2018-06-03
Markus 2:4 NLV
Mary Engelbreit wou altyd kinderboeke illustreer, maar ‘n voorligtingsberader by die skool het vir haar gesê, ‘Jy kan dit nie doen nie. Wees prakties. Kry ‘n graad en word ‘n onderwyser.’ Mary het by ‘n kunswinkel begin werk, oor die industrie geleer en kunstenaars wat ‘n lewe gemaak het deur te doen waarvoor hulle lief was, leer ken. Deur te weier dat struikelblokke op die konvensionele pad na sukses haar terughou, het Engelbreit ‘n erkende kunstenaar geword wat haar eie tydskrif begin het. Proust het gesê, ‘Die ware reis van ontdekking bestaan nie daaruit om nuwe landskappe te soek nie, maar om nuwe oë te hê.’ Leer om buite die boks te dink en onthou, inspirasie ontstaan uit perspirasie! Verwag dat daar probleme gaan opduik en moenie toelaat dat dit jou voornemens verswak nie. Vier mans wat nie hulle verlamde vriend as gevolg van die skare by Jesus kon uitkry nie, ‘…het ‘n gat deur die dak bokant Jesus se kop gemaak. Toe laat hulle die mat waarop die sieke gelê het, deur die dak sak.’ Jesus het geloof in aksie gesien en dit beloon deur die man gesond te maak. Jy kan enigiets bereik as jy daaroor bid en volhard. Rebecca Barlow Jordan sê, ‘Ware kreatiwiteit hou nie by inspirasie op nie. Baie mense het al probeer en gefaal, omdat hulle nie die struikelblokke kon oorkom nie. Die ware kunstenaar sien deur geloof die voltooide prentjie. Almal van ons is kunstenaars en God het vir ons werk om te doen. Hy moedig ons aan om die vrugte van ons arbeid te geniet. Die ware seëning vind egter nie net plaas wanneer ons dinge regkry nie, maar wanneer kreatiwiteit sy goddelike oorsprong bekragtig en eer aan God bring.’
Sielskos: Gal 5:23; Spr 16:32; 2 Pet 1:5-8; Heb 11:23-27
2018-05-20
Spreuke 31:11 NLV
As jy ‘n gelukkige huwelik wil hê, moet jy altyd hierdie twee dinge in gedagte hou: 1) Moet nooit jou maat in die openbaar verneder nie. Wanneer jy dit doen, verneder jy jouself. Salomo skryf, ‘Waar sal jy ‘n knap vrou kry? ‘n Goeie vrou is meer werd as edelstene. Haar man het volkome vertroue in haar… Haar hele lewe lank bring sy vir hom net voordeel…’ (verse 10-12 NLV). Iemand het gesê, ‘Voor jy jou maat se smaak kritiseer, stop en onthou dat hy/sy jou gekies het!’ Die feit is dat ons almal diep binne in ons gewoontes, swakhede, worstelinge, fantasieë, herinneringe uit ons kindertyd en onuitgesproke begeertes het. Ons hunkering na iemand om te vertrou is diep en onveranderlik. Dis hoekom God die huwelik ontwerp het om ‘n veilige hawe in ‘n gevaarlike wêreld te wees. As jy nie jou maat kan vertrou nie – wie kan jy dan vertrou? 2) Koester altyd gedeelde drome en doelwitte. Deesdae skei ‘n skokkende hoeveelheid paartjies tussen die sewentiende en vyf-en-twintigste huweliksjaar. Weet jy hoekom? Dis gewoonlik wanneer die laaste kind met skool of universiteit klaar maak en die huis verlaat. Nou is dit net die twee van julle. As jy al jou tyd spandeer het om op jou kinders te fokus en mekaar verwaarloos het, word jy eendag wakker en voel of jy saam met ‘n vreemdeling leef. Hoe vermy mens dus hierdie situasie? Deur lewenslange doelwitte en drome te hê waarnatoe beide van julle werk. Onthou, julle is meer as net ouers – julle is mense – en God het ‘n plan vir julle lewens as paartjie. As julle dit nog nie ontdek het nie, praat daaroor en bid dan en vra dat God dit aan julle sal openbaar. Dis ‘n gebed wat Hy sal beantwoord!
