Dis ‘n interne belewenis (4)

2018-12-04
Romeine 8:26 NLV

Die twee pilare van ‘n gelowige se daaglikse lewe behoort gebed en Skriflesing te wees. Terwyl gebed eenvoudig mag wees, is dit nie altyd maklik nie. Ons het nie die motivering nie, ons aandag word maklik afgelei en ons is nie altyd seker waarvoor ons moet bid nie. God sien ons menslike ontoereikendheid raak en ‘help’ ons deur sy inwonende Heilige Gees: ‘…die Gees neem ons gebedsbehoeftes voor God op met versugting wat nie in menslike taal verwoord kan word nie. Dié God… weet wat die Gees in die oog het – dat Hy in harmonie met God se wil vir die gelowiges intree’ (verse 26-27 NLV). Dit beteken dat dit nie saak maak hoe jy voel wanneer jy bid nie, die Heilige Gees bid saam met jou en vir jou; en transformeer jou swakste gebed in ‘n kragtige beroep op die Vader. Wanneer dit by die tweede pilaar kom, naamlik die Woord van God, is die Heilige Gees se rol net so dinamies. Jesus het gesê, ‘Wanneer Hy ook al kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle begelei in die volle waarheid. Hy sal nie uit Homself praat nie, maar net sê wat Hy hoor. Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle meedeel’ (Johannes 16:13 NLV). Die Heilige Gees doen dus drie dinge: 1) Hy lei jou wanneer jy die Woord van God bestudeer en dit wil verstaan. 2) Hy neem dit wat Jesus wil hê jy moet weet en openbaar dit aan jou. 3) Hy maak jou begrip oor dinge wat nog gaan gebeur, oop. Goeie naslaanwerke, Skrif-gebaseerde hulpbronne en vaardige Bybelonderwysers kan verseker behulpsaam wees, maar hulle is nie ‘n plaasvervanger wanneer dit by die aanhoor van die Heilige Gees en die versigtige luister na wat Hy vir jou wil sê, kom nie.

Sielskos: Gen 30:25-31:55; Joh 15:18-27; Ps 65; Spr 31:25-27

Soek ‘n ware vriend

2018-11-27
Spreuke 18:24 NLV

Een dag het twee koeie oor ‘n heining gekyk en die volgende woorde op ‘n verbygaande melktrok gesien: ‘Gepasteuriseerd, Gehomogeniseerd, Vitamiene A bygevoeg.’ Een koei het vir die ander koei gesê, ‘Dit laat mens bietjie onvoldoende voel, nie waar nie?’ Is dit hoe jy vandag voel? Daar is soveel om te doen en nie genoeg van jou om dit te doen nie? Of jy dink dat jy nie die vermoë en hulpbronne het nie? Onthou die ou Beatles liedjie: ‘When I was younger, so much younger than today, I never needed anybody’s help in any way…Help me if you can, I’m feeling down, and I do appreciate you being round. Help me get my feet back on the ground; won’t you please, please help me?’ Selfs in ‘n perfekte wêreld kon Adam nie op sy eie regkom nie, dus het God gesê, ‘…Ek sal vir hom ‘n metgesel maak, sy gelyke wat hom kan help’ (Genesis 2:18 NLV). Soms vereis die oplossing meer as gebed of berading; dit verg ‘n vriend wat verstaan – veral een wat al dieselfde gevegte geveg en gewen het. In Handelinge hoofstuk drie het God vir Petrus en Johannes gebruik om ‘n verlamde man wat by die tempelpoort gesit het, te genees. Daar het egter ‘n ander wonderwerk vroeër gebeur. Petrus het vir Jesus verloën, plat op sy gesig geval en na sy ou vissermanswerk teruggekeer. Johannes het egter geweier om hom te laat gaan. Gevolglik is Petrus herstel, ‘n verlamde man is genees en drie duisend mense is vir Christus gewen. Jy het nie baie mense in jou lewe nodig nie; jy het net die regte mense nodig. Vra dus vir God vir ‘n ware vriend wat aan jou sy sal bly; en doen dan dieselfde vir iemand anders.

