2018-10-19
Genesis 19:17 NLV
Een keer was daar vyf skepe, waarvan een Brits was, in die Wes-Indies in ‘n hawe geanker toe ‘n groot storm losgebars het. Die Britse kaptein het onmiddellik die anker opgetrek en uitgevaar om die storm te gaan ontmoet. Twee dae later, stukkend maar darem steeds in een stuk, het hy na die hawe toe teruggekeer en ontdek dat die skepe wat uit vrees vir die storm nie uitgevaar het nie, almal tot op die strand gedryf en vernietig is. Oor die algemeen, is die beste pad as leier vorentoe om die uitdagings kop eerste aan te durf en nie om te kyk nie. Die skrywer Jon Gordon wys ses belangrike dinge uit: 1) Wie jy is maak ‘n verskil. Mense volg die leier eerstens en sy visie tweedens. 2) Dit gaan alles oor verhoudings. Pastoor Andy Stanley het gesê, ‘Reëls sonder ‘n verhouding lei tot rebellie.’ Jy kan al die reëls in die wêreld implementeer, maar as jy nie ‘n verhouding met die mense wie jy lei ontwikkel nie, sal hulle rebelleer. 3) Dis gaan nie oor wat jy doen nie, maar wat jy ander kan inspireer, aanmoedig en bemagtig om te doen. Jy bring die beste in ander uit wanneer jy die beste in jouself met hulle deel. 4) Lei met optimisme, entoesiasme en positiewe energie. Vermy negatiwiteit en leer mense om op oplossings, nie klagtes nie, te fokus. 5) Erken dat jy nie al die antwoorde het nie en bou ‘n span mense wat of die antwoorde het, of die antwoorde sal vind. 6) Aanvaar dat sukses ‘n proses, nie ‘n bestemming nie, is. John Wooden, die legendariese basketbalafrigter, het besef dat oorwinning die gevolg van goeie leierskap, spanwerk, fokus, toewyding en die implementering van die basiese elemente, is.
Sielskos: Eks 33-35; Joh 4:27-38; Ps 32; Spr 27:1-3
2018-10-18
Matteus 25:21 ABA
Nicole Unice, die direkteur van die vrouebediening by Hope Church, sê: ‘Daar is idees wat ek weet voordelig sal wees en tog huiwer ek om te veel te deel of te groot te droom. Wat as dit nie werk nie? Of mense nie daarvan hou nie? Wat as die mense bo my wonder of hulle die regte besluit geneem het om my aan te stel? Een dag het ek op my kantoormuur geskryf: Wat daarvan as dit misluk? Wat begeer jy om te probeer, maar het dit nog nie gedoen nie omdat jy bang is dat jy sal misluk? Watter tegnologie vermy jy? Watter nuwe kennis ignoreer jy omdat jy oud en geroes voel? As jy nie iets op die horison het waarin jy dalk kan misluk nie, is jy besig om as leier te misluk. Tensy jy op innovasie en kreatiwiteit aandring, sal jy aanhou om dieselfde soort mense aan te trek. Wanneer jy met God se werk begin, sal jy grense moet verskuif en dinge moet probeer wat dalk sal misluk.’ John Mason skryf: ‘Moenie bang wees om te misluk nie. As jy nie misluk nie, groei jy nie. Wanneer suksesvolle mense ophou groei en leer, is dit omdat hulle nie meer bereid is om die gevaar van mislukking te loop nie. Ons almal maak foute – veral diegene van ons wat dinge doen. Soos Paulus sê, ‘Aan God kom ons dank toe – Hy wat aan ons die oorwinning… gee deur Jesus Christus ons Here!’ (1 Korintiërs 15:57 NLV). Mislukking is dikwels die eerste stap na sukses. Tensy jy bereid is om ‘n risiko te neem, sal jy nie die kans kry om sukses te behaal nie.’ Vertrou vandag op God en neem ‘n tree in geloof!
