Leer om ‘reg’ te dink

2020-10-18
Spreuke 12:5 ABA

Jou gedagtes kan vir of teen jou werk. Wanneer dit vir jou werk, help dit jou om positief te bly, jou doelwitte te bereik en elke dag te geniet. Wanneer dit egter teen jou werk, kan dit jou negatief en moedeloos laat voel, jou terughou en jou gedagtes laat dink wat self-sabotasie tot gevolg het. Leer dus jou gedagtes om vir jou en nie teen jou nie, te werk.

‘n Belangrike manier om dit te doen, is om ‘n bewustelike besluit te neem om positief te begin dink – in terme van geloof en nie van vrees nie. Jou brein sal nie hierdie nuwe rol oornag begin vervul nie. Jy verwag dalk van jou brein om ‘n radikale transformasie te ondergaan, wat tyd sal neem. Besluit egter dat tesame met jou ywer en God se hulp, jou brein vir jou sal begin werk en ‘n positiewe dryfkrag in jou lewe sal word.

Dr Caroline Leaf, ‘n kognitiewe neurowetenskaplike, wys uit dat die brein agtien jaar neem om volwasse te word en ‘n leeftyd neem om te groei. Moenie die punt mis nie! Terwyl elke orgaan in jou liggaam tydens jou geboorte ten volle gevorm was en groter geword het soos jou liggaam gegroei het, het jou brein ‘n volle agtien jaar nodig gehad om volwasse te word. Sodra dit volledig gevorm is, hou dit aan groei – maak nie saak hoe oud jy is nie. Dis wonderlike nuus, omdat dit beteken dat jy nie in ‘n ou of verkeerde gedagtepatroon vasgevang hoef te bly nie. Jou brein groei steeds, wat beteken dat jy steeds jou denke kan verbeter.

Soos die Bybel sê: ‘Mense wat reg lewe, dink reg…’

Sielskos: Matt 21:18-22; Matt 8:5-13; Mark 6:1-6

Lag meer!

2020-10-17
Psalm 126:2 NLV

God het elke menslike emosie wat jy voel, geskep. Hy het jou ontwerp om te huil wanneer jy hartseer is en te lag wanneer jy gelukkig is: ‘Daar is ‘n vaste tyd vir alles… ‘n Tyd om te huil en ‘n tyd om te lag…” (Prediker 3:1,4 NLV). Jesus het gesê: ‘Dit het Ek vir julle gesê sodat julle my blydskap mag ervaar en julle blydskap volkome kan wees’ (Johannes 15:11 NLV).

Vraag: Hoe gereeld lag jy? Dokters sê dat lag ‘n wonderlike genesende effek op jou liggaam het. Dit het ook wonderlike genesende effekte op jou gedagtes en siel. Stop en dink aan die dae wat jy gelag het, selfs al het jy nie regtig iets gehad om oor te lag nie. Jy was ver van God af en deur jou sondige gewoontes gebonde, maar Hy het jou vrygemaak, nie waar nie?

In die Ou Testament lees ons: ‘Toe die Here die bannelinge teruggebring het na Sion toe, was dit soos ‘n droom. Ons het gelag en van vreugde gesing. Die ander nasies het gesê: ‘Die Here het groot dinge vir hierdie mense gedoen.’ Die Here het groot dinge vir ons gedoen en ons is vol vreugde!’ (Psalm 126:1-3 NLV).

As God jou vrygemaak het, het jy waarlik iets om oor te lag. Hou op om so hard op jouself te wees – omdat jy nie perfek is nie, jou stadige groei in God, jou gebedslewe wat aandag kort, dat jy nie meer Skrifgedeeltes kan memoriseer nie, jou vrees om jou geloof met ander te deel, ens. Ons dra sulke swaar laste rond. Dis maklik om baie dinge te vind om oor bekommerd te wees, maar jy moet soms ‘n bietjie daaraan werk om gelukkig te wees. Die woord vir jou vandag is dus – lag meer!

Sielskos: 2 Sam 14:21-17:13; Joh 4:27-38; Ps 87; Spr 24:1-4

Wat om op jou lewensreis te verwag (5)

2020-10-05
Filippense 2:16 NLV

Jy moet korttermyn bevrediging met langtermyn vervulling vervang. Paulus som sy lewe en bediening in hierdie vers op: ‘…sal ek tevrede wees dat ek nie verniet gejaag en geswoeg het nie.’

Niks in die lewe is belangriker as die keuses wat jy maak nie. Die Bybel sê: ‘…Lot [het] sy tente tussen die stede in die vallei opgeslaan tot by Sodom (Genesis 13:12 NLV), en vir ‘n ruk het dit met Lot goed gegaan. Aan die einde het alles waarvoor hy gewerk het, egter in rook opgegaan. Ons lees volgende: ‘Nadat Lot vertrek het, sê die Here vir Abram: ‘Kyk bietjie rond in alle rigtings, so ver as wat jy kan sien. Hierdie land gaan Ek vir jou en jou nageslag as permanente eiendom gee’ (verse 14-15 NLV). Lot het die verkeerde rigting gekies en verloor. Abraham het die regte rigting gekies en gewen.