Sielskos: Gen 13-16; Joh 13:18-30; Ps 114; Spr 31:1-5

Raak eerlik met God

2018-11-13
Klaagliedere 3:40 NLV

Wanneer jy bid, ‘Here, maak my ‘n beter persoon,’ in watter spesifieke areas wil jy verander, groei en volwasse word? Om eerlik met God te wees, moet jy hierdie twaalf vrae versigtig en met gebed beantwoord: 1) Is ek eerlik en bo verdenking in al my finansiële sake? Dit sluit die gee van jou tiende aan God in. 2) Plaas ek myself in seksuele onvanpaste situasies, of stel ek myself bloot aan skadelike materiaal? 3) Spandeer ek genoeg tyd saam met my familie en sal hulle sê dat ek dit doen? 4) Praat ek die waarheid, selfs wanneer dit my seermaak of kritiek meebring? 5) Vind ek dit maklik om te sê, ‘Ek was verkeerd, ek is regtig jammer,’ of hou ek wrokke? 6) Bring ek enige deel van my lewe willens en wetends onder verdenking, of weier ek om die nagevolge van my aksies te aanvaar? 7) Het ek gewoontes gevorm wat nadelig vir my gesondheid, my familie of my pad met Christus is? 8) Is ek trots, selfsugtig of arrogant? 9) Het ek krediet geneem vir dinge wat ander mense gedoen het en waarvoor hulle beloon moes word? 10) Het ek gefaal daarin om iets aan iemand te bely wat van my verkeerde dade moet weet? 11) Was ek al onsensitief of beledigend teenoor my geliefdes? En as ek was, wat is ek gewillig om daaraan te doen? 12) Spandeer ek genoeg tyd in gebed en met die Skrif? ‘Laat ons eerder gaan kyk na wat ons gedoen het en daaroor nadink sodat ons kan omdraai na die Here toe.’ Die woord vir jou vandag is: Raak eerlik met God!

Sielskos: Rom 3:21-6:23; Joh 10:1-10; Ps 133; Spr 29:15-18

Veertien vrae oor jou taak

2018-06-30
Johannes 18:37 NLV

Wanneer jy weet wat jou God-gegewe taak in die lewe is en dat God aan jou kant is, word jy feitlik onstuitbaar. Sal jy foute maak? Ja, maar God het jou lief genoeg om jou te korrigeer en jou terug op jou pad te lei. ‘Hoe ontdek ek my taak?’ vra jy. Hier is veertien insiggewende vrae om jouself af te vra: 1) Watter begeertes lewe al die meeste van my lewe binne-in my? 2) Wat motiveer my om hard te werk en produktief te wees? 3) Wat laat my voortgaan wanneer ek moeg is? 4) Wat laat my weier om tou op te gooi selfs wanneer ek weerstand kry? 5) Wat doen ek wat nie soos werk voel nie? 6) Wat doen ek wat ‘n positiewe reaksie en ondersteuning by mense ontlok? 7) Wat doen ek of wat gebeur in my lewe wanneer dit voorkom of deure outomaties en moeiteloos vir my oopgaan? 8) Wat dink wyse leiers en goddelike raadgewers oor my werk? 9) Wat laat my goed voel oor wie ek is? 10) Wat laat my kreatiwiteit vloei? 11) Wat is ek bereid om op te offer om dit te bereik? 12) Wat doen ek wat ek trots sal wees om voor God vir sy goedkeuring te bring? 13) Wat sal ek sonder betaling doen as ek dit kon bekostig? 14) Waarvoor sal ek gewillig wees om Satan teen te staan om dit te bereik? Oorweeg met gebed hierdie veertien vrae, en hulle sal lig op jou God-gegewe lewenstaak werp.

Sielskos: 1 Sam 4-7; Luk 3:11-20; Ps 59:9-17; Spr 16:23-26

Jou persoonlike voorsiener

2018-06-24
Psalm 23:5 NLV

Toe die Psalmdigter gesê het, ‘Die Here is my herder…’ (vers 1 NLV), het hy bevestig dat hy ‘n baie persoonlike verhouding met God gehad het; een wat uniek was. God het vir elkeen van ons ‘n unieke persoonlikheid, gawes, doelwitte en roeping gegee. Hy wil met jou ‘n verhouding hê wat heeltemal anders is as die verhouding wat Hy met enigiemand anders het. Net soos jou vingerafdrukke uniek is, so is God se interaksie met jou uniek. Jy moet dus leer hoe om sy stem te hoor en te weet wanneer Hy spesifiek met jou praat. Die Psalmdigter gaan voort om te sê, ‘U berei vir my ‘n feesmaal voor…’ Dink so daaroor na. Wanneer jy by ‘n restaurant vir ‘n tafel wag en jou naam is op die waglys, gee die gasvrou soms vir jou ‘n toestel om vas te hou. Wanneer daar vir jou ‘n tafel oopgaan, sal hierdie toestel vibreer of ‘n liggie laat flikker. Intussen is jy seker dat hulle besig is om vir jou ‘n tafel voor te berei en as jy geduldig is, sal die toestel, wanneer die tafel gereed is, begin vibreer en jou laat weet. Kry jy die idee? As jy God se Woord lees en tyd met Hom in gebed spandeer, begin iets in jou gees vibreer en laat dit liggies flikker. Dis God se ‘toestel’ wat jou lei, rig en die omstandighede vir jou voorberei. Paulus skryf, ‘Omdat Christus Jesus dit verdien het, sal my God uit sy ontsaglike rykdom vir julle voorsien in elke behoefte wat julle het’ (Filippense 4:19 NLV). Hoeveel van jou persoonlike behoeftes sal God voorsien? Almal van hulle! Hou dus op om jouself so baie te bekommer en plaas jou vertroue in Hom!

Sielskos: Matt 5:5; Num 12:1-15; Ps 37:1-9; Fil 2:5-11