2018-10-13
Hooglied 4:12 NLV
‘n Boer se vrugteboom het deurlopend goeie oeste gegee en het ‘n regte geldmaker vir hom geword, dus het hy al sy aandag aan die bemarking van die vrugte gegee en nooit opgemerk dat die boom besig was om dood te gaan nie. Een dag het hy wakker geword en besef dat die wortels opgedroog het. Hy was so gefokus op die vrug, dat hy die wortel verwaarloos het. Wat van jou? Fokus jy op die wins en uitslae, of fokus jy op die doel, mense, innovasie, kultuur en wortels van jou sukses? As jy na die wortel omsien, sal jy altyd vrugte hê. As jy die wortel ignoreer – kan jy die vrugte vaarwel toeroep! ‘n Skrywer sê: ‘Net soos ‘n plant in een pot beperk word, word ons wortels gebind en verdraai. Na ‘n ruk is ons nie meer in staat om ten volle gevoed te word nie. Ons kan nie verder as die beperkinge van ons omgewing groei nie. Ons word soos ‘…’n tuin wat weggesteek is…’ God sien egter die persoon aan die binnekant; die een met die potensiaal om alles te word wat Hy jou geskep het om te wees. Hy sien die bloeisels van die versteekte tuin, die varsheid en geluid van die innerlike fontein. Hy weet dat jy geïnhibeer en afgesluit is en Hy wil jou vrymaak. Sommige teëspoed soos die dood en skeiding veroorsaak ‘n noodsaaklike oorplanting; ‘n geleentheid om dieper wortels te kry en jou potensiaal in ‘n nuwe houer te laat realiseer. Vra God om jou oor te plant; om jou sagkens te verwyder, jou uit die gevangenis te bevry en die perfekte plek vir jou te kry om te kan groei. Laat Hom toe om jou wortels te versorg sodat hulle in die ryk grond van nuutgevonde vryheid kan groei.’
Sielskos: Eks 19-21; John 2:12-25; Ps 110; Spr 26:13-16
2018-10-12
Lukas 6:46 NLV
Jesus vertel die verhaal van twee mans wat elk ‘n huis gebou het. Die verstandige een het sy huis op ‘n rots gebou; die dwaas het sy huis op sand gebou. Toe die storm beide huise tref, het net die wyse man se huis staande gebly. Jesus was nie besig om wysheid met dwaasheid te vergelyk nie, omdat ons almal geneig is om by sekere tye wys en by ander tye dwaas te wees. Hy het ook nie gesê dat die huis wat oorleef het ‘n gelowige se huis was terwyl die huis wat vernietig was aan ‘n ongelowige behoort het nie, alhoewel dit geïmpliseer word. Hy het die twee fondasies vergelyk (sien Matteus 7:24-27). Wat is die fondasie van jou lewe? Wanneer dinge sleg gaan; wanneer jou rug teen die muur is; wanneer jy jou laaste bietjie krag opgebruik het – wat is dit wat jou deurtrek? Verseker nie jou wysheid of kerklidmaatskap nie. Getroue gelowiges spartel soms in die middel van die lewe se storms: ‘n verkeerde verhouding, ‘n finansiële ineenstorting, ‘n ontroue maat, ‘n onomkeerbare verlies, ‘n kind se siekte, psigologiese of fisiese gebreke, ens. Jesus se punt was egter: Wanneer die storms van die lewe arriveer, is die enigste manier om daar deur te kom om te doen wat Hy sê! Omdat God altyd sy Woord eer, bring jou gehoorsaamheid jou in lyn met sy Woord, sy wil en sy mag om namens jou op te tree. As jy in gehoorsaamheid wandel, sal God jou in staat stel om deur hierdie storm te kom, maak nie saak hoe lank en hoe erg dit woed nie.
