Bid vir God se seën en guns

2018-04-11
Psalm 5:13 NLV

Die Bybel sê dat God die vromes seën. Die woord ‘vroom’ beteken nie foutloos nie, anders sou niemand van ons vir God se seën gekwalifiseer het nie! Nee, dit beteken dat ons in die vroomheid van Christus geklee kan wees, om sodoende aanvaarbaar vir Hom te kan wees en vir sy seën en guns te kan kwalifiseer (2 Korintiërs 5:21). Dit is ‘n waarheid waaraan jy moet vashou, want wanneer jy God se seën en guns ervaar, begin ander mense ook gunstig teenoor jou optree – dikwels vir redes wat hulle self nie kan verduidelik nie! Die guns en seën van God het dit vir mense in die Bybel, wat andersins nie veel sou bereik het nie, moontlik gemaak om groot dinge te doen. God het ‘n tiener genaamd Ester geroep om die Joodse nasie te red. Sy het in geloof opgetree en die koning ongenooid genader, selfs al was dit teen die reëls. ‘Die koning was bly toe hy koningin Ester daar in die voorhof sien staan…’ (Ester 5:2 NLV). God het die weg vir haar gebaan om die werk te doen waarvoor Hy haar geroep het. Sonder die guns en seën van God, sou Rut, ‘n nie-Jood, nie aanvaarbaar vir die Jode gewees het nie. Maar omdat God ‘n plan vir haar lewe gehad het en haar hart oop was vir Hom, het sy met Boas getrou, ‘…’n welgestelde, invloedryke man…’ (Rut 2:1 NLV). Uit hulle huwelik het koning Dawid afgestam en uiteindelik ook ons Here Jesus. Die Bybel sê, ‘Die Here hou van ‘n mens wat goeddoen…’ (Spreuke 12:2 NLV). ‘n Enkele oomblik van God se seën en guns kan meer vir jou doen as ‘n leeftyd se wedywering. Bid dus vandag vir God se seën en guns – en wees op die uitkyk daarvoor!

Sielskos: Jer 41-44; Mark 2:1-12; Ps 25:8-15; Spr 10:1-3

Doen iets daaraan!

2018-04-03
Efesiërs 2:10 NLV

Die Bybel sê God het ons ‘…só gemaak dat ons die goeie werke wat Hy vir ons bestem het, kan uitlewe.’ Ons lewe in ‘n verwoestende tyd. ‘n Biljoen mense ly honger, miljoene word as slawe verkoop en pandemiese siektes wis hele nasies uit. Elke jaar word amper twee miljoen kinders in die globale sekshandelbesigheid uitgebuit. In die paar minute wat dit jou neem om vandag se dagstukkie te lees, het amper negentig kinders aan voorkombare siektes gesterf. Meer as die helfte van die mense in Afrika het nie toegang tot moderne gesondheidsfasiliteite nie. Gevolglik sterf tien miljoen elke jaar as gevolg van diarree, longkwale, malaria en masels. Baie van hierdie sterftes kon deur een inspuiting voorkom gewees het. Jy vra, ‘Wat kan ek daaraan doen?’ God beantwoord gebede, dus kan jy bid vir diegene wat ly. Jy kan gee, of dit nou min of baie is. Jy kan ook vrywillige werk doen. Jy word deur wonderlike organisasies omring wat na die behoeftes van mense omsien. Jy moet betrokke raak, want jou lewe snel verby en as jy nie versigtig is nie, sal jy een dag opkyk en jou een kans op ‘n sinvolle lewe sal verby wees. Sommige mense bemoei hulle nie met sulke gedagtes nie. Hulle beweeg deur hulle dae sonder om hulle oë op te lig en te kyk. Hulle lewe en sterf en vra nooit hoekom nie. As jy wil hê dat jou lewe moet saakmaak, lewe dit op so ‘n manier dat die wêreld oor jou bly sal wees. Jy is geskep en verlos sodat jy ‘…die goeie werke wat Hy vir [jou] bestem het, kan uitlewe.’ Wanneer jy eendag voor God staan, sal Hy jou vra hoe goed jy jou opdrag uitgevoer het en jou daarvolgens beloon.

Sielskos: Jer 18-21; Matt 28:16-20; Ps 69:19-36; Spr 8:30-31

Maak gebed ‘n prioriteit

2018-03-10
Handelinge 6:4 NLV

In Disciplines of a Godly man, sê die pastoor en skrywer R. Kent Hughes: ‘Jay Sidlow Baxter het een maal ‘n bladsy uit sy eie persoonlike dagboek met ‘n groep pastore gedeel wat hom oor die dissipline van gebed uitgevra het. Hy het begin vertel hoe hy die bediening betree het, vasbeslote om ‘n ware man van gebed te wees. Dit was egter nie lank voor sy toenemende verantwoordelikhede, administratiewe pligte en die subtiele voorwendsels van die pastorale lewe begin het om gebed eenkant toe te druk nie. Verder het hy begin gewoond raak daaraan en het verskonings vir homself gemaak. Een oggend het alles egter tot ‘n punt gekom toe hy voor sy lessenaar wat met werk bestrooi was gestaan het en op sy horlosie gekyk het. Die stem van die Gees het hom geroep om te bid. Terselftertyd het ‘n fluweelsagte stem hom aangesê om prakties te wees en sy korrespondensie te beantwoord, en dat hy moet besef dat hy nie die ‘geestelike tipe’ is nie. ‘Daardie laaste opmerking,’ sê Baxter, ‘was soos ‘n dolk in die hart. Ek kon my nie indink dat dit kan waar wees nie.’ Hy was met afgryse vervul oor sy vermoë om die grondslag van sy pastorale krag weg te rasionaliseer.’ Verstaan mooi: Minute wat jy in gebed belê, sal vir jou meer beteken as ure wat jy aan eindelose aktiwiteite spandeer. Die apostels in die Nuwe Testament het dit verstaan. Soos die kerk groter geword het en hulle besiger geword het, het hulle ‘n lewensveranderende besluit gemaak: ‘óns sal dan al ons tyd bestee aan gebed en die bediening van die woord.’ As gevolg daarvan het die kerk gegroei en vermenigvuldig. Maak dus gebed ‘n prioriteit!

