‘Here, wat moet ek doen?’ (3)

2017-12-05
Spreuke 12:15 NLV

Nog ‘n manier hoe God jou sal lei is: Deur goddelike raad. Moses het dit ervaar. In plaas van om hulp te kry, het hy alles self probeer doen. Op daardie punt het sy skoonpa, Jetro, vir hom gesê, ‘…Jy hanteer die saak nie reg nie’ (Eksodus 18:17 NLV). Toe het hy vir Moses gesê om verantwoordelikheid na bekwame leiers te delegeer, sodat hulle die werkslading met hom kan deel. ‘Moses het sy skoonpa se raad gevolg en gemaak soos sy skoonpa gesê het’ (Eksodus 18:24 NLV). Gevolglik was Moses se probleem opgelos en het Israel die Beloofde Land suksesvol binnegegaan. Partykeer sal God direk met jou praat en aan jou openbaar wat jy moet doen, maar Hy sal baie keer deur verhoudings met jou praat. Hy sal wyse en ervare mense langs jou plaas. Op daardie punt moet jy nederig genoeg wees om na hulle raad te luister. Jy mag dalk goed wees, jy mag dalk selfs beter as die meeste mense wees. Jy sal egter nooit so goed wees as wat jy kan wees sonder ander mense se hulp nie. Jy moet egter versigtig wees na wie jy luister – betroubare beraders en mense wat dieselfde as God wil hê. Sulke mense sal objektief bly, versigtig luister en stadig antwoord. Dikwels sal hulle jou nie ‘n antwoord op dieselfde oomblik gee as wat jy daarvoor vra nie. Hulle wil eers daarop slaap, daaroor bid en daaroor dink. So ‘n persoon is soos om ‘n ekstra paar oë en ore te hê. Hoekom sal jy sonder hulle wil lewe? Wees vandag dus oop teenoor diegene wat God in jou lewe plaas om jou te help lei.

Sielskos: Gen 32-34; Joh 14:1-31; Ps 147:1-11; Pred 3:5-8

Die antwoord is op pad!

2017-11-30
2 Konings 4:8 DB

Die Bybel verwys na hierdie vrou as “‘n vooraanstaande vrou.” Dis omdat sy ‘n ‘vooraanstaande’ strategie vir haar lewe gehad het! Sy het ‘n slaapkamer in haar huis vir die profeet Elisa voorberei om te gebruik wanneer hy deur haar dorp gereis het. Gevolglik het sy haar hartswens ontvang: ‘n babaseuntjie. Later jare, toe haar seun skielik gesterf het, het God vir Elisa gebruik om haar seun uit die dood op te wek. Let drie dinge oor hierdie vrou se verhaal op: 1) Sy het ruimte vir God gemaak. 2) Haar droom is vervul. 3) Toe haar droom sterf, het God dit weer lewendig gemaak (sien verse 36-37). Sy het geweier om die opinies van ongelowige mense te aanvaar of om haar situasie met mense wat ongekwalifiseerd is om te help, te bespreek. Wees versigtig teenoor wie jy in ‘n krisis oopmaak! Maak seker dat hulle God ken en dat hulle woorde in lyn met Syne is. Hierdie vrou het geglo dat as God dit begin het, Hy dit kon beëindig. As Hy dit gemaak het, kon Hy dit regmaak. Die Bybel vertel ons dat Elisa homself oor die liggaam van die dooie seun uitgestrek het en hom warm gemaak het. Hierdie seun het egter meer as warmte nodig gehad – hy het lewe nodig gehad. Dus het Elisa weer op hom gaan lê en hy het lewendig geword. Maak nie saak hoe sleg dinge lyk nie, bly bo-op die situasie deur aan te hou om in God te glo. Bid die hele nag as jy moet, maar hou aan om op sy Woord te staan. Jou droom mag dalk nog nie ten volle lewendig wees nie, maar dit word warm. Dinge is aan die verbeter… God is aan die beweeg… die antwoord is op pad!

Sielskos: Gen 24:1-25:18; Joh 12:20-36; Ps 14; Spr 31:22-24

Bid vir hulle!

2017-11-14
Hebreërs 13:3 NLV

Die Bybel sê vir ons, ‘Julle moet mekaar steeds met ware Christenliefde liefhê’ (vers 1 NLV). Dan raak dit spesifiek: ‘Moenie hulle wat in die tronk is, vergeet nie. Ly saam met hulle asof julle self daar sit. Deel in die seer van hulle wat mishandel word asof dit met julle eie liggame gebeur.’ Op 18 April 2007, is drie Christene in Turkeye as gevolg van hulle geloof doodgemaak. Necati Aydin was een van hulle. Hy was ‘n vyf-en-dertig jaar oue pastoor in die stad van Malatya, en Max Lucado vertel sy storie: “Teen die tyd wat Necati die kantoor bereik het, het sy twee kollegas reeds besoekers daar verwelkom; vyf jongmanne wat gesê het dat hulle in die Christelike geloof belangstel. Die besoekers het egter meer as net vrae saamgebring. Hulle het ook gewere, broodmesse, toue en handdoeke by hulle gehad. Die aanvallers het hulle wapens uitgeruk en vir Necati beveel om die Islamietiese gebed van bekering te bid: ‘Daar is geen God behalwe Allah nie, en Mohammed is sy profeet.’ Toe Necati weier, het die marteling begin. Vir ‘n folterende uur het die aanvallers die Christene vasgebind, ondervra en stukkend gesny. Uiteindelik, toe die polisie aan die deur hamer, het hulle hulle slagoffers se kele afgesny.Die laaste woord wat uit die kantoor gehoor is, was die uitroep van ‘n onwrikbare Christen: ‘Messias! Messias!’ Sulke stories het ‘n manier om ons tot stilstand te skok. Vanoggend se verkeersknoop is nou nie meer noemenswaardig nie. Sulke stories maak dat ons onsself afvra: ‘Sal ek die opoffering maak? Sal ek tot die Messias uitroep? Sal ek my lewe gee?’ Wanneer ons oor onbenullige dinge kla, wonder mens. Die Bybel sê dat jy vir jou mede-Christene regoor die wêreld moet bid, ‘asof dit met julle eie liggame gebeur.'”