Sielskos: Lev 23:15-22; Hand 2:1-18
2018-05-14
Johannes 1:40-42 NLV
In die vroeë dae van sy bediening, wou Billy Graham plaaslike Christene mobiliseer om hulle vriende en familielede wat nog nie gered is nie, na sy evangeliese vergaderings toe te bring. Die Graham span het dus ‘Operasie Andreas’ op die been gebring – ‘n eenvoudige plan waarby kerkgangers die name van hulle ongeredde vriende kon neerskryf, vir hulle begin bid en hulle na Billy Graham se kruistogte uitnooi om die evangelie te hoor. Hoekom het hulle die naam ‘Operasie Andreas’ daarvoor gekies? Omdat Andreas, elke keer wat hy in Johannes se evangelie genoem word, besig was om iemand na Christus toe te neem. Eers bring hy sy broer, Simon Petrus. Dan in Johannes hoofstuk ses, bring hy die seuntjie met die vyf broodjies en twee vissies na Jesus toe. In Johannes hoofstuk twaalf lei hy ‘n groep Grieke na Jesus toe. Jy kan dieselfde doen. Jare gelede het ‘n nuwe Christen, die vier-en-twintig jarige Albert McMakin, sy vriende in sy bakkie gelaai en hulle elke aand na ‘n evangeliese veldtog in sy stad aangery. Die kans is goed dat jy nog nooit McMakin se naam tevore gehoor het nie. Jy is egter heelwaarskynlik vertroud met een van die passasiers in sy bakkie, ‘n jong man wat daardie selfde week sy lewe vir Christus gegee het – Billy Graham. Andreas het sy broer Simon Petrus na Christus toe geneem en Petrus het skare mense aan Christus voorgestel. Jy weet nooit! Die persoon met wie jy vandag jou geloof deel, of volgende Sondag saam kerk toe neem, mag dalk deur God gebruik word om dinge te doen waarvan jy nog nooit gedroom het nie. As jy jou deel doen, sal God die res doen.
Sielskos: Deut 28-29; Mark 8:14-26; Ps 44:17-26; Spr 12:12-14
2018-05-05
Prediker 12:13 NLV
In die boek Prediker, praat Salomo van al die dinge wat hy in die lewe probeer het en teleurstellend gevind het: die intellektuele najaging van kennis, die fisiese najaging van plesier en die materiële najaging van rykdom. In die laaste hoofstuk van Prediker kom hy tot die gevolgtrekking: ‘Alles is sinloos…’ (vers 8 NLV). Met ander woorde: ‘Was daar, het dit gesien, het dit gedoen en alles is maar net ewe teleurstellend.’ Met die laaste skrywe van sy goddelik geïnspireerde gedagtes, sluit hy sy lewensboodskap met die volgende woorde af: ‘…dit [is] die finale slotsom…’ Salomo is op die punt om sy evaluasie van ‘n lewe wat goed geleef is, te gee! Wat is dit? ‘…Wees eerbiedig teenoor God en gehoorsaam sy gebooie. Dit word van alle mense gevra. Want God gaan elke daad beoordeel…’ (verse 13-14 NLV). Om eerbiedig teenoor God te wees beteken dat jy Hom sal eer, liefhê en dien, en om jou lewe volgens die voorskrifte in sy Woord te lei. John Mason skryf: ‘Word jou doelwit deur meer geld, groter invloed of ‘n hoër posisie beïnvloed? Dit is nie doelwitte nie; dit is byprodukte van ware doelwitte. Strewe nie na sukses nie, maar na die waarheid en jy sal beide vind. Werk om te word, nie om te besit nie. Meet rykdom aan die dinge wat jy het wat jy nie vir enige geld sal ruil nie.’ Wanneer jy elke oggend wakker word, bid hierdie eenvoudige gebed: ‘Here, help my om bo alles hierdie dag te spandeer deur U lief te hê en u wil uit te voer. In Jesus se naam bid ek dit. Amen.’
Sielskos: Deut 8-10; Mark 6:30-44; Ps 37:8-15; Spr 11:27-29
2018-05-02
1 Kronieke 4:10 NLV
Jabes het gebid dat God hom op drie spesifieke maniere moet seën: 1) ‘…vergroot my grond…’ Hy het ‘n droom gehad om meer grond te besit en hy het vir God gevra om daardie droom te seën. Wanneer jy ophou droom, verloor jy rigting. Wanneer jy ophou om doelwitte vir jouself te stel, hou jy op groei. Jy moet iets hê waarna jy reik. Solank as wat jou horison vergroot, sal jy geestelik en emosioneel gesond wees. 2) ‘…Wees asseblief met my in alles wat ek doen…’ Jabes het besef dat hy meer verantwoordelikheid sou hê as sy grond vergroot word. Hy sou meer druk en meer eise ervaar en hy sou God se hulp in sy lewe nodig hê. Dus het hy vir God gevra om by hom te wees. Wanneer jy vir God se teenwoordigheid in jou lewe vra, kan jy seker wees dat Hy sal antwoord. 3) ‘…bewaar my van moeilikheid en pyn…’ Jabes het vir God vir beskerming gevra. Hoekom? In daardie dae was jy ‘n groter teiken hoe meer grond jy besit het, hoe meer invloed jy gehad het en hoe bekender jy was. Dis nog steeds so vandag. Hoe suksesvoller jy is, hoe meer kritiek sal jy kry. Hoe meer grond jy besit, hoe meer sal vyande jou aanval. Hoe nader jy aan God groei en hoe sterker jy as Christen word, hoe meer sal die duiwel jou teister, omdat hy nie wil hê dat jy moet groei nie. Jy kan egter seker wees, soos Jabes was, dat jy met God se beskerming niemand of niks hoef te vrees nie. Wil jy bo middelmatigheid uitstyg? Bid dan die gebed wat Jabes gebid het.
Sielskos: Deut 1-2; Mark 6:1-6; Ps 35; Spr 11:19-21