Die strik van vergelyking (2)

2018-09-13
2 Korintiërs 10:12 DB

As jy jou vreugde in die dien van die Here verloor het, is dit dalk omdat jy jouself met ander vergelyk en soos hulle probeer wees. Paulus het gesê, ‘Daarom moet julle almal eerder julle eie gedrag toets… sonder om julle met iemand anders te vergelyk’ (Galasiërs 6:4 NLV). Paulus het aanhoudend kritiek gekry. Sy reaksie was altyd dieselfde: Vermy vergelykings, weerstaan versoekings en soek slegs God se lof. Hy het geweier om deur kritiek ontmoedig te word, of om sy bediening te vergelyk, of om by vrugtelose debatte betrokke te raak. Die skrywer John Bunyan het gesê dat as sy lewe vrugteloos was, sou dit nie saak maak wie hom prys nie en as dit betekenisvol was, sou dit nie saak maak wie hom kritiseer nie. Die spreker en skrywer Anne Peterson voeg by: ‘Maak die drake van vergelyking dood. Wanneer ek iets sien wat my ontstel, bid ek vir daardie persoon. Dis makliker wanneer ek eerlik is met God – Hy weet in elk geval hoe ek voel. Dan begin ek Hom loof en prys. Ek sing ou gesange wat vol waarhede oor die Here is. In plaas daarvan om te wonder of ek dit waarna ek toe werk, sal bereik, dink ek eerder aan die wonderlike dinge wat God alreeds gedoen het. Tevredenheid is beskikbaar, solank as wat ons ons oë op die Koning van konings hou.’ ‘n Onbekende digter het geskryf: ‘The stick I made for measuring, I used most every day. It helped me to compare myself with others on my way. I watched all those behind me, or further down the road, and I would readjust my pace or lighten up my load. The most important drawback with how I ran my race, was watching everything around-except my Savior’s face!’

Sielskos: Kol 3-4; Filemon; Luk 21:1-11; Ps 78:9-16; Spr 23:22-25

Jaïrus (4)

2018-07-21
2 Timoteus 1:10 NLV

Dis geen verrassing dat God ‘n hart het vir ouers wat seer het nie. God is immers self ‘n Vader. Mishandel iemand jou kind? Hulle het sy kind gespot en geboelie. Maak iemand misbruik van jou kind? Jesus is deur vals getuienis veroordeel en deur ‘n gierige volgeling verraai. Word jy geforseer om toe te kyk hoe jou kind ly? God het sy Seun op die kruis gesien. Vind jy dat jy jou kind van al die seer in die wêreld wil spaar? God het ook so gevoel, maar, ‘As God werklikwaar nie sy eie Seun gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons aan die dood oorgegee het, is daar tog geen manier waarop Hy nie ook alle ander goeie dinge aan ons sal skenk nie’ (Romeine 8:32 NLV). Daar is niks wat God nie in antwoord op gebed kan doen nie! Miskien het jy gebid, maar jou kind het gesterf. Daar is geen pyn wat met die verlies van ‘n kind vergelyk kan word nie. Miskien het jy gesê, ‘Jesus het Jaïrus se kind uit die dood gered, hoekom het Hy myne nie gered nie? God verstaan jou vraag. Hy het ook sy kind begrawe. Hy haat ook die dood. Dis hoekom Hy ‘…die mag van die dood verbreek het en aan ons… die weg gewys het na die onverganklike lewe.’ Vir diegene wat op Christus vertrou, is die dood niks meer as ‘n oorgang na die hemel toe nie. Jou kind mag dalk nie vandag in jou arms wees nie, maar is veilig in God se arms. Nadat hy sy seun by geboorte verloor het, het Dawid met hoop vorentoe gekyk en gesê, ‘…Eendag sal ek na hom toe gaan…’ (2 Samuel 12:23 NLV). Jy sal ook.

Sielskos: 2 Sam 22:31-24:25; Luk 8:26-39; Ps 140; Spr 18:21-22

Jaïrus (2)

2018-07-19
Klaagliedere 2:19 NLV

Die verhaal van Jaïrus is die storie van ‘n pleitende ouer en ‘n alomteenwoordige Redder. Dus, ‘Staan op… om jou hart soos water voor die Here uit te stort. Steek jou hande uit na Hom om te pleit vir jou kinders…’ Ouer, jy kan dit doen. Jy kan ‘n lojale voorstaander en ‘n getroue bemiddelaar wees. Jy kan jou vrese oor ouerskap na Jesus toe bring. As jy dit nie doen nie, mag jy dalk selfs jou vrese op jou kinders uithaal. Vrees verander sommige ouers in tronkbewaarders wat elke minuut monitor en die agtergrond van elke vriend ondersoek. Hulle onderdruk groei en kommunikeer wantroue. ‘n Familie met geen spasie vir asemskep nie, versmoor ‘n kind. Aan die ander kant, kan vrees ook permissiewe ouers kweek. Uit vrees dat hulle kind te ingehok sal voel, verlaag hulle hulle grense. Hoog op drukkies en laag op dissipline, besef hulle nie dat toepaslike dissipline ‘n uitdrukking van liefde is nie. Permissiewe ouers of paranoïese ouers – hoe kan jy hierdie uiterstes vermy? Deur te bid! Jesus het min oor ouerskap gesê, maar sy aksies spreek volumes oor gebed. Elke keer wat ‘n ouer bid, reageer Christus. Die groot boodskap van hierdie dagstukkie is: Wanneer jou kind ‘n krisis beleef, draai na Jesus toe. Moet egter nie vir die krisis wag nie. Stuur hulle elke dag met ‘n seëngebed skool toe. Wanneer jy vir hulle goeienag sê, bedek hulle met gebed. Wanneer hulle met huiswerk sukkel, bid saam met hulle daaroor. Bid dat jou kinders ‘n diepgaande sin van hulle plek in hierdie wêreld sal hê, en ‘n hemelse plek in die volgende een.