Keuses! Wanneer dit by keuses kom, moet jy dit ‘n gewoonte maak om jouself af te vra: ‘Hoe sal hierdie keuse my karakter, my selfrespek en my vrymoedigheid waarmee ek God nader, beïnvloed? Hoe sal dit my invloed en respek by ander mense affekteer? Hoe sal dit my familie en diegene wat in my voetstappe volg, affekteer?’

Die Bybel gee vir ons die antwoord: ‘Met so ‘n magtige skare toeskouers rondom ons om ons in die wedloop van die geloof dop te hou – kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag, veral die sonde wat so maklik ‘n houvas op mens kry. Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê, ons oë vasgenael op Jesus, die Een op wie ons geloof vanaf die wegspring tot by die eindstreep steun…’ (Hebreërs 12:1-2 NLV).

Sielskos: 1 Sam 16-17; Luk 24:45-53; Ps 63; Spr 22:17-23

Verklaar: ‘Dit werk vir my’

2020-09-30
2 Korintiërs 4:17 NLV

George Barna het in ‘n opname gerapporteer dat twee uit elke drie Amerikaners na hulself as ‘informele Christene’ verwys. Dis ‘n interessante term, maar wat beteken dit? In wese beteken dit ongebonde… nie toegewyd nie… wanneer ek so voel. Hier is egter hoe Paulus die Christelike lewe beskryf: ‘Ons het hierdie skat egter maar net in breekbare kleipotte – die allesoortreffende krag kom van God en nie van ons nie’ (vers 7 NLV). Let op die woord ‘skat’. Paulus het dit wat God in hom geplaas het as ‘n kosbare vonds gesien; hy het dit beskerm, homself daaroor verheug en die meeste daaruit geput. Beteken dit dat die Christelike lewe maklik en sonder probleme sal wees? Nee, Paulus gaan voort: ‘Om hierdie rede gee ons nie moed op nie. Al is ons uiterlike mens besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry op die oomblik is gering en tydelik, maar dit bewerk vir ons ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en vir altyd vas sal staan. Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare, want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare vir altyd’ (verse 16-18 NLV). God gebruik die lewe se ervarings – goed en sleg – om jou te verryk, te verskerp, te verdiep en te stabiliseer. Nog ‘n belangrike waarheid is dat dit wat jy tydens moeilike tye glo en spreek, die kwaliteit van jou geestelike lewe en jou toekoms bepaal. ‘Omdat ons dieselfde geloofsgesindheid het as waarvan daar geskryf staan: ‘Ek het geglo; daarom het ek gepraat,’ glo ons steeds en daarom hou ons ook aan met preek’ (vers 13 NLV). In plaas daarvan om dus te dink dat jou situasie teen jou werk, staan vandag in geloof op en verklaar: ‘Dit werk vir my!’

Sielskos: 1 Sam 8-10; Luk 24:13-24; Ps 68:24-35; Spr 22:5-6

Hoe om in geloof te wandel

2020-09-28
Romeine 4:12 AFR53

Die Bybel praat van diegene wat ‘…ook wandel in die voetstappe van die geloof van ons vader Abraham…’ Hoe wandel jy so? 1) Abraham het geglo in ‘…’n God wat dooies lewendig maak en deur sy roepstem dinge wat nog nie bestaan nie, aanspreek asof hulle reeds werklikheid is (vers 17 NLV). Wanneer God aan jou ‘n belofte maak, het Hy die mag om dit ‘n werklikheid te maak, selfs wanneer al die bewyse en omstandighede dit wat Hy gesê het, weerspreek. 2) ‘Teen alle verwagting in het Abraham geglo dat hy nog die stamvader van baie volke sou word…’ (vers 18 NLV). Toe daar geen rede meer was om te hoop nie, het Abraham steeds gehoop. Hoekom? Want sy hoop was in God! As jy vandag hooploos voel, dink aan hierdie woorde: ‘Keer terug na die vesting toe, gevangenes vol hoop! Ek belowe dat Ek julle dubbel sal vergoed vir al julle swaarkry’ (Sagaria 9:12 NLV). 3) “Teen alle verwagting in het Abraham geglo… op grond van God se belofte: ‘Jou nageslag sal so baie wees soos die sterre aan die hemel'” (Romeine 4:18 NLV). Wanneer God ‘n belofte maak, bevat dit reeds die krag om die belofte te vervul. ‘Net so is dit met die woord wat uit my mond kom: Dit sal nie leeg na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek verwag en die doel bereik waarvoor Ek dit gestuur het’ (Jesaja 55:11 NLV). 4) ‘Abraham het nie getwyfel aan God se belofte nie; inteendeel, sy geloof het sterker geword…’ (Romeine 4:20 NLV). Abraham het nie geweifel, geaarsel, innerlik met homself gestry of toegelaat dat ander mense se opinies hom beïnvloed nie. Hy het vasberade en standvastig gebly. Dís hoe jy in geloof wandel!

Sielskos: 1 Sam 1-3; Luk 23:50-56; Ps 68:1-11; Spr 22:1-2