‘n Houding wat oorkom
2020-04-021 Petrus 1:6 NLV
In ‘n bekende studie genaamd Cradles of Eminence, het Victor en Mildred Goerztel in 1962 die familie agtergrond van meer as 400 hoogs suksesvolle mense ondersoek. Hulle het die vroeë ervarings wat moontlik tot aansienlike prestasies later in die lewe kon bydra, probeer identifiseer. Hulle het mense soos Einstein en baie ander wat beroemd en bewonder is, by die studie ingesluit. Hulle agtergrond was baie interessant. Driekwart van hulle het moeilike kinderdae gehad en armoede, gebroke huishoudings en ouerlike mishandeling ervaar. Een kwart van hulle het fisiese gestremdhede gehad. Die meeste van die bekende skrywers of dramaturge se ouers het van een krisis na die volgende rondgespring. Die navorsers het tot die volgende gevolgtrekking gekom: Die behoefte om vir die nadeel in hul kindertyd te vergoed, was ‘n belangrike faktor in hulle strewe na persoonlike prestasies. Hierdie mense het een ding in gemeen gehad – ‘n houding wat oorkom: ‘…Die oorwinning wat die wêreld verower het, is ons geloof’ (1 Johannes 5:4 NLV). Wanneer jy geloof in God en jouself het, kan jy dinge doen wat jou sal verstom. Die probleem wat vandag so oorweldigend lyk, kan die hupstoot wees wat jou môre aan grootsheid bekendstel. Die Bybel stel dit so: ‘Hieroor kan julle baie bly wees, al moet die baie beproewings julle vir ‘n rukkie laat swaarkry. Die doel met die beproewings is om die egtheid van julle geloof te toets. Julle geloof word getoets soos met vuur getoets word en daardeur gesuiwer word… As die toetse die egtheid van julle geloof uitwys, loop dit uit op lof en heerlikheid en eer…’ (1 Petrus 1:6-7 NLV).
Sielskos: Est 1-4; Matt 26:57-64; Ps 72:12-20; Spr 9:7-9