Vergroot jou vra-kapasiteit

2020-01-04
Jakobus 4:2 NLV

Hoe groot is jou vra-kapasiteit wanneer dit by gebed kom? Elia het vir Elisa gevra: ‘…’Wat kan ek vir jou doen voordat ek van jou weggeneem word?’ ‘Laat my asseblief ‘n dubbele erfgenaamsdeel van u gees ontvang,’ antwoord Elisa’ (2 Konings 2:9 NLV). Sommige van ons mag dalk geskok oor Elisa se antwoord wees, hom as arrogant sien en sê: ‘Jy moet nederig en dankbaar vir die voorreg wees om onder ‘n groot profeet soos Elia te dien; en jouself gelukkig ag dat God jou toelaat om met sy bediening voort te gaan.’ Elisa was egter nie sku nie en Elia het nie aanstoot geneem nie. Hoe het dit uitgedraai? Elisa het sy dubbele porsie ontvang en op die ou einde twee keer soveel wonderwerke as Elia gedoen. Wanneer jy bid, sê God nie: ‘Maak jou versoek redelik en prakties,’ nie. Hy wil hê dat jy groot en oorvloedige versoeke moet hê. Dink net aan hierdie groot belofte: ‘Vra My, en Ek gee vir jou nasies as erfporsie, die einde van die aarde as jou besitting’ (Psalm 2:8 NLV). Haal die beperkinge van God af! Dink net, as Hy gewillig is om vir jou ‘die nasies as erfporsie’ te gee, sal Hy verseker jou geliefdes red, jou liggaam gesond maak, of vir jou daardie werk, huis of verhouding waarvoor jy bid, gee. Jesus het gesê: ‘Wat julle ook al sou vra in my Naam, dit sal Ek doen…’ (Johannes 14:13 NLV). Net twee keer in die Skrif het iemand iets gesê wat Jesus verbaas het. Op beide geleenthede was dit ‘n demonstrasie van gewaagde geloof deur ‘n nie-Jood, iemand wie die godsdienstige skare gevoel het geen reg op God se wonderbaarlike voorsiening gehad het nie. Die woord vir jou vandag is dus: vergroot jou vra-kapasiteit.

Sielskos: 1 Kor 9-11; Matt 4:12-17; Ps 90:13-17; Spr 1:8-9