‘n Rustige gemoedstoestand

2020-07-12
Filippense 4:7 NLV

Die woord ‘bekommernis’ kom van ‘n Griekse woord wat beteken ‘om die gedagtes te verdeel.’ Bekommernis sny jou middeldeur; in plaas daarvan om aan God se beloftes te dink, dink jy aan jou probleme. Bekommernis is soos ‘n wiegstoel – dit hou jou besig, maar dit bring jou nêrens. In plaas daarvan om toekomstige moeilikhede te verlig, steel dit vandag se krag – en jy kan nie bekostig om jou krag te verloor nie. Hoe kan jy dus ophou om jouself te bekommer? Die Bybel het ‘n twee-ledige antwoord: God se deel, en ons deel. Ons deel sluit gebed en dankbaarheid in: ‘Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen’ (vers 6 NLV). Jy moet meer bid sodat jy minder bekommerd kan wees en ook onthou om jou dankbaarheid te betuig. Jy kan met vrymoedigheid na God vir die volgende ding gaan, wanneer jy onthou het om Hom vir die laaste ding te bedank. Wat is God se deel? ‘As julle so bid, sal julle God se vrede beleef. Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink. Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (vers 7 NLV). Jy sal God se vrede beleef. Dink net hoe wonderlik sal dit wees om God se rustige gemoedstoestand te hê! Dink jy dat Hy met angstigheid sukkel? Of dat Hy sy hande saamslaan en die engele vir sooibrandmedisyne vra? Soos ‘n stokkie voor ‘n olifant se poot, so uitdagend is jou probleem vir God. Hy geniet perfekte vrede omdat Hy perfekte mag het – en Hy bied sy vrede vir jou aan. Wanneer jy jou deel deur gebed en danksegging doen, sal jy ‘n rustige gemoedstoestand hê.

Sielskos: Heb 11:7; Gen 6:9-22; Gen 8:18-22; Matt 24:36-44

Jou krag en lewenstrategie

2020-05-17
Jesaja 40:29 NLV

Wanneer die stryd voortduur met geen einde in sig nie, raak jy moeg. Is dit waar jy vandag is? Werk dinge wat eers glad verloop het, nie meer nie? Het jy alles wat jy kon doen, gedoen, maar dit het nie gehelp nie? Wat moet jy doen? Spandeer meer tyd saam met God in gebed en luister na Hom as Hy deur sy Woord met jou praat. Jy moet jou kragte herwin deur op God se krag staat te maak, jou geloof teenoor oorwinning te herfokus en aan God se beloftes terug te dink (sien Psalm 77:6). Wanneer jy deur probleme in jou huwelik, jou besigheid, jou gesondheid, jou werk, of jou finansies oorweldig voel, kan jy op hierdie twee Bybelse beloftes staan: ‘Hy gee krag aan dié wat moeg is. Hy maak die kragteloses sterk. Selfs jongmense raak uitgeput en afgemat. Baie jongmense struikel en val. Maar dié wat hulle hoop op die Here stel, sal hulle krag terugkry. Hulle vlieg hoog, soos arende. Hulle sal hardloop en nie moeg word nie. Hulle sal loop en nooit vermoeid word nie’ (Jesaja 40:29-31 NLV). ‘…ons is ver bo ons kragte belas, met die gevolg dat ons selfs moed verloor het om te bly lewe. Dit het eintlik vir ons gevoel of ons die doodsvonnis ontvang het sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op dié God wat die dooies opwek. Dit is Hy wat ons van só ‘n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Hý is ons verwagting; Hy sal ons altyd weer red’ (2 Korintiërs 1:8-10 NLV). In plaas daarvan om te probeer om uit die situasie te ontsnap, vra na God en Hy sal vir jou die krag en ‘n strategie gee om sterker anderkant uit te kom.

Sielskos: Matt 4:12-16; Matt 5:14-16; Hand 9:1-19

Moenie jouself uit geloof bid nie

2020-03-06
Markus 11:24 NLV

Charles Haddon Spurgeon, die ‘Prins van Predikers,’ het gesê: ‘Glo in God, totdat jy Hom vir die antwoord kan bedank. As die antwoord jou steeds ontwyk, moenie op so ‘n manier bid dat dit duidelik is dat jy nie glo dat jy die antwoord sal kry nie. So ‘n gebed sal jou hinder eerder as om jou te help; en wanneer jy klaar gebid het, sal jy agterkom dat jou geloof verswak, of selfs heeltemal verdwyn het. Die dringendheid wat jy gevoel het om hierdie tipe gebed te bid kom duidelik uit jouself. Dit is nie verkeerd om die kwessie weer teenoor die Here te opper indien Hy jou laat wag nie, maar doen dit op so ‘n manier dat dit geloof impliseer. Moenie jouself uit geloof bid nie. Jy kan dalk vir Hom sê dat jy wag en Hom steeds vir die antwoord vertrou en Hom prys. Daar is niks wat geloof so bevestig as om God te prys en te dank omdat jy seker is dat jy die antwoord sal ontvang nie. Gebede wat ons uit ons geloof uit bid, ontken God se belofte in sy Woord en sy fluistering in ons harte. Sulke gebede is die uitdrukking van die onrus in jou hart en hierdie onrus impliseer ongeloof. ‘Want net as ons glo, kan ons die rus binnegaan…’ (Hebreërs 4:3 NLV). Hierdie gebed wat ons onsself uit geloof uit bid, spruit dikwels uit ons gedagtes oor die moeilike probleem, eerder as gedagtes oor God se belofte. Abraham het ‘…baie goed besef dat sy eie liggaamlike vermoëns reeds heeltemal gedaan was… [maar] Abraham het nie getwyfel aan God se belofte nie…’ (Romeine 4:19-20 NLV). Mag ons oppas en bid dat ons nie in die versoeking kom om ons heeltemal uit geloof te bid nie.’

