God is net ‘n gebed weg

2021-08-28
Psalm 34:7 NLV

J.C. Penney het reeds gesterf en hemel toe gegaan, maar honderde kettingwinkels dwarsoor Amerika dra nog steeds sy naam. Toe hy begin werk het, was hy net in een ding geïnteresseerd: om geld te maak. Terwyl hy as klerk vir ses dollars ‘n week gewerk het, was sy brandende begeerte om meer as ‘n honderdduisend dollar werd te wees. Toe hy daardie doelwit bereik het, het hy vir ‘n rukkie tevrede gevoel, maar gou sy mikpunt na om ‘n miljoen dollar werd te wees, verander. Toe het tragedie sy lewe getref. Sy vrou het siek geword en van longontsteking gesterf.

Hy het daardie tyd as volg onthou: ‘Toe sy sterf, het my wêreld om my ineengestort. Om besighede te bou, om ‘n sukses in mense se oë te wees, om geld bymekaar te maak – wat was die punt van dit alles? Dit het vir my gevoel of die lewe, en selfs God, met my spot.’

Kort voor lank was hy finansieel verwoes en in ‘n diep depressie. Dit was op daardie punt wat hy na God toe gedraai het en ‘n wonderbaarlike omkering ervaar het. Hy het gesê: ‘Toe ek tot nederigheid en die besef van my afhanklikheid van God gebring is, was dit soos ‘n lig wat my wese verlig het. Ek kan dit nie anders beskryf nie, behalwe om te sê dat dit my as mens verander het.’

Het dinge vandag in jou lewe ineengestort? Wonder jy of jy ooit weer sal kan opstaan? Draai na God toe; Hy is net ‘n gebed weg. Dawid het gebid: ‘Hierdie geringe mens het geroep, en die Here het gehoor. Hy het hom uit al sy benoudheid gered.’ Wat God vir Dawid gedoen het, sal Hy vir jou vandag doen.

Sielskos: Eseg 5-9; Luk 18:18-30; Ps 119:169-176; Spr 19:9-10

Hoe om op koers te bly

2021-07-07
Psalm 119:11 NLV

Senator Bill Nelson het op ‘n ses-dag ruimtetuigmissie aanboord die Columbia, net voor die Challenger ramp, gevlieg. In sy boek, Mission, verduidelik hy hoe moeilik dit is om ‘n behoorlike wentelbaan in die ruimte te handhaaf. Daar is geen weerstand in die ruimte nie, dus kan ‘n ruimtevaarder daardie groot wentelbaan letterlik self omkeer. Om in die regte wentelbaan te bly, maak die rekenaars aanboord voortdurend koers- en hoogteregstellings deur klein vuurpyle af te vuur wat klein aanpassings maak, terwyl groter vuurpyle brandstof verbrand om groot aanpassings te maak. Hierdie vuurpyle is van kritieke belang, want as hulle nie konsekwent op die regte tyd afgevuur word nie, kan die ruimtetuig uit sy wentelbaan beweeg en in die buitenste ruim rondtuimel of in die aarde se atmosfeer neerstort.

Daar is ‘n belangrike les hieruit te leer. As ons aan onsself oorgelaat word, is ons geneig om uit ons geestelike wentelbaan na louheid en onverskilligheid te tuimel. Of nog erger – ons eindig in sonde en rebellie op. Dis hoekom die vuurpyle van geloof en Bybelstudie, wat op ‘n aanhoudende en konsekwente basis ‘afgevuur’ word, ons help om op koers te bly en ons lewens keer om uit geestelike beheer te tuimel.

Bybelstudie en gebed gaan hand aan hand. Jy moet bid voor jy die Bybel lees om God te vra om jou te help om dit te verstaan. Jy moet ook na jy Bybel gelees het bid, om God te vra om jou te help om dit wat Hy vir jou gesê het, toe te pas. Soos met ‘n geliefde wat ver is, is die Bybel God se liefdesbrief aan jou en gebed is die telefoon wat jy optel en met Hom praat. Dis hoekom dit noodsaaklik is om jou daaglikse gebed en Bybelstudie te handhaaf.

Sielskos: Jer 49-50; Luk 5:27-39; Ps 122; Spr 15:10-14

Gebed: maak dit eenvoudig en gereeld

2021-06-15
Matteus 6:7 NLV

Jesus het geweet van ons neiging om dinge onnodig te kompliseer en het gesê: ‘Wanneer julle dan bid, moenie met woorde mors… nie… julle Vader weet presies wat julle behoeftes is, selfs nog voordat julle Hom vra!’ (verse 7-8 NLV). Jesus leer ons hier dat gebed nie lank, luid of moeisaam hoef te wees nie. Hy nooi jou ook uit om ‘n Skriftuurlike belofte te soek wat met jou behoefte ooreenstem en dan daarop te staan.

