Verander jou dieet
2018-10-041 Korintiërs 6:20 NLV
‘n Pastoor skryf: ‘Ek het op elke Skrifgedeelte wat oor genesing handel, gestaan. Uiteindelik het ek so siek geword dat hulle met my hospitaal toe moes jaag. Daar het hulle agtergekom dat vyf van my are heeltemal geblokkeer was en het my vir ‘n hartomleiding geskeduleer. Toe ek na die operasie wakker word, het ek dit begin bevraagteken, ‘Hoe kon dit met my gebeur het? Ek is ‘n pastoor. Ek glo dat God genees. Ek het vir ander mense gebid en gesien hoe Hy hulle genees het.’ Toe het ek onthou! Ek is herhaaldelik gewaarsku dat my cholesterol- en suikervlakke te hoog is. Ek moes my dieet verander het, maar ek wou nie luister nie. Ek was verslaaf aan vetterige en gebraaide kos. Dit was so smaaklik dat ek dit nie kon opgee nie.’ Hou aan lees – jou lewe kan daarvan afhang! Jesus het gesê dat die kinders van hierdie wêreld wyser is as die kinders van die lig (sien Lukas 16:8). Die media en mediese wêreld waarsku ons daagliks dat ons moet dophou wat ons eet, en tog bly die kerk dikwels stil daaroor. Tabak, alkohol en dwelms kan jou doodmaak, maar so ook die verkeerde kos! Paulus skryf: ‘Of verstaan julle nie dat julle liggame ‘n tempel van die Heilige Gees is wat in julle woon en deur God aan julle gegee is nie? Julle behoort nie aan julleself nie, want julle is teen ‘n duur prys gekoop. Daarom moet julle God met julle liggame verheerlik’ (1 Korintiërs 6:19-20 NLV). Jy het ‘n opdrag van God ontvang en ‘n verantwoordelikheid om gesond te bly en daardie opdrag te vervul. Jou liggaam is die tempel waarin Hy woon en die instrument wat Hy gebruik. Strewe dus daarna om God elke dag met jou liggaam te verheerlik.
Sielskos: 1 Kor 12-14; Luk 24:25-35; Ps 68:19-35; Spr 25:17-20