‘n Vader se seën (1)

2018-10-06
Hebreërs 11:20 NLV

Elke kind benodig sy/haar vader se seën en elke pa moet woorde van seën oor hulle spreek. Toe Isak sy seuns geseën het, het hy met Godgegewe outoriteit gepraat, nie uit sentiment of voortrekking nie. Volgens die Hebreeuse gebruik het ‘n pa se seën die volgende bestanddele bevat: 1) ‘n Betekenisvolle aanraking. “Jakob het nader aan sy pa gaan staan. Isak voel toe aan hom… Toe sê Isak: ‘Kom nader en soen my, my seun'” (Genesis 27:22, 26 NLV). ‘n Vader se seën het ingesluit dat die pa sy hande op die kind lê, ‘n soen en ‘n omhelsing van liefde en aanvaarding. Jesus het ook die belangrikheid hiervan besef: ‘Toe het Hy sy arms om die kindertjies gesit, sy hande op hulle koppe gelê en hulle geseën’ (Markus 10:16 NLV). Sulke uitdrukkings van liefde seën steeds jou kinders se harte wanneer hulle dit van jou ontvang, Pa! 2) Woorde van liefde. Voordat Isak vir Jakob geseën het, het hy vir hom gesê, ‘…Die reuk van my seun is die geur van die veld wat die Here geseën het’ (Genesis 27:27 NLV). Vir die stadsbewoner mag hierdie woorde dalk vreemd klink, maar nie vir Isak se seuns nie. Isak, wat lief was vir die natuur, het inderwaarheid gesê, ‘Dis my seun – ‘n seun van die veld, ‘n jagter, ‘n man soos sy pa!’ Hy kon nie beter woorde wat sy liefde bevestig het, vir sy seuns gesê het nie. Pa, maak seker dat jou woorde nie afbrekend of onsensitief is nie; spreek woorde wat sê, ‘Ek is lief vir jou, ek glo in jou, ek is trots op jou en ek sal altyd daar wees vir jou.’

Sielskos: Eks 1-3; Luk 24:45-53; Ps 51; Spr 25:23-25