2017-10-16
Spreuke 1:5 NLV
Om aan te hou groei, moet jy drie beginsels verstaan: 1) Jy groei tot die omvang wat jy gee. Deur weg te gee, skep jy meer spasie om aan die binnekant te groei. Gee dus tot dit seermaak en hou aan gee totdat dit goed voel. Probeer altyd om mense beter te los as wat jy hulle gekry het; dan sal dit ook met jou beter gaan. Salomo het gesê, ‘Mense wat ander iets gun, het self altyd ‘n oorvloed. Hulle wat ander se dors les, is self altyd verkwik’ (Spreuke 11:25 NLV). 2) Om meer te bereik, moet jy meer groei. Voel jy geestelik, in jou verhoudings, jou beroep of tuis vasgevang? Jy gaan nie vry word deur eksterne veranderinge te maak nie, soos om ‘n nuwe beroep na te jaag, jou familie te verlaat of van kerk te verander nie. As jy ernstig daaroor is om los te breek, moet jy eerder lank en ernstig na jouself kyk in plaas daarvan om vinnige uitkomste te soek. Jy moet verantwoordelikheid ervaar vir wat jy sien, bid en besluit om iets daaraan te doen. 3) Dis nie genoeg om net te droom nie; jy moet ook doen. Die Tartarvolk van Sentraal-Asië is bekend daarvoor dat hulle ‘n sekere vloek teenoor hulle vyande uitgespreek het. Hulle het nie gevra vir swaarde om te roes of vir hulle vyande om van siektes te sterf nie. Hulle het eenvoudig gesê, ‘Mag jy vir altyd op een plek vasgevang bly.’ As jy nie daagliks daaraan werk om jouself te verbeter nie, sal dit ook jou lot wees. Jy sal op dieselfde plek vasgevang word, waar jy dieselfde goed doen, dieselfde drome droom en nooit êrens heen gaan nie. Hou dus aan groei!
Sielskos: Eks 30-32; Joh 3:22-36; Ps 32; Spr 27:1-3
2017-10-12
Filippense 4:8 NLV
Om jou lewe te verander, moet jy eers jou denke verander. Dis nie maklik as jy jou hele lewe lank al op ‘n sekere manier dink nie. Die dominee en skrywer, dr Frank Crane, het gesê, ‘Ons gedagtes is ons beste vriende en ons grootste vyande.’ Koning Salomo het dit so gestel: ‘Want soos [die mens] in sy siel bereken, so is hy…’ (Spreuke 23:7 AFR53). Om jou denke te verander, moet jy dit doen – een gedagte op ‘n slag. Dit benodig dissipline en vasberadenheid. Dis egter die moeite werd. As jy ‘n marathon wil hardloop, sal jy mos nie heeldag lekkers eet nie? Die brandstof wat jy insit bepaal die prestasie. Tog verontagsaam ons hierdie basiese stukkie wysheid: Wat jy jou liggaam voer is niks in vergelyking met wat jy jou gedagtes voer nie! Hier is ‘n waarheid wat jou sal transformeer: Dink uitstekende gedagtes! Wat jou gedagtes aanhoudend binnedring, besit hulle, vorm hulle, beheer hulle en druk hulle op die ou einde uit in dit wat jy word en wie jy is. Jou gedagtes sal dit waaraan jy blootgestel word, absorbeer en reflekteer. Die geleenthede wat jy bywoon, die verhoudings wat jy bou, die boeke wat jy lees, die musiek waarna jy luister, die mediaboodskappe waaraan jy blootgestel word, die gesprekke waaraan jy deelneem en die gedagtes wat jy het vorm jou denke en uiteindelik jou karakter en jou lotsbestemming. Wat moet jy dus doen? Begin elke dag deur te bid: ‘Here, ek wil die tipe gedagtes hê wat u Woord beskryf. Denke wat gevul word deur alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is’ (sien Filippense 4:8). Kan jy jou indink hoe jou lewe sal wees as jy aanhoudend so bid en jou denke ooreenstemmend programmeer?
