2018-10-25
1 Korintiërs 9:27 NLV
Kunstenaars: Kunstenaars is nie net lief vir skoonheid en sien dit op plekke waar ander mense dit nie sien nie, hulle het ook die unieke gawe om dit te skep. Hulle druk hulle individualiteit in helder manier wat ons almal verryk, uit. Hulle bring kleur en flair aan ‘n wêreld wat andersins maar vaal sou wees. Omdat niemand van ons egter in die ideale wêreld van ons verbeelding kan leef nie, is kunstenaars soms nie toegerus om in die regte lewe met sy probleme en druk te leef nie. Dieselfde sensitiwiteit wat hulle kreatief maak, maak hulle soms slawe van die emosionele op-en-af wat ander mense afskrik en op die ou einde die kunstenaar self vernietig. Van Ernest Hemingway tot Elvis Presley, vertel die geskiedenisboeke hierdie verhaal. Koning Dawid was kunstig. Hy was ‘n talentvolle digter, danser en het baie liedere gekomponeer. Sy onvermoë om egter sy drange te beheer, het op ‘n affair uitgeloop wat tot moord en die verwoesting van sy familie gelei het. Verstaan een ding: Elke sterkpunt wat God jou gee, het ‘n ooreenstemmende swakheid wat geïdentifiseer moet word en op die regte manier hanteer word. Hoe meer talentvol jy is, hoe meer gedissiplineerd moet jy wees. Paulus was wys genoeg om sy eie neigings te herken: ‘Ek brei my liggaam en dissiplineer dit om werklik bruikbaar te wees. Ek wil tog nie, terwyl ek vir ander gepreek het, self deur God gediskwalifiseer word nie.’ Die laaste paar dekades het bewys dat selfs mense vir wie God die gawe gegee het om groot kerke te bou en groot bedienings te lei, nie immuun teen versoeking is nie. Waar daar groot talent is – is daar groot versoeking. Waar vind skape hulle grootste veiligheid? Deur naby aan hulle herder te bly. Doen dit vandag!
Sielskos: Jes 8-11; Joh 6:1-24; Ps 126; Spr 27:17-19
2018-10-24
Filippense 2:5 NLV
Presteerders: Presteerders is lief daarvoor om struikelblokke te oorkom en voor ander mense op te tree. Ten beste is hulle gemotiveerd om te groei, te strek en te leer. Hulle inspireer mense om aksie te neem en geniet dit om voor skares op te tree. Om ‘n praatjie te gee, gee hulle energie. Sonder ‘n geleentheid om te ontwikkel en te skyn, verloor hulle hulle motivering. Presteerders wil ‘n impak maak, kan in die versoeking kom om vir die beeld wat hulle uitstraal te leef en op die ou einde hulle eie optrede te verafgod. Hulle is geneig om sukses in terme van applous en erkenning te meet. Toe Johannes die Doper van Jesus gesê het, ‘Hy moet in belangrikheid toeneem en ek moet afneem’ (Johannes 3:30 NLV), het hy die tipe oorgawe wat moeilik vir ‘n presteerder is, gedemonstreer. Simon Magus het gedink dat hy ‘n wonderbaarlike bediening soos Petrus s’n kon koop en het Petrus geld aangebied vir die vermoë om aan ander die Heilige Gees te kan gee (sien Handelinge 8:18-22 NLV). Net so kan ‘n ongeredde presteerder iets wat lyk of dit God dien, verander in iets wat homself dien. Vir baie van ons is ‘…die sonde wat so maklik ‘n houvas op ‘n mens kry…’ (Hebreërs 12:1 NLV), trots. Terwyl presteerders die vermoë het om groot dinge te doen en die lewens van ander te verryk, kan hulle ook op hulle eie beeld en sukses gefokus raak. Wat is die antwoord? Paulus sê: ‘Moet niks uit selfsug doen of om daarmee te spog nie. Wees eerder nederig deur van jou medegelowiges meer te dink as van jouself. Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange. Julle gesindheid moet soos Jesus Christus s’n wees’ (Filippense 2:3-5 NLV).
