Krag deur mededeling

2021-02-02
Handelinge 19:18 NLV

Met betrekking tot die kerk in Efese, skryf Paulus: ‘Baie van dié wat gelowig geword het, het hulle aangemeld en al hulle praktyke openlik bely… So het die Woord van die Here kragtig gegroei en sterk geword’ (verse 18-20 NLV). Geestelike genesing vind in kerke soos dié plaas. Wanneer jy dus in dieselfde patroon van sonde en mislukking vasgevang is, moet jy volwasse, toegewyde Christene soek wat nie deur jou probleem geskok sal word nie, wat nie jou vertroue sal skend nie en wat weet hoe om vir jou en saam met jou te bid.

Jesus het sy volgelinge die outoriteit gegee om belydenisse aan te hoor en genade uit te spreek. ‘Wie se sondes julle ook al vergewe, dit word hulle vergewe; wie s’n julle ook al handhaaf, word gehandhaaf’ (Johannes 20:23 NLV). ‘n Geestelike katarsis vind plaas wanneer iemand jou in die oë kyk en sê: ‘God vergewe jou, ek vergewe jou, vergewe nou jouself en wandel in God se vergifnis!’ Vergifnis is so ‘n sterk krag dat dit genesing kan fasiliteer.

Jakobus skryf: ‘Is daar van julle wat siek is? Dan moet julle die ouderlinge van die gemeente laat kom. Nadat die ouderlinge die siekes met olyfolie in die Naam van die Here gesalf het, moet hulle vir hulle bid. En ‘n gelowige gebed sal die siek mens gesond laat word; die Here sal hom laat opstaan. En watter sondes die sieke ook al gedoen het, dit sal hom vergewe word. Daarom moet julle julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid sodat julle gesond kan word. Die gebed van iemand wie se saak met God reg is, het ‘n kragtige uitwerking’ (Jakobus 5:14-16 NLV). Indien jy nie seker is met wie jy moet praat, of wie jy kan vertrou nie, begin by jou pastoor.

Sielskos: Jes 49-52; Matt 12:1-14; Ps 107:33-43; Spr 3:27-28

Glo dat God jou gehoor het

2020-12-17
Johannes 11:41 NLV

Voordat Jesus vir Lasarus uit die dood opgewek het, het Hy gebid: ‘…Vader, Ek is dankbaar teenoor U dat U na My geluister het.’ Wanneer jy weet dat jou gebed in harmonie met God se wil is, kan jy jou gebed met dieselfde woorde afsluit. Nadat jy gebid het, wil die duiwel hê dat jy daarvan moet weggaan en wonder of God jou gehoor het en of Hy gewillig is om jou versoek toe te staan. Wanneer jy egter weet dat God jou gebed gehoor het, dink, praat en tree jy anders op. Angs word met vrede vervang.

Hier is ‘n paar Skrifgedeeltes waarop jy kan mediteer: ‘Maar as ‘n mens bid, moet jy die vertroue hê dat God sal antwoord, want iemand wat twyfel, is soos ‘n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. So iemand kan mos nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie’ (Jakobus 1:6-7 NLV). ‘Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het, dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister. As ons dan met die wete leef dat Hy na ons luister, na wat ons ook al vra, weet ons ook dat Hy die versoek wat ons gevra het, sal toestaan’ (1 Johannes 5:14-15 NLV). ‘…julle kan vir hierdie berg sê: ‘Mag God jou oplig en in die see gooi,’ en dit sal so gebeur. Al wat nodig is, is dat julle regtig sal glo en nie in julle harte twyfel nie… alles wat julle in gebed vra, sal julle ontvang, mits julle God daarmee vertrou’ (Markus 11:23-24 NLV).

Begin vandag om God te dank dat Hy na jou gebed geluister het en dat Hy dit op ‘n manier wat die beste vir jou is, sal antwoord.

Sielskos: Neh 11-13; Joh 20:10-18; Ps 57; Spr 30:24-28

Wees lief vir wat jy doen

2020-10-20
Kolossense 3:23 NLV

Jy sal weet dat jou werk jou ‘roeping’ is wanneer jy doen waarvoor jy lief is en lief is vir wat jy doen.

Die filantroop en nyweraar, Andrew Carnegie, het gesê: ‘Die gemiddelde persoon sit slegs 25 persent van hul energie en vaardigheid in hul werk. Die wêreld haal hulle hoed af vir diegene wat meer as 50 persent insit en staan op hulle koppe vir die enkele siele wat 100 persent aan hulle werk toewy.’

Thomas Edison was mal oor sy werk. In sy latere jare het hy Menlo Park, die wêreld se eerste fabriek wat niks anders as uitvindings gemaak het nie, gestig. Dit was ‘n voorloper tot die private navorsingslaboratoriums wat nou deur so baie groot maatskappye onderhou word. Op een tydstip was Edison besig om aan sewe-en-veertig dinge gelyk te werk. Ander uitvinders mag dalk ryker gewees het, maar geen uitvinder was meer entoesiasties of suksesvol nie.