Sielskos: Eks 22-24; Joh 2:12-25; Ps 89:15-37; Spr 26:20-22
2017-10-02
Esegiël 40:4 NLV
As jy jouself leer om aandagtig te luister na wat iemand sê, sal hulle oor die algemeen vir jou vertel wie en wat hulle is voordat jy in ‘n verhouding met hulle tree. Dikwels, wanneer iemand ons egter begin waarsku oor hulle swakhede en wat om te verwag, spring ons met ons motiverende ‘Ag, dit kan nie waar wees nie’ gedagtes in en moedig ons hulle aan om saam met ons voort te beweeg. Ons moet die kosbare kuns van luister, sonder onderbrekings, aanleer. As jy dit doen, sal jy jouself van jare se trane, geheime teleurstellings en negatiewe ervarings red. Eerder as om jou optimisme en oorredende styl te gebruik om iemand te dwing om jou doelwitte te aanvaar, moet jy weet wanneer iemand nie iets kan word net omdat jy dit wil hê of glo dat hulle dit kan doen nie. Hulle kan nie op jou energie leef nie! Jou karakter en volwassenheid sal nie opmaak vir hulle gebrek daaraan nie. Sonder jou bewustheid van hierdie beginsel, kan hierdie verhoudings jou moeg maak en jou jare lank van jou krag dreineer. As jy in private of professionele verhoudings mense moet motiveer om te begin, sal jy hulle moet aanhou motiveer om dit te behou. Aan die ander kant, as jy kyk, luister, bid en observeer, kan jy besluit of dit die moeite werd is om die verhouding in die eerste plek te begin. As jy God vra, sal Hy jou hierin lei. Sy Woord sê, ‘…kyk en luister aandagtig. Gee aandag aan alles wat ek vir jou wys. Jy het hiernatoe gekom sodat ek vir jou baie dinge kan wys…’
Sielskos: 1 Kor 15-16; Mark 15:33-47; Ps 51; Spr 25:23-25
2017-10-01
Johannes 15:2 NLV
Jesus sê: ‘Ek is die egte druiwestok en my Vader is die tuinier. Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af. Elkeen wat egter vrugte oplewer, snoei Hy sodat dit nog meer vrugte kan dra’ (verse 1-2 NLV). Let twee dinge op: 1) God sny sekere dinge af. Dinge waarmee jy gemaklik is, maar in die pad van jou vordering staan. Dinge wat Hy nie vir jou gekies het nie. Dinge wat vir jou probleme gaan meebring. Dinge wat jy weier om te verander. Dinge wat klaar hulle doel gedien het. 2) God snoei sekere dinge. ‘n Vrugteboom wat onlangs gesnoei is, lyk verseker nie op sy beste nie. Wanneer God dinge in jou lewe begin snoei om jou in ander rigtings te stuur, mag jy dalk ook nie so goed lyk nie. Soms beteken dit dat jy dinge moet laat gaan wat jy gedink het altyd daar sal wees, of dat jy jou prioriteite moet herrangskik, of dat jy met minder vir ‘n rukkie moet klaarkom, of dat jy nie in staat is om aan jou geliefdes te verduidelik hoekom jy deur die snoeiproses gaan nie. Sap wat lewe gee wat in ‘n droë tak vloei is egter vermors! So ook tyd, aandag en energie wat vir eerste dinge bestem is maar aan tweede en derde dinge gegee word. Verstaan mooi: God weet wat in jou lewe afgesny moet word en wat in jou lewe gesnoei moet word. Al mag jy nie verstaan wat Hy doen nie, bid steeds: ‘Stuur wie U wil en neem weg wie U wil. Ek sal U loof as hulle kom en ek sal U loof wanneer hulle gaan, omdat u goedkeuring my beloning is en u doel die rede vir my lewe is.’
Sielskos: Ef 5:21-33; Hoog 2:1-7; Spr 5:15-19
2017-09-08
Efesiërs 1:11 NLV
Die Bybel sê, ‘Die Here… sal die goeie nie weerhou van hulle wat doen wat reg is nie’ (Psalm 84:12 NLV). Soms bid ons vir ‘n sekere ding met die geloof dat dit goed is vir ons. God, wat ‘n plan vir jou lewe het, weet egter wat ‘goed’ is en wat nie sal wees nie. Billy Graham se vrou, Ruth, het gesê as God al haar gebede beantwoord het toe sy jonk was, sou sy met die verkeerde man getrou het – verskeie kere. Twee traandruppels het by die rivier van die lewe afgedryf. Een het vir die ander gevra, ‘Wie is jy?’ Die tweede het geantwoord, ‘Ek is die traandruppel van die meisie wat lief was vir ‘n man en hom verloor het. Wie is jy?’ Die eerste traandruppel het geantwoord, ‘Ek is die traandruppel van die meisie wat hom gekry het.’ Ons huil oor dinge wat ons nie het nie en besef nie dat ons dalk harder sou huil as God dit vir ons gegee het nie. Om in geloof te wandel beteken dat ons die plan wat God reeds vir ons uitgewerk het, vertrou. Paulus het gesê, ‘…Ek het regtig geleer om onder alle omstandighede reg te kom’ (Filippense 4:11 NLV). Paulus se tevredenheid het nie uit sy omstandighede gespruit nie, inteendeel, hy het amper sewe jaar van sy bediening in die tronk deurgebring. Nee, sy tevredenheid het gespruit uit die wete dat God ‘…alles laat uitwerk soos Hy dit beplan en wou gehad het.’ Beteken dit dat Paulus elke detail van God se plan verstaan het? Nee, maar wanneer hy nie die plan verstaan het nie, het hy die Beplanner daarvan vertrou! Dit is waar Paulus se vrede, vreugde en tevredenheid vandaan gekom het. Joune moet ook.
Sielskos: Kol 1-2; Mark 11:1-11; Ps 78:9-16; Spr 23:22-25