Sielskos: Gen 30:25-31:55; Matt 21:1-11; Ps 136:13-26; Spr 6:32-35

Hoe om die lewe se gevegte te wen (3)

2020-02-19
2 Kronieke 20:3 NLV

Derdens, neem jou probleme na die Here toe. Gebed is dikwels die laaste uitweg waaraan ons dink. Hoekom is dit so? Omdat ons ons probleme self wil oplos. ‘n Diaken het een dag vir die pastoor gesê: ‘Pastoor, ons het ‘n probleem wat ons nie kan oplos nie. Ons het alles probeer en niks werk nie.’ Die pastoor het gesê: ‘Wel, al wat ons dan kan doen is om daaroor te bid.’ Die diaken het geantwoord: ‘Pastoor, is dit wraggies ons laaste opsie?’ Wanneer jy voor die lewe se gevegte te staan kom, moet gebed jou eerste uitweg wees, nie jou laaste nie! Soms wanneer die probleem nie net deur gebed opgelos kan word nie, lei God jou na ‘n tweede element toe: om te vas. Het jy dit al probeer? Om te vas is nie iets mistiek of geheimsinning nie; dit gaan oor fokus! Dis om te sê: ‘Here, ek kan sonder kos en ander dinge gaan, maar ek kan nie hierdie probleem sonder U oplos nie. Dus, in plaas daarvan om te eet, gaan ek U aangesig soek totdat ek ‘n antwoord het.’ Kornelius, ‘n nie-Jood, het vir vier dae gevas en gebid en God vir leiding gevra. God het toe vir Petrus na sy huis toe gestuur om die evangelie met die nie-Jode te deel en in die proses die verloop van die geskiedenis verander (sien Handelinge 10). Die Nuwe Testamentiese kerk het gevas, gebid en God vir leiding gevra om te weet wie om in leierskapsposisies aan te stel. So is een van die mees dinamiese evangelistiese spanne van alle tye, Paulus en Barnabas, gebore (sien Handelinge 13:2-3). Wanneer jy ernstig genoeg raak om oor jou probleem te vas en te bid, sal God vir jou die oplossing wys.

Sielskos: Rom 15-16; Matt 15:15-28; Ps 28; Spr 5:3-6

Vergroot jou vra-kapasiteit

2020-01-04
Jakobus 4:2 NLV

Hoe groot is jou vra-kapasiteit wanneer dit by gebed kom? Elia het vir Elisa gevra: ‘…’Wat kan ek vir jou doen voordat ek van jou weggeneem word?’ ‘Laat my asseblief ‘n dubbele erfgenaamsdeel van u gees ontvang,’ antwoord Elisa’ (2 Konings 2:9 NLV). Sommige van ons mag dalk geskok oor Elisa se antwoord wees, hom as arrogant sien en sê: ‘Jy moet nederig en dankbaar vir die voorreg wees om onder ‘n groot profeet soos Elia te dien; en jouself gelukkig ag dat God jou toelaat om met sy bediening voort te gaan.’ Elisa was egter nie sku nie en Elia het nie aanstoot geneem nie. Hoe het dit uitgedraai? Elisa het sy dubbele porsie ontvang en op die ou einde twee keer soveel wonderwerke as Elia gedoen. Wanneer jy bid, sê God nie: ‘Maak jou versoek redelik en prakties,’ nie. Hy wil hê dat jy groot en oorvloedige versoeke moet hê. Dink net aan hierdie groot belofte: ‘Vra My, en Ek gee vir jou nasies as erfporsie, die einde van die aarde as jou besitting’ (Psalm 2:8 NLV). Haal die beperkinge van God af! Dink net, as Hy gewillig is om vir jou ‘die nasies as erfporsie’ te gee, sal Hy verseker jou geliefdes red, jou liggaam gesond maak, of vir jou daardie werk, huis of verhouding waarvoor jy bid, gee. Jesus het gesê: ‘Wat julle ook al sou vra in my Naam, dit sal Ek doen…’ (Johannes 14:13 NLV). Net twee keer in die Skrif het iemand iets gesê wat Jesus verbaas het. Op beide geleenthede was dit ‘n demonstrasie van gewaagde geloof deur ‘n nie-Jood, iemand wie die godsdienstige skare gevoel het geen reg op God se wonderbaarlike voorsiening gehad het nie. Die woord vir jou vandag is dus: vergroot jou vra-kapasiteit.

Sielskos: 1 Kor 9-11; Matt 4:12-17; Ps 90:13-17; Spr 1:8-9