Jou sondepatroon (5)

2018-10-25
1 Korintiërs 9:27 NLV

Kunstenaars: Kunstenaars is nie net lief vir skoonheid en sien dit op plekke waar ander mense dit nie sien nie, hulle het ook die unieke gawe om dit te skep. Hulle druk hulle individualiteit in helder manier wat ons almal verryk, uit. Hulle bring kleur en flair aan ‘n wêreld wat andersins maar vaal sou wees. Omdat niemand van ons egter in die ideale wêreld van ons verbeelding kan leef nie, is kunstenaars soms nie toegerus om in die regte lewe met sy probleme en druk te leef nie. Dieselfde sensitiwiteit wat hulle kreatief maak, maak hulle soms slawe van die emosionele op-en-af wat ander mense afskrik en op die ou einde die kunstenaar self vernietig. Van Ernest Hemingway tot Elvis Presley, vertel die geskiedenisboeke hierdie verhaal. Koning Dawid was kunstig. Hy was ‘n talentvolle digter, danser en het baie liedere gekomponeer. Sy onvermoë om egter sy drange te beheer, het op ‘n affair uitgeloop wat tot moord en die verwoesting van sy familie gelei het. Verstaan een ding: Elke sterkpunt wat God jou gee, het ‘n ooreenstemmende swakheid wat geïdentifiseer moet word en op die regte manier hanteer word. Hoe meer talentvol jy is, hoe meer gedissiplineerd moet jy wees. Paulus was wys genoeg om sy eie neigings te herken: ‘Ek brei my liggaam en dissiplineer dit om werklik bruikbaar te wees. Ek wil tog nie, terwyl ek vir ander gepreek het, self deur God gediskwalifiseer word nie.’ Die laaste paar dekades het bewys dat selfs mense vir wie God die gawe gegee het om groot kerke te bou en groot bedienings te lei, nie immuun teen versoeking is nie. Waar daar groot talent is – is daar groot versoeking. Waar vind skape hulle grootste veiligheid? Deur naby aan hulle herder te bly. Doen dit vandag!

Sielskos: Jes 8-11; Joh 6:1-24; Ps 126; Spr 27:17-19