Charles Swindoll, wat sy tyd in die kar gebruik het om te bid, skryf die volgende: ‘Ek praat dikwels hardop met God. Soms sing ek vir Hom. Met tye is my hele gebed in my gedagtes. Elke keer wat ek myself aan gebed oorgee, kom ek agter dat God my fokus word, eerder as een van my persoonlike probleme. My bekommernisse smelt weg. Ek is in staat om enigiets wat my bekommer te laat gaan, sodat ek heeltemal verlore in sy teenwoordigheid en die vreugde van bediening kan word. Wanneer ek by my bestemming arriveer, is ek opgewonde om God se wil te doen. Ek voel verkwik, verlig en gereed. My gedagtes is gefokus. My hart is voorbereid. My emosies is helder en wat my ookal gepla het terwyl ek bestuur het, pla my nie meer nie. Gebed het dit moontlik gemaak. Ek wens ek kon sê dat ek elke rit, elke dag gebruik om in gebed te deur te bring. Soos baie mense, vergeet ek egter dikwels. My gedagtes sal van een probleem na die volgende spring en eerder as om te bid, broei ek daaroor. Met tye sal ek so angstig wees dat dit nie by my opkom dat ek eerder myself moet ophou bekommer en begin bid nie.’

Gebed: maak dit eenvoudig en gereeld.

Sielskos: 2 Kon 21-23; Luk 1:1-10; Ps 73:1-16; Spr 13:17-19

Gebed kan jou lewe verander

2021-06-14
1 Timoteus 2:1 NLV

Gebed is eenvoudig kommunikasie met God. Kommunikasie kan gesproke of stil wees. Dit kan selfs in ‘n liedjie uitgedruk word. Baie van die Psalms is net gebede wat getoonset is. Gebed gaan daaroor om met God te skakel. Of dit nou die belydenis van sonde, lofprysing van sy Naam, om sy wil te vra, om vir ‘n vriend in te tree of om jou eie behoeftes te kommunikeer is, moet jou gebede Godgesentreerd en nooit selfgesentreerd wees nie. Dus moet jy genoeg tyd toelaat om te luister en aandagtig voor jou hemelse Vader te wag.

Gebed moet ook jou eerste prioriteit wees. Paulus het vir Timoteus opdrag gegee: ‘Eerstens spoor ek jou aan om vir alle mense te bid. Terwyl jy jou versoeke rig, smeek God se onverdiende goedheid daaroor af en dank Hom’ (vers 1 NLV). Let die woord ‘Eerstens’ op. Voor jy uit die bed klim, voor jy gaan stort, voor jy werk toe gaan, voor jou eerste afspraak: bid, bid, bid!

Elke middag om drieuur het Petrus en Johannes na die tempel toe gegaan om te bid. Hulle het hulle skedule in die middel van die dag vir een doelwit onderbreek: gebed. Wanneer jou dag dus op sy eie pas verbygaan en in sy eie rigting beweeg, onderbreek dit met gebed. Soos jou dag na ‘n krisis toe opbou, stop opsetlik om te bid. Wanneer jou oggend begin verkeerd loop, onttrek jouself vir ‘n paar oomblikke van stilte om God se wil te soek en Hom vir sy instruksies te vra. Wanneer jou houding begin suur word, neem ‘n oomblik om jou houding deur gebed te verander. Moenie wag nie – bid onmiddellik.

Maak gebed jou eerste prioriteit in alle dinge en ten alle tye. As jy dit doen, sal jy uitvind dat gebed jou lewe ten goede verander.

Sielskos: 2 Kon 18:17-20:21; Mark 16:1-20; Ps 80:12-19; Spr 13:13-16

Hoekom moet jy bid?

2021-03-08
Matteus 21:22 NLV

Jy sê: ‘As God lief is vir my en weet wat ek nodig het, hoekom moet ek Hom dan daarvoor vra?’ Omdat gebed beteken dat jy met God praat en na God luister, wat daartoe lei dat jy ‘n verhouding met Hom bou. Jesus het gesê: ‘Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg’ (Matteus 6:33 NLV).

Wanneer jou gebede op jou verhouding met God gebaseer is, word daar aan jou behoeftes voldoen. Wanneer jy vir God lief is en tyd met Hom deurbring, sê sy Woord: ‘…Wat geen oog gesien het; wat geen oog gehoor het; wat in niemand se hart opgekom het nie – dit het God voorberei vir hulle wat Hom liefhet’ (1 Korintiërs 2:9 NLV). God het ‘n vlak van seën vir jou in gedagte wat geen aardse oog kan sien of wat geen aardse gedagtes kan verstaan nie.

Wanneer jy bid, openbaar Hy dinge deur sy Gees aan jou. Wanneer dit gebeur, groei jou geloof en is jy in staat om dit te ontvang wat God vir jou wil voorsien. Ontwikkel dus ‘n leefstyl van gebed – deur voortdurend te bid, orals waar jy gaan, te midde van jou daaglikse roetine. ‘Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om’ (1 Petrus 5:7 NLV).

God gee oor elke detail van jou lewe om. Wanneer jy dus angstig oor iets raak, praat met Hom daaroor. Moet ook nie vergeet om sy Woord te lees nie. Wanneer ‘n probleem dus opduik, kan jy die volgende sê: ‘Vader, U het in u Woord gesê dat U dit vir my sal doen,’ en dan die belofte aanhaal en daarop staan.

Sielskos: Gen 44-46; Matt 21:18-32; Ps 106:24-48; Spr 7:3-5