Oorkom stres (6)

2019-09-17
Markus 1:35 NLV

Maak gebed jou daaglikse gewoonte. Gebed is ‘n wonderlike stres-verligter. Jesus het sy dag met gebed begin. Hy het dikwels deur die dag gestop om te bid en Hy het elke dag met gebed geëindig. As Jesus, so besig soos Hy was, tyd kon maak om te bid, dink net hoeveel te meer jy dit moet doen! Tyd alleen met God kan die druk van die lewe se stres verminder. Ons praat met God in gebed, vertel Hom wat op ons gemoed druk en laat Hom toe om met ons te praat terwyl ons die Bybel lees. Dan kyk ons na ons skedule, evalueer ons prioriteite en wag vir instruksies. As ons so sou lewe sal die farmaseutiese industrie ondergaan, omdat ons nie ‘n fraksie van die kalmeermiddels op die mark sou nodig kry nie! Baie van ons probleme ontstaan uit ons onvermoë om stil te sit. Ons weet eenvoudig nie hoe om stil te wees nie. God sê: ‘Wees stil en weet Ek is God!..’ (Psalm 46:11 NLV). Een rede hoekom ons God nie beter ken nie is omdat ons nie stil kan wees nie. Ons is te besig om eenvoudig stil te wees en net te dink. Iemand het gesê: ‘Dis ‘n ironiese gewoonte van die mens dat wanneer hy sy pad verloor, hy sy spoed verdubbel.’ Daar is ‘n verhaal oor ‘n vlieënier in die Tweede Wêreldoorlog wat oor die Stille Oseaan gevlieg het. Toe hy die toring radio en die kontroleur hom vir sy ligging vra, het hy geantwoord: ‘Ek weet nie – maar ek gaan ‘n rekordtyd opstel!’ Baie van ons is so – ons spoed deur die lewe sonder om te weet waarheen ons op pad is. Ons moet ons oggend, soos Jesus, met gebed begin en gedurende die dag weer bid en ons geestelike batterye herlaai.

Sielskos: Hoogl 5-8; Matt 26:1-16; Ps 39; Spr 21:9-13

Spandeer meer tyd in gebed

2019-07-18
1 Kronieke 16:11 NLV

In Catherine Marshal se boek, A Closer Walk, skryf haar man Leonard LeSourd oor die begin van hulle huwelik. ‘Catherine het groot aanpassings gehad om te maak. Sy het haar droomhuis in Washington verkoop en na Chappaqua getrek, sodat ek kon aanhou om na my werk in New York te pendel. My kinders – Linda, tien; Chester, ses; Jeffrey, drie – is deur ‘n paar ontstellende jare waar hulle aan ‘n verskeidenheid huishoudsters gewoond moes raak. Hulle het gemengde gevoelens gehad om na ‘n nuwe huis toe te trek en veral teenoor ‘die nuwe ma wat Pappa gaan huis toe bring.’ Catherine se seun, Peter, wat negentien was, was besig om deur ‘n rebelse tyd by Yale Universiteit te gaan. Catherine en ek het so baie dinge gehad om oor te bid dat ons begin het om ‘n uur vroeër in die oggende op te staan om die Bybel te lees en saam antwoorde te soek. Haar dagboek het langs ons oop gelê in daardie tye wat ons voor sonsopkoms gebid het, waarin sy ons veranderende behoeftes en God se onveranderlike getrouheid neergeskryf het.’ Soos die lewensdruk meer word, moet jy meer bid, nie minder nie. Jesus het voor sonop opgestaan om te bid. Soms het Hy deurnag gebid. Ander kere het Hy die eise van die skare agtergelaat om te gaan bid. Hoekom? Omdat jou krag, vrede, vreugde en effektiwiteit direk aan die tyd wat jy in gebed spandeer, gekoppel is. Hoekom bid ons dan nie daagliks nie? Vir dieselfde rede wat mense by ‘n gym in Januarie aansluit en teen Februarie nie meer gaan nie. Gebed verg dissipline wat slegs jy in plek kan stel. Dit bring egter groot belonings mee.

