Doen hierdie jaar wat God sê

2020-01-03
Jesaja 1:19 NLV

In die elfde eeu, het koning Henry III van Bavaria moeg geword vir al sy verantwoordelikhede as koning, die druk van internasionale politiek en die vervelige lewe aan die hof. Hy het ‘n aansoek by die plaaslike klooster ingedien om as ‘n denker aanvaar te word en die res van sy lewe in gebed en meditasie deur te bring. Die kloosterhoof, Richard, het egter gereageer: ‘U Majesteit, besef u dat die belofte hier een van gehoorsaamheid is? Dat dit moeilik sal wees, aangesien u ‘n koning is?’ Henry het geantwoord: ‘Ek verstaan. Ek sal vir die res van my lewe aan jou gehoorsaam wees, soos God jou lei.’ Die kloosterhoof het geantwoord: ‘Dan sal ek vir jou sê wat om te doen. Keer terug na jou troon en dien God getrou in die plek waar Hy jou geplaas het.’ Na Henry se dood is die volgende stelling tot sy eer geskryf: ‘Die koning het geleer om te regeer, deur gehoorsaam te wees.’ Vandag, en elke dag, het jy die volgende besluite om te maak: 1) Lewe volgens jou eie impulse, of lewe volgens die instruksies wat God in sy Woord vir jou gegee het. 2) Lewe volgens jou eie goeddunke, of onderwerp jouself aan die heerskappy en leierskap van die Heilige Gees wat in jou woon. Wanneer jy daaroor nadink, is die antwoord duidelik! Wanneer jy God gehoorsaam, lei dit tot vrede, vooruitgang, beskerming en bevordering. Sy Woord sê: ‘As julle My maar net gehoorsaam en toelaat dat Ek julle help, sal julle baie hê om te eet.’ Gehoorsaamheid is ‘n daad van jou wil, nie ‘n refleks van jou emosies nie. Doen dus hierdie jaar wat God sê, want Hy het goeie dinge vir jou in gedagte.

Sielskos: 1 Kor 5-8; Matt 4:1-11; Ps 90:7-12; Spr 1:5-7

Eindig sterk in die bediening (3)

2019-11-20
Handelinge 20:28 NLV

Hier is nog ‘n kwessie waarmee pastore dikwels sukkel: Hulle weet hoe om ander geestelik te voed, maar nie hulself nie. Voor Paulus die kerk in Efese die laaste keer verlaat het, het hy die kerkleiers byeen gebring en gesê: ‘Pas julleself op en die hele kudde oor wie die Heilige Gees julle as ouderlinge aangestel het…’ Voor God die bediening bou, bou hy die predikant; andersings word jy ‘n maklike teiken vir die Vyand. Toe die administratiewe kant van die kerk gedreig het om die apostels se daaglikse gebed- en Bybelstudietyd weg te neem, het die apostels geantwoord: ‘Óns sal dan al ons tyd bestee aan gebed en die bediening van die woord.’ Pastoor, moenie net daarop fokus om jou preek voor te berei nie, berei ook jou gees voor! Moet nie net grense vir jou mense stel nie, stel ook grense vir jouself. Wanneer jy glo dat jy geestelike kortpaaie kan neem, maak dit jou vir verkeerde verhoudings en destruktiewe gewoontes ontvanklik. Uiteindelik lewe jy dan op twee vlakke – publieke diens en private stryd. Wanneer dit gebeur, lewe jy met die vrees van blootstelling, jy voel soos ‘n skynheilige en jy gee die selfvertroue wat jy nodig het sodat God jou kan gebruik, prys (sien 1 Johannes 3:21,22). Gevolglik word die kerk geestelik beroof en ly hulle daaronder. Dus: wat het sukkelende diensknegte van God nodig? Geestelike vaders! Paulus skryf: ‘Daar is baie mense wat vir julle leer van Christus… Maar julle het nie baie vaders nie…’ (1 Korintiërs 4:15 NLV). Kry ‘n volwasse, gesoute vriend in die bediening en reik uit na hulp voor jou probleem buite beheer raak. Dis nie net ‘n goeie idee nie – jou oorlewing in die bediening mag dalk daarvan afhang!