Sielskos: Rom 9:17-11:36; Joh 9:1-12; Ps 23; Spr 30:1-4

Leer om te mediteer

2017-11-07
Psalm 1:2 NLV

Skoenlappers se areas van bestuiwing is groter, maar bye maak meer heuning bymekaar. Dit is omdat die skoenlappers net oor die blomme vlieg, terwyl die by op elke blom land en lank genoeg bly om die nektar te versamel. Dit is die verskil daarin om net jou Bybel in ‘n paar gejaagde minute te lees en om die tyd te neem om oor dit wat jy lees te mediteer. Meditasie is nie iets moeiliks en geheimsinnig wat net deur kundiges en ‘geestelike mense’ beoefen kan word nie. Dit behels eenvoudig dat jy diep en aanhoudend oor ‘n Skrifgedeelte dink, dit memoriseer, dit toelaat om wortel te skiet, totdat dit ‘n lewenskrag is wat elke dag binne in jou werk. Die punt is nie hoe baie jy van die Skrif memoriseer nie, maar wat met jou in die proses daarvan gebeur. Wanneer jy oor God se Woord mediteer, verhelder jou begrip en word jou optrede gekorrigeer. Dit verryk jou denke en rus jou toe deur jou ander gedagtes te laat dink as wat jy sou terwyl jy bevoorbeeld televisie gekyk het of inkopies gedoen het. Die Psalmdigter skryf: ‘Gelukkig is die mense wat…vreugde vind in die gebooie van die Here en sy voorskrifte dag en nag oordink. Hulle is soos bome geplant langs ‘n rivier, wat vrugte dra op die regte tyd. Hulle blare verwelk nie; in alles wat hulle doen, is hulle voorspoedig’ (verse 1-3 NLV). Meditasie oor God se Woord is die geneesmiddel vir morele en geestelike swakheid; vir ‘n lewe met geen fokus nie; vir ‘n gebrek aan intimiteit met God; vir kroniese swak geloof wat veroorsaak dat jy misluk en God se beste verbeur. Maak dus jou Bybel oop, lees dit en bid, ‘Here, wat sê U hiermee vir my?’ Mediteer dan op sy antwoord.

Sielskos: Jes 53-57; Joh 7:33-44; Ps 15; Spr 29:4-6

Slaag die vreestoets

2017-10-17
Jesaja 12:2 NLV

Hoe ‘n groot faktor is vrees in jou lewe? Kom, neem die vreestoets. Sirkel die nommer wat die beste met dit wat jy voel, korrespondeer: 1) Ek kan nie die laaste keer onthou wat ek regtig bang was nie. 2) Ek is selde bang en ook net wanneer ek of iemand naby aan my in fisiese gevaar is. 3) Ek is ‘n bietjie meer vol vrees as wat ek graag sal wil wees. 4) Vrees is ‘n aansienlik faktor in my alledaagse lewe. Ek vermy enigiets riskant of onveilig. 5) Ek is op ‘n daaglikse basis vir baie dinge bang en dit verander die manier wat ek my lewe lei. As jy nommer een gesirkel het, is jy ‘n ongewone individu wat nie normale vrees ervaar nie. Jy mag dalk jou aksies met groter wysheid moet temper. As jy nommer twee gesirkel het, het jy ‘n gesonde houding teenoor vrees en kan jy dit hanteer. As jy nommer drie of vier gesirkel het, is jy in ‘n uitstekende posisie om jou lewe te verbeter deur jou houding te verander. Begin deur die bron van jou vrese te identifiseer en wees gedetermineerd om jou vrees in geloof in God te verander (sien Romeine 10:17). Dink aan ‘n positiewe teenoorgestelde vir elke area van vrees en skep dan ‘n plan om daardie kwaliteit te kultiveer. Fokus dan op wat jy vandag kan beheer. As jy nommer vyf gesirkel het, is die kans goed dat vrees jou lewe oorneem en dat jy dit moeilik sal vind om dit op jou eie te oorkom. Begin dus om te bid en jou gedagtes met God se Woord te herprogrammeer (sien 1 Timoteus 1:7). Moet ook nie bang wees om by ‘n vriend of berader wat jy vertrou, hulp te soek nie.

Sielskos: Eks 33-35; Joh 4:1-12; Ps 87; Spr 27:4-6