Wat om op jou lewensreis te verwag (5)

2020-10-05
Filippense 2:16 NLV

Jy moet korttermyn bevrediging met langtermyn vervulling vervang. Paulus som sy lewe en bediening in hierdie vers op: ‘…sal ek tevrede wees dat ek nie verniet gejaag en geswoeg het nie.’

Niks in die lewe is belangriker as die keuses wat jy maak nie. Die Bybel sê: ‘…Lot [het] sy tente tussen die stede in die vallei opgeslaan tot by Sodom (Genesis 13:12 NLV), en vir ‘n ruk het dit met Lot goed gegaan. Aan die einde het alles waarvoor hy gewerk het, egter in rook opgegaan. Ons lees volgende: ‘Nadat Lot vertrek het, sê die Here vir Abram: ‘Kyk bietjie rond in alle rigtings, so ver as wat jy kan sien. Hierdie land gaan Ek vir jou en jou nageslag as permanente eiendom gee’ (verse 14-15 NLV). Lot het die verkeerde rigting gekies en verloor. Abraham het die regte rigting gekies en gewen.

Keuses! Wanneer dit by keuses kom, moet jy dit ‘n gewoonte maak om jouself af te vra: ‘Hoe sal hierdie keuse my karakter, my selfrespek en my vrymoedigheid waarmee ek God nader, beïnvloed? Hoe sal dit my invloed en respek by ander mense affekteer? Hoe sal dit my familie en diegene wat in my voetstappe volg, affekteer?’

Die Bybel gee vir ons die antwoord: ‘Met so ‘n magtige skare toeskouers rondom ons om ons in die wedloop van die geloof dop te hou – kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag, veral die sonde wat so maklik ‘n houvas op mens kry. Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê, ons oë vasgenael op Jesus, die Een op wie ons geloof vanaf die wegspring tot by die eindstreep steun…’ (Hebreërs 12:1-2 NLV).

Sielskos: 1 Sam 16-17; Luk 24:45-53; Ps 63; Spr 22:17-23