2018-10-07
Genesis 27:28 NLV
Kom ons kyk na die volgende twee bestanddele van ‘n vader se seën: 1) Die krag van gebed. So het Isak, ‘n boer, vir sy seuns gebid: ‘Mag God vir jou die dou van die hemel en die vrugbaarheid van die aarde gee sodat jy goeie oeste van graan en wyn sal hê.’ Pa, het jou kinders jou al gehoor bid dat hulle sukses in die lewe moet behaal? Miskien het hulle al kritiese en snydende woorde soos: ‘Hoe kan jy so dom wees? Dink jy nooit vir jouself nie? Jy sal nooit iets word nie!’ gehoor. As dit die geval is, vra verskoning en vir hulle vergifnis. Skep dan geleenthede waar hulle jou met God kan hoor praat oor hulle; waar hulle kan hoor hoe jy seën oor hulle uitspreek. Wat ‘n kragtige werktuig is ‘n pa se gebed vir seën oor sy familie nie! 2) Die visie van ‘n glorieryke toekoms. Die Bybel sê, ‘Wanneer ‘n volk nie duidelikheid het oor die wil van God nie, word hulle koersloos…’ (Spreuke 29:18 NLV). Skoolberaders rou oor die gebrek aan visie by hulle studente. Baie van die kinders van vandag sien niks in hulle toekoms, behalwe slegte ekonomiese toestande, werkloosheid en harde tye nie. Hulle het iemand nodig wat in hulle glo; wat hulle gerusstel dat hulle sukses kan behaal en gelukkige lewens kan lei en kan weet dat hulle beste dae nog voor hulle lê. Isak het nie gewag vir sy seuns om hulle eie visie vir die lewe te kry nie. Nee, hy het vir hulle toekomstige sukses, hulle vooruitgang tot vernaamheid en vir respek van hulle familie en die samelewing toegebid. Pa, jou kinders het nodig dat jy hulle in die regte rigting motiveer.
Sielskos: Heb 11:8-12; Gen 17:1-27; Gen 22:1-18; Jak 2:21-24
2018-10-06
Hebreërs 11:20 NLV
Elke kind benodig sy/haar vader se seën en elke pa moet woorde van seën oor hulle spreek. Toe Isak sy seuns geseën het, het hy met Godgegewe outoriteit gepraat, nie uit sentiment of voortrekking nie. Volgens die Hebreeuse gebruik het ‘n pa se seën die volgende bestanddele bevat: 1) ‘n Betekenisvolle aanraking. “Jakob het nader aan sy pa gaan staan. Isak voel toe aan hom… Toe sê Isak: ‘Kom nader en soen my, my seun'” (Genesis 27:22, 26 NLV). ‘n Vader se seën het ingesluit dat die pa sy hande op die kind lê, ‘n soen en ‘n omhelsing van liefde en aanvaarding. Jesus het ook die belangrikheid hiervan besef: ‘Toe het Hy sy arms om die kindertjies gesit, sy hande op hulle koppe gelê en hulle geseën’ (Markus 10:16 NLV). Sulke uitdrukkings van liefde seën steeds jou kinders se harte wanneer hulle dit van jou ontvang, Pa! 2) Woorde van liefde. Voordat Isak vir Jakob geseën het, het hy vir hom gesê, ‘…Die reuk van my seun is die geur van die veld wat die Here geseën het’ (Genesis 27:27 NLV). Vir die stadsbewoner mag hierdie woorde dalk vreemd klink, maar nie vir Isak se seuns nie. Isak, wat lief was vir die natuur, het inderwaarheid gesê, ‘Dis my seun – ‘n seun van die veld, ‘n jagter, ‘n man soos sy pa!’ Hy kon nie beter woorde wat sy liefde bevestig het, vir sy seuns gesê het nie. Pa, maak seker dat jou woorde nie afbrekend of onsensitief is nie; spreek woorde wat sê, ‘Ek is lief vir jou, ek glo in jou, ek is trots op jou en ek sal altyd daar wees vir jou.’
