Moenie jouself uit geloof bid nie

2020-03-06
Markus 11:24 NLV

Charles Haddon Spurgeon, die ‘Prins van Predikers,’ het gesê: ‘Glo in God, totdat jy Hom vir die antwoord kan bedank. As die antwoord jou steeds ontwyk, moenie op so ‘n manier bid dat dit duidelik is dat jy nie glo dat jy die antwoord sal kry nie. So ‘n gebed sal jou hinder eerder as om jou te help; en wanneer jy klaar gebid het, sal jy agterkom dat jou geloof verswak, of selfs heeltemal verdwyn het. Die dringendheid wat jy gevoel het om hierdie tipe gebed te bid kom duidelik uit jouself. Dit is nie verkeerd om die kwessie weer teenoor die Here te opper indien Hy jou laat wag nie, maar doen dit op so ‘n manier dat dit geloof impliseer. Moenie jouself uit geloof bid nie. Jy kan dalk vir Hom sê dat jy wag en Hom steeds vir die antwoord vertrou en Hom prys. Daar is niks wat geloof so bevestig as om God te prys en te dank omdat jy seker is dat jy die antwoord sal ontvang nie. Gebede wat ons uit ons geloof uit bid, ontken God se belofte in sy Woord en sy fluistering in ons harte. Sulke gebede is die uitdrukking van die onrus in jou hart en hierdie onrus impliseer ongeloof. ‘Want net as ons glo, kan ons die rus binnegaan…’ (Hebreërs 4:3 NLV). Hierdie gebed wat ons onsself uit geloof uit bid, spruit dikwels uit ons gedagtes oor die moeilike probleem, eerder as gedagtes oor God se belofte. Abraham het ‘…baie goed besef dat sy eie liggaamlike vermoëns reeds heeltemal gedaan was… [maar] Abraham het nie getwyfel aan God se belofte nie…’ (Romeine 4:19-20 NLV). Mag ons oppas en bid dat ons nie in die versoeking kom om ons heeltemal uit geloof te bid nie.’

Sielskos: Gen 30:25-31:55; Matt 21:1-11; Ps 136:13-26; Spr 6:32-35