Sielskos: Jes 4-7; Joh 5:31-47; Ps 5; Spr 27:13-16
2018-10-23
Efesiërs 6:7 NLV
Dienaars: Dienaars is mal daaroor om benodig te word. Hulle is natuurlike versorgers wat jou kussing sal oppof selfs wanneer dit nie nodig is nie! Hulle onthou verjaarsdae en huweliksherdenkings en is dikwels die eerste een om van die tafel af op te staan om die skottelgoed te was. Hulle is die meeste op hulle gemak wanneer hulle iets het om te doen. Alhoewel hulle aangetrokke daartoe is om ander mense te help, spruit dit egter dikwels uit hulle eie behoeftigheid uit. Net onder hulle diensbaarheid loer daar soms ‘n swak selfbeeld uit wat gevoed moet word. Omdat dit nooit ten volle bevredig kan word nie, dreineer hulle op die ou einde ander mense. Marta is ‘n goeie illustrasie hiervan. Terwyl sy besig was om te bedien, het haar suster Maria by Jesus se voete gesit (sien Lukas 10:38-42). Aan die positiewe kant, demonstreer dienaars liefde in aksie en laat ander mense versorg voel. Aan die negatiewe kant, gebruik hulle dikwels hulle bediening om ander mense te manipuleer. Die probleem kom in wanneer jy hulle las wil verlig en hulle jou nie wil toelaat nie. Hulle ingebore vrees om nie benodig te word nie maak dit vir hulle onmoontlik om gesonde grense daar te stel. Wat is dus die antwoord? a) Maak seker dat jou eerste prioriteit is om God, nie mense nie, te dien. ‘Doen julle werk entoesiasties, asof julle dit vir die Here doen en nie vir mense nie.’ b) Verstaan dat jou beloning van God kom, nie van ander mense nie. ‘Julle weet mos dat die Here elke mens wat sy werk goed doen, sal beloon…’ (Efesiërs 6:8 NLV). c) Moenie kla nie. ‘Doen alles sonder kla of teëpraat. Dan sal julle as onberispelike kinders van God bo verdenking staan…’ (Filippense 2:14-15 NLV).
Sielskos: Jes 1-3; Joh 5:16-30; Ps 15; Spr 27:10-12
2018-10-22
Efesiërs 4:32 NLV
As gevolg van die manier wat ons aanmekaar gesit is, vind ons onsself tot sekere sondes aangetrokke. Gevolglik is ons areas van swakheid dikwels konsekwent en voorspelbaar. Dis soos om ‘n ‘sondeprofiel’ te hê. In sy boek, Signature Sin: Taming Our Wayward Hearts, identifiseer dr Michael W. Mangis nege van hierdie patrone, deur ‘n antieke sisteem genaamd die Enneagram te gebruik. Dis ietwat kontroversieel omdat dit deur baie geestelike tradisies gebruik word. Daar word egter geglo dat dit uit die sewe dodelike sondes en die vrug van die Gees sy oorsprong het, dus kan dit ook binne ‘n Christelike raamwerk toegepas word. Kom ons kyk vir die volgende paar dae na hierdie nege sondepatrone en die mense wat heel waarskynlik daarmee sal sukkel, om jou sodoende te help om meer bewustelik te word en ‘n skans teen jou spesifieke area van weerloosheid op te bou. 1) Hervormers. Hervormers word deur perfeksie aangetrek. Hulle het ‘n hoë standaard van uitnemendheid en hulle grootste vrees is om swakplekke te hê. (Hulle maak goeie chirurge – en uitstekende gholfspelers). Op hulle beste is hulle kruisvaarders, waghonde en profete. Omdat hulle egter met perfeksionisme en self-regverdiging sukkel, is hulle geneig om ander wie se standaarde nie heeltemal so hoog is nie, te oordeel. Die profeet Amos is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Hy praat van ‘n ‘skietlood’ wat wys hoe ver mense van God se standaarde te kort skiet (sien Amos 7:7-8). Paulus het die hervormers aangespreek deur te sê, ‘Wees eerder vriendelik met mekaar. Gee vir mekaar om. Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het.’ As ‘n hervormer, is jou grootste uitdaging om liefde, geduld en genade aan diegene met wie jy omgaan, te demonstreer. Met God se hulp kan jy dit doen.