Sielskos: Eks 16-18; Joh 2:1-11; Ps 23; Spr 26:10-12
2018-10-11
Galasiërs 6:5 NLV
Sannie was ‘n bestuurder by ‘n klein bemarkingsbesigheid en wanneer probleme opgeduik het, het sy outomaties na ‘n sondebok gesoek. By verkoopsvergaderings het sy met haar kollegas geraas en hulle gekritiseer en haar tirades ‘motiveringspraatjies’ genoem. Haar kollegas het een vir een begin bedank, en toe die besigheid se verkope begin afneem, het Sannie dit op die stadige ekonomie, oneffektiewe personeel en slegte werksomgewing geblameer. Uiteindelik het haar baas genoeg gehad en haar afgedank. Dit het Sannie nooit opgeval dat sy dalk tot die probleem bygedra het nie. Wanneer jy ander blameer, ondermyn dit jou vermoë om verantwoordelikheid oor jou eie lewe te neem. ‘n Kundige skryf: ‘In plaas van om sterker te word, word jy swakker. Mense dink as hulle erken dat hulle deel van die probleem is, het hulle op ‘n manier gefaal. Die teenoorgestelde is egter waar. Dit neem krag om te erken dat almal betrokke ‘n deel daarin gehad het. Nog ‘n newe-effek van blaam is self-regverdiging. In jou gedagtes word jy onaantasbaar, anders en beter as ander mense. Jy dink dat jy die sterk een is en dat ander mense foute het. Niks kan verder van die waarheid af wees nie. Die Bybel sê, ‘…Hooghartigheid kom net voor die val’ (Spreuke 16:18 NLV). Wanneer jy ander mense blameer, verloor jy die vermoë om te sien wat werklik aan die gang is. Jy is dan geskok wanneer jy ‘n verhouding of werk verloor, omdat jy dit glad nie sien kom het nie. Wanneer jy ophou om ander te blameer, ontwikkel jy deernis. Jy besef dat foute natuurlik en onvermydelik is – en dat hulle net foute is. Hulle kan gekorrigeer word. Dit beteken nie dat daar iets fout is met jou of ander mense nie.’ Neem dus verantwoordelikheid vir jou eie lewe.
Sielskos: Eks 13-15; Joh 1:43-51; Ps 131; Spr 26:7-9
2018-10-10
Romeine 14:12 NLV
In plaas daarvan om verantwoordelikheid vir hulle dade en besluite te neem wanneer die lewe verkeerd gaan, plaas blameerders die skuld daarvoor op ander mense. Daar is ook nie ‘n tekort aan sondebokke nie. Byvoorbeeld: My besigheid sou suksesvol gewees het as die bank net meer geld aan my wou leen… Ek wou deel van die bedieningspan wees, maar my man hou nie van die idee nie… Die dokter het ‘n gemors van die operasie gemaak. Daar is egter nie plek vir die verskuiwing van blaam in God se Woord nie: ‘Elkeen van ons sal dus oor ons eie doen en late voor God verantwoording moet doen.’ Die probleem met die verskuiwing van blaam is dat dit jou daarvan weerhou om konstruktiewe aksie te neem en met jou lewe aan te beweeg. Soos die sielkundige, dr Brenda Shoshanna, opmerk: ‘Elke persoon wat jy blameer hou ‘n deel van jou persoonlike krag en selfrespek vas. Om verantwoordelikheid vir dit wat in jou lewe gebeur te neem, is een van die mees bemagtigende dinge wat jy kan doen. Nuwe keuses word beskikbaar… jou woede neem af… jy sien mense en gebeurtenisse met nuwe oë. Onthou, verantwoordelikheid kan ook as ver-antwoord-elikheid gelees word: dis die vermoë om te antwoord eerder as om net te reageer.’ Ja, dit kan intimiderend wees om beheer van jou eie lewe te neem, maar jy sal verwonderd wees oor die vreugde en vryheid wat dit meebring. Sal jy langs die pad foute maak? Natuurlik! Sal jy struikel en val? Verseker! Daar is egter niks soos die gevoel om in geloof, met God se hulp, die volgende tree te neem nie.