Sielskos: Eks 1-3; Luk 24:45-53; Ps 51; Spr 25:23-25
2018-10-05
Prediker 3:11 NLV
Die lewe gaan dikwels nie volgens plan nie. ‘n Bevordering gebeur nie op die regte tyd nie en jou planne vir jou beroep moet verander, of ‘n verhouding sneuwel en jy spandeer elke sekonde van elke dag om te probeer uitwerk wat verkeerd gegaan het. Die geheim tot ware vrede is om te verstaan dat jy nie die volle omvang van God se werk kan verstaan nie en te aanvaar dat Hy dinge op sy eie tyd doen. Het jy al ooit die voordeur probeer oopsluit, met ‘n magdom pakkies in jou hande terwyl die foon binne lui? Dis die regte sleutel, maar dit wil nie werk nie omdat jy dit probeer forseer. Sodra jy ontspan, sluit die deur sonder enige probleme oop. ‘n Berader sê, ‘Hou op om so hard te probeer. Jy saboteer jouself. Sodra jy besluit dat ‘n situasie goed of sleg is, plaas jy jouself in ‘n posisie waar jy iets daaraan moet doen. Byvoorbeeld, as iemand ‘goed’ is, begin jy jouself met daardie persoon vergelyk: Is ek beter of slegter? Hoe kan ek verbeter? Ons is uitgeput nog voor ons begin het. Wanneer die pad opdraande is – loop die heuwel uit! Wanneer jy by ‘n struikelblok kom – loop om dit! Aanvaar die pad voor jou. Die Bybel sê ‘…elke ding het sy tyd en plek…’ (Prediker 8:6 NLV). Miskien moet iets eers gebeur. Of miskien is daar ‘n belangrike les wat God wil hê jy moet leer wat jy egter probeer vermy. Of miskien is die tyd net nie reg daarvoor nie. Hou op om so hard te probeer om dinge op jou tyd te laat geskied. Doen wat jy kan in vrede, gee die res aan God oor en sien hoe die ‘onmoontlike’ in plek val.
Sielskos: 1 Kor 15-16; Luk 24:36-44; Ps 60; Spr 25:21-22
2018-10-04
1 Korintiërs 6:20 NLV
‘n Pastoor skryf: ‘Ek het op elke Skrifgedeelte wat oor genesing handel, gestaan. Uiteindelik het ek so siek geword dat hulle met my hospitaal toe moes jaag. Daar het hulle agtergekom dat vyf van my are heeltemal geblokkeer was en het my vir ‘n hartomleiding geskeduleer. Toe ek na die operasie wakker word, het ek dit begin bevraagteken, ‘Hoe kon dit met my gebeur het? Ek is ‘n pastoor. Ek glo dat God genees. Ek het vir ander mense gebid en gesien hoe Hy hulle genees het.’ Toe het ek onthou! Ek is herhaaldelik gewaarsku dat my cholesterol- en suikervlakke te hoog is. Ek moes my dieet verander het, maar ek wou nie luister nie. Ek was verslaaf aan vetterige en gebraaide kos. Dit was so smaaklik dat ek dit nie kon opgee nie.’ Hou aan lees – jou lewe kan daarvan afhang! Jesus het gesê dat die kinders van hierdie wêreld wyser is as die kinders van die lig (sien Lukas 16:8). Die media en mediese wêreld waarsku ons daagliks dat ons moet dophou wat ons eet, en tog bly die kerk dikwels stil daaroor. Tabak, alkohol en dwelms kan jou doodmaak, maar so ook die verkeerde kos! Paulus skryf: ‘Of verstaan julle nie dat julle liggame ‘n tempel van die Heilige Gees is wat in julle woon en deur God aan julle gegee is nie? Julle behoort nie aan julleself nie, want julle is teen ‘n duur prys gekoop. Daarom moet julle God met julle liggame verheerlik’ (1 Korintiërs 6:19-20 NLV). Jy het ‘n opdrag van God ontvang en ‘n verantwoordelikheid om gesond te bly en daardie opdrag te vervul. Jou liggaam is die tempel waarin Hy woon en die instrument wat Hy gebruik. Strewe dus daarna om God elke dag met jou liggaam te verheerlik.