Sielskos: Hand 20-21; Matt 10:21-31; Ps 14; Spr 16:6-7

‘n Positiewe, geloofsvervulde lewensuitkyk

2019-03-29
Filippense 4:6 NLV

Dit gebeur so maklik, veral in die geselskap van verkeerde mense. Voor jy jou oë uitvee is jy besig om te kritiseer en te kla en word die atmosfeer negatief. Jy sê: ‘Maar ek sê net hierdie dinge omdat ek so bekommerd is.’ Lees dan die volgende: ‘Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. As julle so bid, sal julle God se vrede beleef. Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink…’ (verse 6-7 NLV). Jy styg bo bekommernis uit deur dank te betuig, nie deur te kla nie. Moet nooit toelaat dat jou vlak van danksegging deur jou situasie bepaal word nie, want God is groter as enige situasie waar voor jy te staan kan kom. Hoe kan jy jou neiging om negatief te wees dan oorkom en eerder ‘n positiewe, geloofsvervulde lewensuitkyk ontwikkel? 1) Besluit om dit te doen. Abraham Lincoln het die waarheid gepraat toe hy gesê het: ‘Die meeste mense is so gelukkig soos hulle besluit om te wees.’ Weier om nog ‘n oomblik lank te kritiseer en te kla. 2) Begin nou. Verandering gebeur nie maklik nie, maar as jy nie begin nie, sal dit glad nie gebeur nie. Probeer om meer bewus te wees van wat jy sê. Wanneer jou eerste paar sinne negatief is, korrigeer jouself en stuur die gesprek na dit wat positief is. 3) Verwag die goeie dinge. ‘…Dink aan dit wat vir God saak maak, dinge wat ordentlik en reg is, dinge waaraan God sal dink en waarvan Hy sal hou, dinge wat God sal sê goed is…’ (Filippense 4:8). Maak die volgende jou gebed: ‘Here gee vir my ‘n positiewe, geloofsvervulde lewensuitkyk.’

Sielskos: Lev 1-4; Luk 20:20-26; Ps 31; Spr 8:34-36

Jy moet integriteit hê

2019-03-01
2 Korintiërs 8:21 NLV

Daar is ‘n strokiesprent wat ‘n boer uitbeeld wat besig is om sy varke se trog tot oorlopens toe vol kos te maak. Aan die bokant is daar ‘n groot kennisgewingbord wat lees, ‘Premium Spek Maatskappy.’ In die strokiesprent vra een van die varke vir die ander: ‘Het julle al ooit gewonder hoekom die boer so goed vir ons is?’ Vraag: Moet mense oor jou motiewe wonder? Hulle behoort dit nie te doen nie! Die apostel Paulus definieer integriteit as volg: ‘As broers en susters in God se huisgesin moet julle mekaar in liefde koester en voor in die ry staan om mekaar met respek te hanteer’ (Romeine 12:10 NLV). Integriteit beweeg altyd ten goede van ander. Dit glo dat as iets nie vir beide kante goed is nie, is dit nie vir enige kant goed nie. Salomo waarsku: ‘Wie arm mense verontreg om homself te verryk, of vir die rykes geskenke gee, sal self in armoede verval’ (Spreuke 22:16 NLV). As jy die diepte van jou integriteit wil toets, vra jouself die volgende af: Hoe deursigtig is jy vir ander mense? Hoe goed behandel jy mense by wie jy niks kan baat nie? Stel jy ander mense bo jou eie persoonlike agenda? Het jy mense lief en gebruik dinge, of het jy dinge lief en gebruik mense? Maak jy moeilike besluite, selfs ten koste van jouself? Wanneer jy iets oor iemand te sê het, praat jy met hulle, of oor hulle? Hierdie is belangrike vrae, so neem die tyd om hulle versigtig in gebed te oorweeg. Onthou, jy mag dalk vir ‘n oomblik sukses behaal as gevolg van wat jy weet of doen, maar jy sal slegs permanent sukses bereik as gevolg van wie jy is.

Sielskos: Eks 19-21; Luk 12:49-59; Ps 70; Spr 6:26-28

Hou aan om God te glo en dit sal gebeur

2018-12-12
Habakuk 2:3 NLV

Het God jou iets belowe wat jy menslik gesproke nie kan sien hoe dit kan gebeur nie? Sukkel jy om daarvoor te wag? Lees hierdie Skrifgedeelte: ‘Wag geduldig, al voel dit of dit stadig gaan. Wees seker dit gaan gebeur, dit sal nie onnodig talm nie.’ God doen dinge volgens sy skedule en jou afspraak is nog steeds op sy kalender. Weet verseker dat niks wat die Vyand doen God se plan vir jou lewe kan vooruit loop nie. Wanneer Hy jou ‘n belofte gee, is dit soos ‘n saadjie. Dit moet eerstens in die vrugbare grond van geloof val en tyd gegee word om te groei. Dan moet dit gereeld deur gebed en die Woord van God natgegooi word. Dit sal nie gebeur omdat jy dit druk en probeer manipuleer nie: ‘…Nie met mag of krag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige’ (Sagaria 4:6 NLV). Die verhaal van Josef se lewe kan met hierdie Skrifgedeelte opgesom word: ‘Sy swaarkry het aangehou totdat God se plan waar geword het…’ (Psalm 105:19 DB). Hoekom word iets getoets? Om die krag daarvan te openbaar; om te sien of dit onder druk ineenstort. Wat het God aan jou belowe? Glo jy Hom? Hoe sterk is jou geloof? As dit swak is, sal God jou terug in die skool van geloof plaas sodat jy die lesse kan leer en die toetse kan slaag. ‘As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel. Wie tot God wil nader, moet glo dat Hy werklik dáár is en dat Hy dié wat na Hom soek, daadwerklik beloon’ (Hebreërs 11:6 NLV). Die woord vir jou vandag is: Hou aan om God te glo en dit sal gebeur.

Sielskos: Gen 47-49; Joh 19:25-42; Ps 150; Pred 5:10-12