Sielskos: 2 Sam 17:14-19:43; Luk 8:1-15; Ps 123; Spr 18:13-16

Bid vir die regte woorde

2018-06-14
Kolossense 4:6 NLV

Bid: ‘Here, ek sluit by die psalmdigter Dawid aan en vra: ‘Mag die woorde van my mond en die gedagtes van my hart vir U aanneemlik wees…’ (Psalm 19:15 NLV). Ek besef dat die woorde wat ek spreek geweldige krag het, in beide my eie lewe en in my verhoudings. U Woord sê, ‘Die tong het mag oor dood en oor lewe…’ (Spreuke 18:21 NLV). Leer my om woorde te spreek wat altyd getrou aan u Woord is en wat U verheerlik. Help my om versigtig te wees om woorde te spreek wat ander mense opbou in plaas van afbreek, wat komplimenteer eerder as kritiseer, wat in liefde en waarheid gespreek word en nie deur my eie verwagtings en begeertes verdraai word nie, en wat vertroue en nie mismoedigheid meebring nie. Waar ek woorde gespreek het wat negatief of skadelik vir iemand anders was, vergewe my. Weerhou my daarvan om dinge te sê wat ander mense op enige manier seermaak of afkraak. Ek wil vriendelik met my woorde wees en ‘n tong hê wat genesing en seën bevorder (sien Spreuke 12:18). Help my om geloof in u Heerskappy oor my lewe te hê dat ek ‘…alles sonder kla of teëpraat’ (Filippense 2:14 NLV) kan doen. Help my om nie negatiewe dinge van myself te sê nie. Help my om onmiddellik op te hou wanneer ek ‘n kritiese woord begin sê. U woord sê, ‘Met woorde wat altyd vriendelik en sinvol is, moet julle gereed staan om die regte antwoord vir elke mens te gee.’ Laat my woorde U vandag eer en verheerlik. In Jesus se naam bid ek dit. Amen.’

Sielskos: Eseg 27:25-30:26; Mark 15:33-47; Ps 143; Spr 15:8-10

Vier kategorieë van begeerte (2)

2018-06-06
Psalm 37:4 NLV

Die begeerte om te presteer: Die eerste ding wat God vir Adam gesê het was: ‘…Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde… en heers oor… die aarde’ (Genesis 1:28 NLV). Die rede hoekom jy so ‘n sterk begeerte het om iets in die lewe te bereik, is omdat God jou so geskep het. Min mense is meer as Paulus deur prestasie gemotiveer: ‘Al is my lewe kosbaar, ag ek dit van geen waarde as ek nie my lewenstaak en my bediening wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaarmaak nie…’ (Handelinge 20:24 NLV). God het nie Paulus se begeerte om te presteer weggeneem nie; Hy het dit ingespan sodat Paulus God se wil kon vervul. ‘n Sterk beroepsgeoriënteerde dryfkrag, tesame met die begeerte om te leer en te presteer, kan ‘n goeie ding wees, tensy dit tot werkverslawing, statusafhanklikheid of die manipulering van ander mense lei. Wanneer dit gebeur, moet jy jou motivering herevalueer. As dit egter nie die geval is nie en jy bevind jouself waar jy met ‘n vuur binne-in jou in God groei om iets te bereik – gaan voort en presteer. Oefen heerskappy uit! Gebruik jou vaardighede om goeie dinge vir ander te bereik. Op daardie punt, of jy nou tot ‘n vergadering bydra, waarde tot jou span voeg of idees formuleer, sal jy weet dat dit meer as net jou eie vaardighede is. Wanneer jy rasionele vaardighede ontwikkel wat jou in staat stel om ‘n band met kliënte en kollegas te vorm, kan jy gelyktydig vir hulle bid en hulle seën. Soos jy vreugde in jou prestasies kry, is jou lewe vir God behaaglik. ‘n Woord van advies: Elke nou en dan, onthou om te stop en Hom te bedank dat jy iets waarvoor jy lief is, kan doen!

Sielskos: Eseg 5-9; Mark 14:12-26; Ps 4; Spr 14:17-20