Sielskos: 1 Kor 12-14; Luk 24:25-35; Ps 68:19-35; Spr 25:17-20
2018-10-03
Jesaja 30:21 NLV
‘n Berader wat op ‘n stadium ‘n verslaafde was, skryf: ‘Ek was onder behandeling vir chemiese afhanklikheid en het ‘n werk nodig gehad. Ek het vir maande gesoek, maar niemand wou my in diens neem nie. Een dag terwyl ek vir die bus gewag het, het ‘n klein stemmetjie vir my gesê: ‘Kyk agter jou.’ Ek het langs ‘n prokureurskantoor gestaan. ‘Gaan praat met die hoof van die firma en sê vir hom dat jy ‘n werk nodig het,’ was die woorde wat ek gehoor het. ‘Dis mal,’ het ek gedink, maar steeds het daardie stem my aangemoedig. Toe ek met die prokureur praat en hom vertel wat in my lewe aan die gang was, het hy dit verstaan omdat iemand in sy familie ook op die herstelpad van verslawing was. Toe het hy na my gekyk en gesê, ‘Dis snaaks dat jy vandag ingekom het. Ek dink daaraan om ‘n posisie vir ‘n regssekretaresse te skep en het nog nie daarby uitgekom om die pos te adverteer nie.’ Twee weke later het ek die werk gekry en dit was beter as enige ander posisie waarvoor ek aansoek gedoen het. Die salaris was meer en het die beste moontlike gebruik van my vaardighede gemaak.’ Die probleem is nie dat God nie meer met ons praat nie, dis dat ons nie meer sy stem herken nie. Moenie so gou wees om die toevallige gedagtes te ignoreer nie. Oor die algemeen, sal God nie ‘n weerligstraal uit die hemel stuur om jou aandag te kry nie. Hy praat meer dikwels met jou deur jou gedagtes, ‘n familielid, ‘n vriend, ‘n verandering in jou omstandighede, of die stilte wanneer Hy jou hart met perfekte vrede vul. Luister dus vir God se stem.
Sielskos: 1 Kor 10-11; Luk 24:13-24; Ps 68:1-18; Spr 25:13-16
2018-10-02
Eksodus 3:2 NLV
Moses het vir vier dekades lank in die woestyn geleef: Dis meer as 21 miljoen minute! Sy lewe is deur eentonigheid gedefinieer totdat hy ‘n ondervinding gehad het. Op ‘n dag wat presies soos die 4,600 dae vantevore begin het, het Moses ‘n brandende bos uit die hoek van sy oog opgemerk. Toe het hy ‘n stem uit die bos gehoor wat sy naam roep. Soms sal God jou verras! ‘n Brandende bos is amper so absurd soos ‘n pratende donkie. O wag, God het dit ook gedoen! Een van die inherente gevare daarin om vir ‘n lang ruk die pad met God te stap, is dat jy naderhand kan dink dat jy Hom uitgepluis het. Ons probeer Hom in ‘n boks sit, maar daar is geen boks groot genoeg wat Hom kan inperk nie. Hy sê: “‘My gedagtes is anders as julle s’n, en julle paaie is nie my paaie nie,’ sê die Here. ‘Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is wat Ek doen, hoër as wat julle doen, en my gedagtes hoër as julle gedagtes'” (Jesaja 55:8-9 NLV). In plaas daarvan om doelloos deur die lewe te gaan en jou dae ineen te laat loop, het jy nodig om elke dag op te staan en te bid: ‘Vader, dankie vir hierdie nuwe dag. Gee my asseblief nuwe insigte in u Woord wat nuwe aspekte van u karakter openbaar, sodat ek u wil mag doen en U kan verheerlik.’ Word meer oplettend en bewustelik; moenie dit wat God vir jou het, misloop nie. Doen wat Moses gedoen het: “‘Dit is snaaks,’ het Moses vir homself gesê. ‘Hoekom brand die bos dan nie uit nie? Laat ek gaan kyk wat aangaan'” (Eksodus 3:3 NLV). Probeer vandag ‘sien’ wat God in jou lewe doen!
Sielskos: 1 Kor 7-9; Luk 24:1-12; Ps 91; Spr 25:9-12