Sielskos: Eks 30-32; Joh 4:13-26; Ps 100; Spr 26:27-28
2018-10-17
Openbaring 21:27 DB
Een nag in 1912, het die Titanic, die grootste pasassierstoomskip in die wêreld wat deur baie mense as onsinkbaar geag is, ‘n ysberg getref en gesink. Baie mense is dood. Na die ramp was die toneel buite die White Star Line kantore in Liverpool een van angs en rou soos vriende en familie van die mense aanboord die gebou toegeswerm het. Aan beide kante van die hoofingang is plakkate opgesit. Een plakkaat is genoem ‘GERED’; die ander een het gesê, ‘VERLORE.’ Van tyd tot tyd het ‘n verteenwoordiger van die besigheid met ‘n stuk papier uitgeloop wat die naam van nog ‘n pasassier bevat het. Wanneer hy die papier opgehou het, het ‘n doodse stilte oor die skare geswiep soos die geliefdes van die vermiste mense gewag het om te sien op watter kant hy die naam sou opskryf. Die dag wat Jesus gekruisig is, het God uit die hemel afgekyk, ‘GERED’ op die kruis geskryf en begin om name in die Lam se boek van die lewe op te skryf. Die boodskap van die kruis het nie verander nie. Jy hoef nie ‘n geleerde te wees om dit te verstaan nie. Die meeste mense wat na Christus toe kom, weet inderwaarheid nie veel oor die Bybel nie. Al wat hulle weet, is dat hulle ‘n Redder nodig het en dat God vir hulle lief is. Al wat jy moet doen om die ewige lewe te verkry, is om jou van sonde te bekeer en jou vertroue in Jesus te plaas. Die oomblik wat jy dit doen, skryf God jou naam in die Lam se boek en word jy ‘n lid van sy familie, met ‘n gewaarborgde plek in die hemel. Dit kan vandag met jou gebeur.
Sielskos: Eks 28-29; Joh 4:1-12; Ps 89:38-52; Spr 26:23-26
2018-10-16
Eksodus 3:11 NLV
Toe God vir Moses sê dat Hy hom gaan gebruik om die Israeliete uit slawerny te bevry, het die gesprek so verloop: “‘Gaan nou! Ek stuur jou na die farao toe. Jy gaan my volk, die Israeliete, weglei uit Egipte.’ ‘Maar wie is ek dan om voor die farao te verskyn?’ het Moses vir God gevra… God het geantwoord: ‘Ek sal by jou wees…'” (verse 10-12 NLV). Moses het sy vrese en onsekerhede in een vraag opgesom, ‘Maar wie is ek dan…?’ Dis egter die verkeerde vraag. Dit gaan nie oor wie jy is nie, maar Wie s’n jy is! Daardie dag het God sy naam, ‘Ek Is,’ aan Moses geopenbaar. Sy naam is die oplossing tot elke probleem en die antwoord op elke vraag. Sy naam kalmeer elke vrees, beseël elke gebed en wen elke stryd. By die aanhoor van sy naam, kniel engele en sidder demone. Deur sy naam is ons sonde oorwin en word ons outoriteit bekragtig. Wie jy is, is absoluut irrelevant. God gebruik ons nie oor wie ons is nie, maar ten spyte daarvan. Dis nou nie asof die hemel bankrot gaan speel as jy nie jou tiende gee nie. As jy jou talente vir iets anders inspan, is dit ook nie asof die koninkryk van God dan ten gronde sal gaan nie. Maar vir redes wat eers in die hiernamaals geopenbaar sal word, het God besluit om sy doelwitte deur gewone mense soos ons, te bereik. Is jy bang om in geloof uit te tree, vir ingeval jy misluk? Lyk die situasie vir jou onmoontlik? Dis nie vir God nie. Vertrou Hom, staan op sy belofte: ‘Ek sal by jou wees…,’ en beweeg vorentoe!
