Moenie ‘n blameerder wees nie (1)
2018-10-10Romeine 14:12 NLV
In plaas daarvan om verantwoordelikheid vir hulle dade en besluite te neem wanneer die lewe verkeerd gaan, plaas blameerders die skuld daarvoor op ander mense. Daar is ook nie ‘n tekort aan sondebokke nie. Byvoorbeeld: My besigheid sou suksesvol gewees het as die bank net meer geld aan my wou leen… Ek wou deel van die bedieningspan wees, maar my man hou nie van die idee nie… Die dokter het ‘n gemors van die operasie gemaak. Daar is egter nie plek vir die verskuiwing van blaam in God se Woord nie: ‘Elkeen van ons sal dus oor ons eie doen en late voor God verantwoording moet doen.’ Die probleem met die verskuiwing van blaam is dat dit jou daarvan weerhou om konstruktiewe aksie te neem en met jou lewe aan te beweeg. Soos die sielkundige, dr Brenda Shoshanna, opmerk: ‘Elke persoon wat jy blameer hou ‘n deel van jou persoonlike krag en selfrespek vas. Om verantwoordelikheid vir dit wat in jou lewe gebeur te neem, is een van die mees bemagtigende dinge wat jy kan doen. Nuwe keuses word beskikbaar… jou woede neem af… jy sien mense en gebeurtenisse met nuwe oë. Onthou, verantwoordelikheid kan ook as ver-antwoord-elikheid gelees word: dis die vermoë om te antwoord eerder as om net te reageer.’ Ja, dit kan intimiderend wees om beheer van jou eie lewe te neem, maar jy sal verwonderd wees oor die vreugde en vryheid wat dit meebring. Sal jy langs die pad foute maak? Natuurlik! Sal jy struikel en val? Verseker! Daar is egter niks soos die gevoel om in geloof, met God se hulp, die volgende tree te neem nie.
Sielskos: Eks 10-12; Joh 1:29-42; Ps 29; Spr 26:4-6