Sielskos: 2 Kro 25-28; Joh 12:20-36; Ps 102:12-17; Spr 27:10-12

Weerstandsoefeninge

2019-11-11
Jakobus 4:7 NLV

Het jy al ooit gekyk hoe iemand weerstandsoefeninge doen? Hulle word elke dag sterker soos hulle met meer en meer gewigte oefen. Satan is daarop uit om drie dinge te doen: ‘…om te steel, dood te maak en te vernietig…’ (Johannes 10:10 NLV). Om wat te vernietig? Alles wat God vir jou in gedagte het! Hy sal jou gedagtes, jou gesondheid, jou huwelik, jou kinders, jou finansies en jou karakter met ‘n hele arsenaal wapens aanval. As jy ‘n geestelike swakkeling is, sal hy jou vermorsel! Satan bestudeer jou. Hy weet hoe om jou te laat tou opgooi en hy sal jou met elke kans wat hy kry in daardie rigting druk. Wat moet jy dus doen? Druk terug – en hou aan druk! Gebruik elke geestelike wapen wat God vir jou gegee het – gebed, lofprysing, sy Woord en broederskap. Dis tyd om die situasie op sy kop te keer en die Vyand as jou persoonlike gym te begin gebruik. Die Bybel sê: ‘…Die boodskap van God is soos ‘n swaard wat die Heilige Gees vir jou gee om die stryd mee te voer’ (Efesiërs 6:17 DB). Wanneer jy met God se Gees vervul is, sal Hy in jou, deur jou en vir jou veg. Wanneer dit gebeur, bereik Satan die plek waar hy weet dat hy jou nie op ‘n spesifieke front kan oorwin nie, so wat doen hy? Hy val jou op ‘n ander front aan! Soos jy egter oorwinning op oorwinning behaal, ontwikkel jy die vrymoedighed en krag om hom ook op daardie front te verslaan. Met genoeg weerstandsoefeninge onder jou belt, sal jy die vreugde om in die waarheid van hierdie wonderlike belofte te wandel, ervaar: ‘Die God van vrede sal die Satan binnekort onder julle voete verpletter…’ (Romeine 16:20 NLV).

Sielskos: 1 Kro 26:20-29:30; Joh 10:11-21; Ps 133; Spr 26:7-12

Hoe om God se vrede te ervaar

2019-10-11
Filippense 4:6-7 NLV

God se vrede is wonderlik. Sommige mense rondom jou het dit vandag nodig. Jy ontvang dit wanneer jy jou lewe aan God toevertrou en volgens die beginsels wat in die Skrif weergegee word, lewe. Wanneer jy iets aan God ‘toevertrou,’ gee jy elke deel daarvan aan Hom (sien Psalm 37:5). Petrus skryf: ‘Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om’ (1 Petrus 5:7 NLV). Wat ‘n voorreg. Het jy onlangs daarvan gebruik gemaak? ‘Hoe gee ek al my bekommernisse aan Hom oor?’ vra jy. Deur gebed! Sodra jy bewus word dat jy jouself begin bekommer en jou sin vir vrede begin verloor, neem dit onmiddellik na God toe en los dit daar by Hom. Moenie die Duiwel kans gee om aan jou te begin werk nie. Hoe langer jy wag, hoe groter word sy houvas op jou. ‘Maar ek kan nie help om daaraan te dink nie,’ sê jy. ‘Wat kan ek doen?’ Hierdie twee dinge: 1) Gee dit oor aan God en begin op ander dinge fokus. Dis ‘n reaksie wat jy moet aanleer en een wat jy daagliks moet oefen. Paulus skryf: ‘…beplan alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is… Dan sal die God wat vrede gee, by julle wees’ (Filippense 4:8-9 NLV). Met ander woorde, herlei jou gedagtes! 2) Vind uit wat God in sy Woord oor jou situasie sê. Bring dan jou gedagtes, woorde en aksies in lyn daarmee. As jy dit doen, sal jy God se vrede beleef.

Sielskos: 2 Sam 20:1-22:30; Joh 4:1-12; Ps 100; Spr 23:22-28

Hartsgebede

2019-10-02
Matteus 6:7 NLV

Hier is wat Jesus ons oor gebed geleer het: ‘Wanneer julle dan bid, moenie met woorde mors soos die heidene nie. Hulle dink hulle stortvloed woorde sal maak dat hulle gebede beantwoord word.’ Dan gee Hy vir ons twee spesifieke instruksies. Eerstens: ‘…maak die deur agter jou toe sodat jy daar in jou alleenheid tot jou Vader kan bid…’ (vers 6 NLV). Tweedens: ‘…julle Vader weet presies wat julle behoeftes is, selfs nog voordat julle Hom vra!’ (vers 8 NLV). Hartsgebede is nie vir menslike ore bedoel nie. Die Heilige Gees bring met hartsgebede die dinge wat jy versigtig vir ander mense en selfs vir jouself wegsteek, na die oppervlak. Soos ‘n spieël, konfronteer Hy jou met die waarheid en eis dat jy ‘die geheime dinge wat ‘n mens skaam maak’ (2 Korintiërs 4:2 NLV), bely. Wanneer jy dit gedoen het, kan jy God se teenwoordigheid gereinig, gekorrigeer, vol selfvertroue en met duidelikheid oor sy wil, verlaat. Niks vuur hartsgebede so goed soos ware behoefte aan nie. Dit laat beide die prominente en obskure erken: ‘Here, sonder U kan ek niks doen nie. Niks wat ek sonder U bereik, sal enigiets beteken nie!’ Dit is die plek van naakte gebed. Hanna was daar toe sy by God vir ‘n kind van haar eie gepleit het. Sy was so passievol dat die priester Eli gedink het dat sy dronk was (sien 1 Samuel 1:13). God het egter haar geroep gehoor. Daardie dag is Samuel in haar hart verwek en kort daarna is hy in haar moederskoot verwek. Moet dus nie die plek van gebed verlaat totdat die embrio van God se doel vir jou lewe in jou verwek word, in jou begin vorm aanneem en jou visie gebore word nie.

Sielskos: Ef 4:17-6:24; Joh 1:14-28; Ps 29; Spr 22:26-29