Sielskos: Eks 39-40; Joh 5:1-15; Ps 41; Spr 27:7-9
2018-10-21
Hebreërs 12:1 NLV
In sy boek, The Me I Want to Be, skryf John Ortberg dat ‘n ‘sondepatroon’ die sondes is wat jy gewoonlik aangetrokke tot voel. Dit beteken nie dat niemand anders hierdie sonde pleeg nie. Dit beteken net dat jy weerloos in daardie spesifieke area is. Gewoonlik is die patroon van jou sonde gelyk aan die patroon van jou gawes. Jou gawes en passies kan jou areas van weerloosheid aandui. Ekstroverte, byvoorbeeld, wat die vermoë het om ander te inspireer en te bemoedig, is soms geneig om te skinder. Mense wat daarvan hou om te leer mag dalk in die versoeking kom om te dink dat hulle beter is as ander en na ander mense afpraat. Mense wat spontaan is en ‘n groot aptyt vir die lewe het, sukkel dikwels met impulsbeheer. Goeie luisteraars kan passiewe goedkeuring gee. Optimiste is dikwels vatbaar vir ontkenning. Die Griekse mitologie praat van die nemesis (‘n vyand wat onoorwinbaar lyk). Sherlock Holmes se nemesis was byvoorbeeld professor Moriarty, ook ‘n briljante man. Hy was hoe Holmes sou wees as sy donker kant oorwin het. Omdat daar ‘n verhouding tussen die beste en die slegste weergawes van jou is, is jy in baie areas van jou lewe jou eie nemesis. Hoekom is dit goed om dit te weet? Omdat bewustheid en sensitiwiteit vir jou eie neigings die eerste stap is om ‘n verdediging daarteen te bou. Ons het ‘n verbysterende kapasiteit vir self-misleiding en self-regverdiging. Jesus het sorglose, koue gelowiges in die eindtyd se kerk aangespreek en vir hulle gesê om ‘…oogsalf [die Heilige Gees]… aan jou oë te smeer sodat jy kan sien’ (Openbaring 3:18 NLV).
Sielskos: Hand 13:21-22; 1 Sam 16; 1 Sam 17:32-51; 1 Sam 24:1-17
2018-10-20
Eksodus 4:2 NLV
Die Bybel sê, “Moses het egter nog verder teëgestribbel: ‘Hulle sal my nooit glo nie! Hulle sal nie doen wat ek vir hulle sê nie. Hulle sal sommer sê: ‘Jy het nie regtig die Here ontmoet nie.'” Toe vra die Here vir hom: ‘Wat het jy daar in jou hand?’ “‘n Herderstok,’ antwoord Moses. ‘Gooi dit op die grond neer,’ het die Here vir hom gesê. Hy gooi dit toe op die grond en dit het ‘n slang geword…” (verse 1-3 NLV). Om jou herderstok, die ding waarop jy leun, neer te gooi, is vreesaanjaend en teen al jou beginsels wanneer jy ‘n beheervraat is. Solank as wat jy egter daaraan vasklou en dit probeer beheer, kan God dit nie gebruik nie. Moses se herderstok het sy identiteit en sekuriteit verteenwoordig. Dis hoe hy ‘n lewe as ‘n herder gemaak het en homself en sy kudde beskerm het. Toe God dus vir hom sê om dit neer te gooi, het Hy vir Moses gevra om dit wie hy was en dit wat hy gehad het, te laat gaan. Wat is jy nie gewillig om van af te sien nie? Jy beheer nie dit waaraan jy vashou nie, dit beheer jou. As jy dit nie neergooi nie, sal jou herderstok altyd net ‘n herderstok bly. As jy egter die moed het om dit aan God oor te gee, kan dit die geleier van sy wonderbaarlike mag word. Wat is vandag in jou hand? Jy kan daaraan vasklou en kyk wat jy daarmee kan doen, of jy kan dit oorhandig en sien wat God daarmee kan doen. Laat God dit wat jy reeds het, vandag gebruik.
Sielskos: Eks 36-38; Joh 4:39-54; Ps 87; Spr 27:4-6