Hoe aangenaam is u woorde vir my; dis soeter as heuning in my mond’ (Psalm 119:103 NLV). Jeremia het geskryf: ‘Toe U met my gepraat het, was u woorde vir my soos kos wat ek kon eet. Ek was bly, want Here, God wat oor alles regeer, U het gesê ek behoort aan U’ (Jeremia 15:16 ABA). Om geestelik te groei, het jy die ‘vaste kos’ van God se Woord nodig (sien Hebreërs 5:14 NLV).
Sielskos: 1 Kon 18:16-20:43; Mark 14:12-26; Ps 124; Spr 12:26