Sielskos: Eks 10-12; Joh 1:29-42; Ps 29; Spr 26:4-6
2018-10-09
Eksodus 3:5 NLV
Joodse geleerdes het gereeld gedebatteer oor die rede waarom God Homself aan Moses in die middel van die woestyn geopenbaar het. Hoekom nie by ‘n besige of godsdienstig betekenisvolle plek nie? Die konsensus was dat God wou wys dat geen plek op aarde, nie eens ‘n doringbos, van God se teenwoordigheid beroof is nie. Pastoor A.W. Tozer het geskryf: ‘God is bo, maar Hy is nie opgedruk nie. Hy is onder, maar Hy is nie afgedruk nie. Hy is buite, maar Hy is nie uitgesluit nie. Hy is binne, maar Hy is nie beperk nie.’ Die beste daarvan is: ‘Dis mos God wat julle gewillig maak om te doen waarvan Hy hou, en Hy gee julle ook die vermoë om dit te kán doen!’ (Filippense 2:13 NLV). Vandag woon God in jou, werk deur jou en gee aan jou die begeerte om dinge te doen wat Hom behaag. Hier is ‘n interessante gedagte: Omdat God binne-in jou woon, moet jy nêrens heen gaan waar Hy nie sal wil gaan nie, of jouself in situasies bevind waar Hy Hom nie sal wil bevind nie. Wanneer dit verkeerd voel om by ‘n sekere persoon of in ‘n sekere plek te wees, gee aandag daaraan. Dit mag dalk die Heilige Gees wees wat vir jou sê dat jy nie daar hoort nie en dat jy nie veronderstel is om dit te doen nie. Beteken dit dat God eng is? Nee; Hy wil net die beste vir jou hê, daarom beskerm Hy jou sodat jy niks oorkom nie. Die Bybel sê, “‘n Son en skild is die Here God… Hy sal die goeie nie weerhou van hulle wat doen wat reg is nie” (Psalm 84:12 NLV). Waar jy vandag ook al gaan, onthou dat God daar is!
Sielskos: Eks 7-9; Joh 1:14-28; Ps 92; Spr 26:1-3
2018-10-08
Jesaja 40:31 NLV
‘n Gerespekteerde skrywer beskryf die emosies wat mens ondervind wanneer mens voor ‘n gehoor moet praat, so: ‘Om in die openbaar te praat word as ons nommer een vrees beskryf, voor die dood by nommer vyf en eensaamheid wat nommer sewe is. Dit beteken dat die meeste van ons minder bang is om dood te gaan as om ‘n gek van onsself voor ander mense te maak. Vrees is ‘n kragtige motiveerder. Daar is die vrees dat jy as vreemd en anders gesien kan word; die vrees vir die onbekende; die vrees dat jy as bedrieglik gesien kan word; die vrees dat jy sal vergeet wat jy wou sê; die vrees om ‘n risiko in die publiek te neem; en die vrees om alleen te wees. Al hierdie vrese word vir die meeste van ons saamgevat wanneer ons in die openbaar moet praat.’ In The Bible on Leadership, skryf Lorin Woolfe: ‘Leierskap benodig ‘n amper bodemlose voorraad van verbale energie. Jy moet oproepe kan maak, op jou boodskap gefokus kan bly, dieselfde mantra oor en oor kan herhaal totdat jy nie meer die geluid van jou eie stem kan verdra nie – en dit dan nog weer en weer herhaal, want net wanneer jy tot dodens toe verveeld met die boodskap is, sal dit heelwaarskynlik begin insink.’ As jy baie onderwys, prediking of openbare spreking doen, glimlag jy waarskynlik en sê ‘Amen!’ Die feit is dat jy nie ‘n leë emmer uit ‘n droë put kan vul nie. Jy moet jou batterye geestelik, emosioneel en fisies gelaai hou om te kan aanhou gee. Die Bybel sê vir jou hoe om dit te doen: ‘Maar dié wat hulle hoop op die Here stel, sal hulle krag terugkry. Hulle vlieg soos arende. Hulle sal hardloop en nie moeg word nie. Hulle sal loop en nooit vermoeid word nie.’
Sielskos: Eks 4-6; Joh 1:1-13; Ps 63; Spr 25:26-28