Sielskos: Eks 25-27; Joh 3:22-36; Ps 89:15-37; Spr 26:20-22
2018-10-15
Psalm 103:13 DB
Om God as ‘n liefdevolle Vader te sien, mag dalk nie maklik kom as jy die littekens van ‘n verwaarloosde of mishandelde kindertyd met jou saamdra nie. Miskien het jy so baie onvervulde behoeftes in jou kindertyd gehad: liefde, sekuriteit, vertroue, gemak, materiële noodsaaklikhede, ens, dat jou gebrek aan hierdie dinge dit vir jou moeilik maak om te glo dat God aan al jou huidige behoeftes sal voorsien. Wat moet jy doen? Erken dat jou beeld van ‘n vader foutief is en dat dit op geen manier na jou hemelse Vader aard nie. Selfs die beste aardse vader kan nie teen Hom opgemeet word nie. Hy wil hê dat jy Hom as ‘n Vader wat omgee, sensitief, vrygewig, betroubaar en liefdevol is, sal benader. Dis hoekom Jesus ons geleer het om Hom ‘Ons Vader’ te noem, nie net ‘Almagtige God en Here’ nie. Soos ‘n goeie vader, verstaan God jou behoeftes en maak ten volle voorsiening daarvoor (sien Matteus 6:25-34). Net soos ‘n goeie ouer die unieke karaktereienskappe van elk van sy kinders herken, so ken Hy jou kenmerkende persoonlikheid, gawes, gedagtes en emosies. ‘Net soos ouers hulle kinders met groot liefde versorg, so versorg die Here elkeen wat Hom dien met arms vol liefde. Die Here weet hoe swak en vol foute ons is. Hy weet dat ons maar net klein en swak mensies is’ (Psalm 103:13-14 DB). God se sorg is nommerpas vir jou spesifieke gawes – en jou swakpunte. Soos ‘n liefdevolle vader aanvaar en vervul Hy sy verantwoordelikheid om vir jou te voorsien. Wat is jou rol in hierdie verhouding? Om soos die kind van ‘n betroubare, vrygewige, liefdevolle Vader op te tree!
Sielskos: Eks 22-24; Joh 3:1-21; Ps 89:1-14; Spr 26:17-19
2018-10-14
Johannes 8:27 NLV
Die mense in Jesus se tyd het dit moeilik gevind om die konsep van God as ‘n Vader te begryp. Heerser, koning, regter, het hulle verstaan – maar nie Vader nie. Die Ou Testament praat selde van God as ‘n Vader, terwyl die Nuwe Testament dit gereeld noem. Totdat Jesus gekom het en die Vader geopenbaar het, het Hy ‘n raaisel gebly. ‘…En niemand ken die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun die Vader wil bekendmaak’ (Matteus 11:27 NLV). Baie van ons kan steeds nie sy Vaderskap en die ryke seën wat ons in Hom het, begryp nie. ‘Vader,’ God se allesomvattende naam, inkorporeer alles wat ons ooit sal nodig kry, terwyl dit onthul hoe Hy teenoor elkeen van ons voel. Dit verteenwoordig elke eienskap van die beste pa ooit. Dink wat ‘n liefdevolle, almagtige vader alles vir ‘n behoeftige kind sal doen. Jou hemelse Vader sal dit alles vir jou doen – en nog meer! Wanneer jy God as jou Vader herken, sal jou vrese verdwyn en sal jy begin glo dat daar ten volle aan al jou behoeftes voldoen sal word. Jesus het gesê, ‘Moet dus nie bang wees nie… Want dit maak julle Vader baie gelukkig om die koninkryk aan julle te gee’ (Lukas 12:32 NLV). Dit maak God gelukkig om aan jou die hulpbronne van sy koninkryk te gee! Hoekom? Omdat Hy jou net so liefhet soos Hy sy Seun Jesus liefhet! Jesus het gebid dat jy met vertroue kan weet dat ‘…U hulle liefhet net soos U My liefhet’ (Johannes 17:23 NLV). As sy verloste kind, het jy al die voordele daaraan verbonde wat lidmaatskap ‘…van God se huis’ (Efesiërs 2:19 NLV) meebring.
Sielskos: Heb 11:22; Gen 39:1-23; Gen 45:1-11; Gen 50:15-26