Sielskos: 2 Kon 1:1-4:17; Matt 22:15-33; Ps 106:24-48; Spr 7:3-5

Geheime vir selfbeheersing (6)

2018-03-05
Efesiërs 4:26-27 NLV

Vermy die dinge wat jou in die versoeking bring. Bly weg van situasies af wat jou selfbeheersing laat verswak. As jy nie gesteek wil word nie, bly weg van bye af. Beplan vooruit om situasies te vermy wat jy weet gaan veroorsaak dat versoeking jou lewe binnekom. Moenie lekkergoed in die spens hou as jy probeer dieet nie. Moenie kredietkaarte kry as jy impulsief dinge koop nie. Raak ontslae van jou toegang tot pornografie as jy daarmee sukkel. As jy ‘n tiener is, is die tyd om aan selfbeheersing te begin dink nie wanneer jy op die agtersitplek van ‘n kar saam met iemand is nie. Vraag: Wat moet jy vermy? Of van ontslae raak? Tydskrifte? Boeke? DVD’s? ‘n Verhouding? Die Bybel sê, ‘…slegte geselskap bederf goeie gewoontes’ (1 Korintiërs 15:33 NLV). Vermy mense en situasies wat jou versoek. Dit mag dalk nodig wees dat jy van werk verander omdat daar ‘n verhouding is wat verkeerd en nadelig is vir jou. Dis ‘n drastiese stap, maar dis dalk nodig dat jy iets drasties doen om dit wat jou op hierdie spesifieke tyd versoek, te vermy. As jy deur jare van herhalende mislukking geleef het, is dit tyd om eerlik en nederig te wees. Dis tyd om te bid: ‘Here, ek is nie sterk genoeg om hierdie versoeking alleen te weerstaan nie. Help my!’ Hy sal jou help. ‘Ek het met hunkering op die Here gewag. Hy het afgebuig en my geroep gehoor, en my opgetel uit die modder en die slym. Hy het my voete op ‘n rots laat staan en my op vaste grond laat loop. Hy het my ‘n nuwe lied gegee, ‘n lofsang om ons God te prys. Baie sal met eerbied toekyk. Hulle sal op die Here vertrou’ (Psalm 40:2-4 NLV).

Sielskos: Op 1-4; Matt 20:17-34; Ps 70; Spr 6:26-28

Die verskil tussen Simson en Samuel (4)

2018-01-20
1 Samuel 7:12 NLV

Die vierde verskil: Toerekenbaarheid. Simson het ‘n onafhanklike houding gehad en het geweier om deur enigiemand toerekenbaar gehou te word. Sy wisselvallige pogings om Israel te bevry het daartoe gelei dat die Filistyne God se mense meer belas het. Samuel, aan die ander kant, het in konsensus met ander mense gewerk. Toe hy gebid het en God vir Israel ‘n wonderlike oorwinning oor hul vyande gegee het, het hy geweier om krediet daarvoor te aanvaar. “Samuel neem toe ‘n groot klip en sit dit regop tussen Mispa en Sen. Hy noem die plek Eben-haeser… want hy het gesê: ‘Tot hiertoe het die Here ons gehelp.'” Simson was op homself gefokus, terwyl Samuel op ander mense gefokus was. Die Psalmdigter het gesê, ‘Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saamwoon!.. Want daar gee die Here sy seën…’ (Psalm 133:1, 3 NLV). Die geheim daarvan om in God se seën te wandel is om nie alleen op te tree nie, maar om saam met ander mense te werk. Dis hoe die kerk in die Nuwe Testament dit gedoen het. ‘Die Raad het hulle nog verder gedreig. Uiteindelike het hulle hulle egter laat gaan… Toe hulle losgelaat is, het Petrus en Johannes dadelik die ander gelowiges opgesoek…’ (Handelinge 4:21, 23 NLV). Die apostels het verhoudings in plek gehad met mense wat geweet het hoe om hulle raad te gee en te lei, te versterk en te bemoedig, te bid en God se Woord met hulle te deel. Jy het ook sulke verhoudings nodig! Jy kan dit ook nie bekostig om te wag tot jy in die moeilikheid kom voor jy hierdie verhoudings vestig nie. Doen dit nou, in die goeie tye, en hulle sal in die slegte tye daar wees vir jou.

Sielskos: Dan 5-7; Matt 8:28-34; Ps 89:1-14; Spr 2:20