Wanneer jy glo dat dit wat jy doen, ‘n verskil maak, sal jy anders voel oor wat jy doen. As jy glo dat jou werk waarde in God se oë het, sal jy nie meer oor die kritici omgee of van die rasieleiers afhanklik wees nie.

Paulus het gesê: ‘Al is my lewe kosbaar, ag ek dit van geen waarde as ek nie my lewenstaak en bediening wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaarmaak nie…’ (Handelinge 20:24 NLV).

Een van die laaste gebede wat Jesus gebid het, was: ‘Ek het U op aarde verheerlik deur die werk te voltooi wat U my gegee het om te doen’ (Johannes 17:4 NLV). As jy ernstig daaroor is om God te behaag, moet jy dit ook jou gebed maak.

Sielkos: 2 Sam 20:1-22:30; Joh 5:1-15; Ps 15; Spr 24:7

Die transformerende krag van dankbaarheid (1)

2020-10-07
1 Tessalonisense 5:18 NLV

Deur dankbaarheid te betuig, vul jy jou lewe met vreugde en veerkragtigheid. Die Britse teoloog, John Henry Jowett, het gesê: ‘Elke deug wat van dankbaarheid geskei word, word vermink en loop mank op die geestelike pad.’

Sonder dankbaarheid, word jou geloof ‘n hol godsdienstige praktyk, jou liefde vir ander verdwyn, jy voel van vreugde gedreineer en jy begin soos ‘n martelaar optree. Wanneer Paulus sê: ‘Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God van julle as Christene verwag,’ bedoel hy nie dat elke omstandigheid wat jy teëkom noodwendig God se wil is nie.

Pastoor Jack Hayford merk op: ‘In elke versekeringskontrak is daar die voorwaarde: ‘Tensy dit ‘n daad van God is.’ Kultureel gesproke word dit as die ergste ding wat kan gebeur, gedefinieer. Ek het al gehoor dat mense dit as volg interpreteer: ‘Wel, wat ook al gebeur is die wil van God. Wees dankbaar en loof God.’ Die Bybel sê nie dat alles Goddelik ontwerp is nie, dit sê dat God in dit, deur dit en verder as dit goeie werk kan vermag. ‘Die wil van God in Christus’ is dat ons dankie sê en God te midde daarvan loof. Hoekom sal ons dit doen? Omdat ons goed voel? Nee, ons doen dit omdat aanhoudende gebed ‘n lied van geloof in die situasie vrystel. Om deur dit te worstel en af en toe te bid gaan nie goed genoeg wees nie. Hy kan egter die beste van enige situasie maak, en dis hoekom die Bybel sê dat ons in alle omstandighede dankbaar moet wees.’

In enige omstandighede, kan jy kies om te kla of om God te loof – en jy kan nie God loof sonder om dankbaarheid te betuig nie!

Sielskos: 1 Sam 20:30-23:29; Joh 1:14-28; Ps 29; Spr 22:26-29

Wat om op jou lewensreis te verwag (2)

2020-10-02
2 Timoteus 4:7 NLV

Nie almal wat wegspring, voltooi die resies nie.

Paulus skryf: ‘Onthou, daar hardloop baie atlete op die baan, maar net een ontvang die prys. Hardloop só dat julle die prys sal ontvang. Al die deelnemers pas absolute selfdissipline toe. Húlle doen dit om ‘n prys te wen wat heel gou sal vergaan. Maar óns doen dit vir ‘n ewige prys. Daarom pyl ek reguit op die wenpaal af, doelgerig met elke tree wat ek gee. Ek is soos ‘n bokser wat met elke hou tref. Ek brei my liggaam en dissiplineer dit om werklik bruikbaar te wees. Ek wil tog nie, terwyl ek vir ander gepreek het, self deur God gediskwalifiseer word nie’ (1 Korintiërs 9:24-27 NLV).

Paulus praat nie hier van sy verlossing nie; dit was ‘n uitgemaakte saak. Hy praat hier van sy hemelse beloning; en hierdie spesifieke woorde moet jou laat stop en dink: ‘Ek wil tog nie… self deur God gediskwalifiseer word nie.’ Hier is ‘n paar dinge wat sal veroorsaak dat jy op jou reis struikel:

1) Deur nie elke dag God se Woord te lees en te bid nie.

2) Om vir God nee te sê wanneer Hy met jou aan ‘n spesifieke area in jou lewe werk.

3) Morele mislukking wat uit verkeerde gewoontes en verhoudings spruit.

4) Deur toe te laat dat vrees en twyfel jou beheer.

5) Deur tyd met onsinnige doelwitte te verspil.

6) Deur sukses by die werk te behaal, maar by die huis te misluk.

7) Deur nie jou gawes, talente en tyd in God se koninkryk te saai nie.

Die lys kan aangaan en aangaan. Maak die volgende vandag jou gebed: ‘Deursoek my, o God, en ken my hart… Kyk of daar enige gebrek by my is, en lei my op die ewige pad’ (Psalm 139:23-24 NLV). God hou daarvan om sulke gebede te beantwoord!

Sielskos: Lev 23:33-44; Sag 14:16-21; Joh 7:1-40